• Login
  • Search Icon

Inset-oorsig

May 2015
image

CORNÉ LOUW, senior ekonoom: Bedryfsdienste, Graan SA

Hoe vergelyk plaaslike en internasionale kunsmisprystendense?

Dit is veral wintergraanprodusente wat hierdie tyd van die jaar kunsmisaankope doen. Kunsmis as produksie-inset maak ongeveer 25% van ‘n koringprodusent se lopende produksiekosterekening uit. Dit is daarom belangrik dat produsente kompeterende pryse vir kunsmis moet betaal. Omdat Suid-Afrika so afhanklik is van kunsmisinvoere, is die verwagting dat plaaslike pryse, internasionale pryse sal navolg. Die vergelyking tussen plaaslike en internasionale pryse kan dus help om die kompeterendheid van die plaaslike kunsmismark te bepaal.

Tabel 1 en Tabel 2 dui aan wat met internasionale kunsmispryse in dollar- en in randterme oor ‘n jaartydperk gebeur het. Die waarde van die rand het met 15% vanaf ‘n jaar gelede teenoor die dollar verswak. Tabel 2 toon aan die groot impak wat ‘n verswakking in die wisselkoers op plaaslike kunsmispryse kan hê. Waar ureum byvoorbeeld op internasionale markte skerp gedaal het, bring die verswakking in die wisselkoers mee dat in randterme dié prys in wese gestyg het.

image

image

Tabel 3 toon aan wat oor ‘n jaartydperk met plaaslike kunsmispryse (gemiddelde pryslyspryse) gebeur het. In dié tabel kan gesien word hoe plaaslike pryse op internasionale prystendense (Tabel 2) en die wisselkoers gereageer het. Oor ‘n jaartydperk het plaaslike stikstofpryse (KAN en ureum) marginaal gedaal, terwyl internasionale stikstofpryse (ammoniak en ureum) in randterme gestyg het.

image

Wanneer die tendens van plaaslike MAP-pryse met internasionale DAP-pryse vergelyk word, kan gesien word dat plaaslike pryse groter stygings as internasionale pryse getoon het, terwyl kaliumchloriedpryse in die plaaslike mark weer minder as internasionale pryse gestyg het. Grafiek 1 tot Grafiek 4 toon ook grafies aan hoe plaaslike prystendense internasionale prystendense navolg.

image image

image image

Produsentepryse

Soos genoem, is die bostaande plaaslike tendense gebaseer op gemiddelde pryslyspryse. Daar is by ‘n paar koringprodusente in die Kaap gaan aanklop om uit te vind of die bostaande tendense strook met dit wat hulle fisies vir kunsmis op die plaas betaal het in vergelyking met verlede jaar. Stikstofbronne (N) het op ‘n gemiddelde basis met 6,9% gedaal sedert verlede jaar – wat redelik goed vergelyk met die afname wat in pryslyspryse waargeneem is. Fosfaatbronne (P) het op ‘n gemiddelde basis met 10,3% gestyg teenoor verlede jaar op plaasvlak – dit vergelyk ook goed met die tendens op pryslyspryse waargeneem. Kaliumchloriedpryse (K) het op ‘n gemiddelde basis met 8% teenoor verlede jaar gestyg, wat baie goed vergelyk met die 8,1%-styging wat in gemiddelde pryslyspryse waargeneem is.

Publication: May 2015

Section: On farm level

Search