• Login
  • Search Icon

Inset-oorsig

February 2015
image

CORNÉ LOUW, senior ekonoom: Bedryfsdienste, Graan SA

Is laer ruoliepryse = laer insetpryse?

Daar word wyd gespekuleer oor die impak wat noemenswaardige laer ruoliepryse op ander markte en kommoditeite kan hê. Markkommentators en veral insetmaatskappye sê mos altyd dit is as gevolg van die hoë ruolieprys dat insetpryse so styg, maar wat moet gebeur noudat die ruolieprys so skerp daal? Uit geskiedenis leer ons wel dat pryse baie moeiliker afkom as wat dit styg.

In hierdie artikel word gepoog om die direkte impakte wat laer ruoliepryse op produksie-insette kan hê, uit te pak en te verstaan.

Die ruolieprys het vanaf ‘n hoogtepunt per maand van 2 per vat in Junie verlede jaar tot ‘n gemiddeld vir Januarie tot dusver van per vat gedaal. Dit is ‘n daling van 54%.

Brandstofpryse

Plaaslike brandstofpryse word gereguleer en die prys daarvan (uitgesluit belastings en heffings) word op ‘n invoerpariteitsbasis van brandstofprodukte bereken. Hierop het die ruolieprys ‘n direkte impak. Só het die groothandelprys van diesel sedert Junie verlede jaar tot en met Januarie vanjaar met 20% gedaal (vanaf R12,76 per liter na R10,28 per liter).

Met die skryf van hierdie artikel (21 Januarie 2015) het die Sentrale Energie Fonds ‘n daling vir Februarie in die dieselprys van R1,04 per liter verwag. Dit sal die groothandelprys van diesel op R9,24 per liter te staan bring, wat ‘n daling van 28% sedert Junie verlede jaar weerspieël.

Die uiteensetting van ons brandstofpryse en die verswakking van ons wisselkoers het veroorsaak dat die 54%-daling in die ruolieprys nie heeltemal in plaaslike pryse weerspieël word nie. Van die groothandelprys van diesel vir Januarie vanjaar van R10,28 per liter, beslaan belastings en heffings R4,46 of 43%.

Hierdie gedeelte behoort dus nie saam met ruoliepryse af te kom nie; inteendeel, verdere verhogings word in April vanjaar verwag. Met ander woorde, die verlaging in ruoliepryse behoort net die oorblywende 57% te beïnvloed.

Kunsmispryse

Laer ruoliepryse behoort ‘n direkte impak op energieverwante kommoditeite, soos kunsmis te hê. Die ruolieprys kan ‘n direkte invloed op kunsmispryse op ‘n paar maniere hê:

  • Eerstens behoort ‘n laer ruolieprys (energieprys) die produksiekoste van kunsmis goedkoper te maak.
  • Tweedens behoort ‘n laer ruolieprys kunsmispryse oor die algemeen goedkoper te maak aangesien ‘n groot persentasie van die wêreld se kunsmis redelik ver vervoer moet word.
  • Derdens behoort dit ‘n direkte invloed op stikstofpryse (N) te hê. Ruoliepryse beïnvloed natuurlike gaspryse, wat die hoofgrondstof vir stikstofproduksie is (dit maak tussen 60% en 85% van totale produksiekoste van ammoniak uit). Laer ruoliepryse kan met ander woorde moontlik laer stikstofpryse tot gevolg hê (sien Grafiek 1 vir die korrelasie tussen die ruolieprys en natuurlike gaspryse en tussen die ruolieprys en ammoniakpryse in Grafiek 2).

image

image

Landbou-chemikalieë

Alle aktiewe bestanddele van plaaslike landbou-chemikalieë word ingevoer. Daar is ook heelwat landbouchemiese middels waar petroleumprodukte die basiese grondstof is vir die vervaardiging daarvan.

Ander insette

Weens die hoë vervoerkoste verbonde aan die meeste insette wat in Suid-Afrika gebruik word, behoort laer brandstofpryse die vervoerkomponent wat insetpryse opmaak, te verlaag. Omdat energiepryse oor die algemeen behoort te verlaag as gevolg van laer ruoliepryse, behoort dit ook die produksiekoste van die meeste insette te verlaag.

Opsommend

Hoewel ruoliepryse ‘n direkte impak op insetpryse kan hê, het elke inset ook sy eie vraag en aanbod-situasie wat pryse beïnvloed en nie uit die oog verloor moet word nie. Die wisselkoers gaan ook ‘n bepalende rol speel in terme van die mate waarin laer internasionale pryse na die plaaslike mark deurgegee word.

Omdat ‘n groot hoeveelheid van Suid-Afrika se insette ingevoer moet word en selfs plaaslik ‘n redelike vervoerkomponent in die koste ingebou het, kan laer ruoliepryse hierdie gedeelte goedkoper maak.

Dit is altyd moeilik om te bepaal wanneer die mark laer pryse gaan reflekteer. Markte is altyd geneig om stygende pryse vinniger deur te gee aan die verbruiker as dalende pryse – soos die Engelse dit noem: Pryse is downward sticky. Met ander woorde: Daar word verwag dat indien laer pryse deurgegee word aan die mark, dit eers ná ‘n paar maande sal gebeur.

Publication: February 2015

Section: On farm level

Search