• Login
  • Search Icon

Inset-oorsig

October 2015

image

CORNÉ LOUW, senior ekonoom: Bedryfsdienste, Graan SA

Ruilvoet in die graanbedryf: Insetpryse versus mieliepryse

Oor ‘n tienjaar-periode het die prys van kunsmis (ureum) met 92%, die dieselprys met 86%, trekkerpryse (70 kW - 80 kW) met 105% en saadpryse met 88% gestyg. Die mielieprys het gedurende hierdie tydperk met net 28% gestyg. Was dit nie vir ‘n verhoging in produktiwiteit nie, sou weinig graanprodusente nog winsgewend kon produseer.

Grafiek 1 wys hoe produktiwiteit in terme van opbrengste van mielies oor tyd verbeter het.

‘n Ruilvoetberekening is ‘n vinnige manier om ten toon te stel hoe die verhouding tussen insetpryse en mieliepryse oor tyd relatief tot mekaar verander het. Grafiek 2 tot Grafiek 5 toon die ruilvoet van verskillende insette teenoor die mielieprys oor tyd aan.

 

Inset-oorsig

Inset-oorsig

Inset-oorsig

Inset-oorsig

Inset-oorsig

Inset-oorsig

 

Mielie/diesel-ruilvoet

Grafiek 2 toon aan hoeveel ton mielies word benodig om ‘n 1 000 liter diesel aan te koop vanaf 1990/1991 tot 2015/2016. Uit die grafiek is dit duidelik (sien tendenslyn) dat die ruilvoet dramaties verswak het. In 1990 het dit ‘n produsent 2,5 ton mielies uit die sak gejaag om ‘n 1 000 liter diesel aan te koop, terwyl die ruilvoet vir die nuwe seisoen, 5,1 ton mielies is. Die gemiddelde ruilvoet vir hierdie tydperk is 4 ton mielies vir ‘n 1 000 liter diesel.

Mielie/ureum-ruilvoet

Grafiek 3 dui aan hoeveel ton mielies oor tyd nodig was om ‘n ton ureum aan te koop. Die gemiddelde ruilvoet sedert 1990 is 2,6 ton mielies vir ‘n ton ureum. In 1990 was dit 2 ton en vir die komende seisoen word ‘n ruilvoet van 3 ton mielies vir ‘n ton ureum verwag. In die 2008/2009-seisoen was die ruilvoet al selfs so hoog soos 6,1 ton mielies vir ‘n ton ureum.

Mielie/trekker-ruilvoet

Grafiek 4 toon aan hoeveel mielies benodig word om ‘n trekker van tussen 70 kW en 80 kW aan te koop. Vir die komende seisoen kan dit ‘n produsent 323 ton mielies uit die sak jaag om ‘n trekker van hierdie grootte aan te koop, terwyl dit 274 ton in 1990 was. Die gemiddelde ruilvoet sedert 1990 is 300 ton mielies vir ‘n trekker van tussen 70 kW en 80 kW.

Mielie/saad-ruilvoet

Grafiek 5 toon aan hoeveel ton mielies benodig word om 40 sakkies mieliesaad aan te koop vanaf 1990/1991 tot 2015/2016. Uit die grafiek is dit duidelik (sien tendenslyn) dat die ruilvoet dramaties verswak het sedert 1990. In 1990 het dit 23 ton mielies gekos om 40 sakkies mieliesaad aan te koop, terwyl dit ‘n produsent in die komende seisoen, 54 ton uit die sak kan jaag.

Om op te som

Oor tyd het insetpryse deurlopend toegeneem en die insetkosteknyptang raak gevolglik al hoe strammer. Insetprysbestuur bly ‘n kardinale been van ‘n winsgewende bestaan in die produksie van grane en oliesade.

Die ruilvoet is dus, tesame met produktiwiteit, van enorme belang vir die volhoubaarheid van graanproduksie in Suid-Afrika.

Publication: October 2015

Section: On farm level

Search