• Login
  • Search Icon

In die hartjie van die saad slaap die reus

November 2012

ELMARIE SCHOEMAN, SA GRAAN/GRAIN MEDEWERKER

image

Produsente se wegspringblokke is vir die opkomende plantseisoen afgestof tydens Monsanto se somerplanterkonferensie wat op 19 September op NAMPO Park gehou is. Kwessies soos saadgrootte, verbetering van planterprestasie en die agronomiese aspekte van inokulasie is deur die onderskeie sprekers aangeraak.

Volgens Andrew Bennet van Monsanto, is daar ‘n wanpersepsie dat saadgrootte die groeipotensiaal van die plant beïnvloed. Hy is van mening dat saadgrootte en vorm nie met genetiese opbrengspotensiaal onder normale plantomstandighede verband hou nie.

Bennet het oor die jare bevind dat groot saad geneig is om stadiger te ontkiem omdat hulle meer vog absorbeer. “Dus sal klein saad vinniger in droë toestande ontkiem. Wanneer dit koud is, sal klein saad weer langer vat om te ontkiem as groot saad. Hierdie faktore beïnvloed egter nie die genetiese potensiaal van die saad nie en dus ook nie die finale opbrengs nie,” het hy gesê.

Hy het ook aan die onderwerp van planterverstellings geraak en genoem dat dit beter is om ‘n skyf met kleiner selle en ‘n hoër vakuumdruk te gebruik omdat dit sal voorkom dat saad oorgeslaan word, of dat daar dubbeld geplant word.

John Larkin van Precision Planting het stappe tot beter planterprestasie bespreek om sodoende klein verbeterings aan te bring wat ‘n groot impak op spasiëring en mielieprestasie het. Volgens hom is dit onder andere nodig om seker te maak dat die planter gelyk staan en om jou meters te kalibreer. Hy het ook die verskillende tipes planters en die akkuraatheid van elkeen bespreek.

Dan Custis van Advanced Biological Marketing (ABM) het die agronomiese aspekte van inokulasie en die voordele wat Bradyrhizobium en Trichoderma vir die produsent inhou, onder andere hoë opbrengs en laer insetkoste, bespreek.

Trichoderma is deel van ‘n groep swamme wat natuurlik in die grond voorkom waar dit ‘n verskeidenheid funksies vervul. Bradyrhizobium behoort tot die rhizobium-groep stikstofbindende bakterieë wat verantwoordelik is vir die omskakeling van atmosferiese stikstof na plantopneembare stikstof.

Van ABM se produkte, naamlik Graph-Ex en Excalibre, wat vir sojabone gebruik word, bevat spesifieke Trichodermas wat wortelontwikkeling stimuleer en ‘n groter wortelvolume en dus beter benutting van vog en voedingstowwe tot gevolg het. Dit bevat ook spesifieke Trichodermas wat die plant se stresweerstandigheid verhoog en siektes in die wortelsone onderdruk. SabrEx vir onderskeidelik mielies en sonneblom, bied ook ‘n gemiddelde opbrengsverhoging van 5% - 10%.

Publication: November 2012

Section: Other Articles

Search