• Login
  • Search Icon

Honde is nou baas van dié plaas — nie meer jakkalse nie

November 2011

image

ELMARIE SCHOEMAN, SA GRAAN/GRAIN MEDEWERKER

Wanneer ‘n produsent ‘n probleem op sy plaas ondervind, maak hy ‘n plan, soos die ou gesegde lui. As die plan nie werk nie, probeer hy ‘n nuwe plan, totdat hy een kry wat sy probleem kan oplos. Vir mnr Jan van Biljon van Viljoenskroon was sy oplossing, al die pad van Australië, vir hom soos manna uit die hemel.

Probleemdiere het vir lank gemaai onder die skape op sy plaas, Niekerksrust, en al het Van Biljon die jakkalse self probeer bestry, was dit nie altyd suksesvol nie, soos enige skaapboer weet.

Hy het van die Anatoliese herdershond te hore gekom. Dié hond is van Turkse afkoms en oorspronklik geteel om kleinvee teen roofdiere te beskerm. In Turkye word die Anatoliese herdershond vir die afgelope 6 000 jaar as kudde-waghond gebruik.

Toe die jakkalse later erg onder sy skape begin maai, het hy en ‘n produsent van Bloemfontein saam Anatoliese herdershonde vanaf Australië ingevoer.

Sedertdien is Van Biljon se probleem iets van die verlede. Hy kan nou oral op sy plaas met sy skape boer en nie net waar hy elke dag kan kyk of alles wel is, soos eers nie. Sommige troppe besoek hy nou slegs twee keer per week, waar hy voorheen bykans elke dag by hulle ‘n draai moes maak.

Hy het al menigte honde aan ander produsente verkoop en elkeen het ‘n suksesverhaal om te vertel. Hy deel graag staaltjies van tevrede kopers wat nou sonder twyfel kan sê dat hulle skape veilig is onder die waaksame oë van dié besonderse honde. Van Biljon bied ook ‘n naverkoopdiens: die koper kan hom altyd skakel vir raad en hy skroom nie om uit sy pad uit te gaan om enige probleme aangaande die honde op te los nie.

Hondjies word saam met die skape groot

“Hulle word in die skaapkraal gebore, wat hulle dadelik aan die reuke en klanke van die skape bekendstel,” sê Van Biljon. Wanneer die hondjies oud genoeg is, word hul by ‘n skaaptrop geplaas waar dit dan altyd bly. Hulle leef en slaap saam met die skape in hulle kampe. Skape gaan daarom nie saans kraal toe nie, wat beteken dat hulle regdeur die nag ook kan eet en dus produksie verhoog.

Volgens hom moet die honde aan ander honde op die erf gewoond wees, maar nie toegelaat word om sosiaal met hulle te verkeer nie. “Kontak met mense, veral kinders en vrouens, moet ook nie te veel aangemoedig word nie, omdat hulle baie geheg raak en dan nie hulle werk wil doen nie,” sê hy.

image

Versorging

Van Biljon se honde kry goeie, gebalanseerde hondepille in ‘n selfvoerder wat naby hulle onderskeidelike kampe is. Hy lê baie klem op die kwaliteit van die honde se kos omdat dit volgens hom onwenslike gedrag voorkom: “Wanneer ‘n hond honger is of ‘n tekort het, gaan hy begin jag en nie sy werk doen nie. My honde kry twee keer ‘n week pap en melk.

“Hulle het as klein hondjies pap en melk gekry en dit is my manier om vir hulle te sê ‘ek weet jy is hier en ek waardeer die werk wat jy doen’.”

Wat gesondheidsorg betref, kry die honde al hulle nodige inentings en ontwurmings op tyd. Hulle word ook so veel as moontlik bosluisvry gehou.

Wy sy lewe aan die veiligheid van sy kudde

Volgens Van Biljon is hulle nie aggressiewe honde wat vir geen rede sal aanval nie, hulle sal eers waarsku. “Wanneer iemand of iets vreemds naby die trop kom, sal die hond jou waarsku. As jy wegbeweeg sal hy niks maak nie, maar wanneer jy tussen sy skape inbeweeg, sal hy jou aanval. Hy sal tot die dood baklei vir sy skape.” Jakkalse en roofdiere waag dit nie naby nie.

Hulle sal nie agter ‘n roofdier aanhardloop om hom aan te val nie, omdat sy trop dan alleen sal wees. ‘n Hond wat dus toegelaat word om wild te jaag, sal nie by sy kudde bly om hulle te beskerm wanneer hulle sonder toesig in die veld is nie.

Op die vraag hoe ‘n mens al hierdie dinge vir die honde leer, antwoord hy eenvoudig: “Dis pure instink.”

Oor die algemeen is die Anatoliese herdershond ‘n vriendelike en lojale dier wat met ‘n stertswaai kom groet wanneer Van Biljon uit sy bakkie klim. Die honde is baie waaksaam. “Hulle merk dadelik op wanneer daar ‘n vreemde voertuig op die plaas rondry,” sê hy.

Teen R140 (dit is wat elke hond hom per maand kos) kan hy nou met sekerheid sê dat dit die beste transaksie is wat hy al ooit beklink het. “Hy loop soos ‘n hond, hy lyk soos ‘n hond, hy eet soos ‘n hond, hy doen alles soos ‘n hond, maar hy is nie ‘n hond nie – hy is ‘n wagter.”

Publication: November 2011

Section: Input Overview

Search