• Login
  • Search Icon

Hoeveel moet ek vir 'n bul betaal?

October 2016

PIETMAN BOTHA, SA Graan/Grain medewerker

As jy met beeste boer, gaan jy heel waarskynlik een of ander tyd 'n bul benodig. Om te besluit hoeveel om vir die dier te betaal, is egter 'n uitdaging.

Gewoonlik is goedkoop koop, duur koop en duur koop is nie noodwendig reg koop nie. Elke produsent sal self moet besluit wat hy bereid is om vir so 'n dier te betaal. Daar is sekere riglyne wat gebruik kan word, maar vraag en aanbod is gewoonlik die bepalende faktor.

Met die aankoop van 'n bul, moet 'n mens besef dat die bul die helfte van die kalwers se genetiese vermoëns verskaf en dat die bul se gene binne drie jaar in jou teelmateriaal opgeneem sal wees. Die waarde van die bul sal dan eers regtig na vore kom.

Of die bul nou goeie genetika besit of 'n swak presteerder is, sy genetika sal in die kudde oorgedra word. Daarom sal 'n goedkoop en verkeerde bul dalk die duurste bul wees wat jy ooit gekoop het en die duur, maar regte bul dalk die goedkoopste wees wat jy ooit gekoop het.

Stel só vas wat die bul se waarde is

Daar is verskeie maniere om die waarde van 'n bul te bereken. Die gemiddelde prys wat vir 'n spesifieke ras se bulle oor 'n spesifieke tydperk betaal is, kan as 'n basis gebruik word. Tog is daar ook nog heelwat ander maniere om die 'n bul se waarde te kwantifiseer.

'n Goeie duimreël is die gebruik van die waarde van agt speenkalwers of die gebruik van die waarde van vyf vetgemaakte koeie. Hierdie is egter net riglyne en daar is groot variasies op die metodes. Daar is selfs internasionale syfers daarvoor beskikbaar.

Ten einde 'n akkurate berekening van 'n stoetbul se waarde te maak, is dit belangrik dat die teelwaardes en veral die genetiese waarde of best linear unbiased predition (BLUP)-teelwaardes beskikbaar moet wees. Hierdie waardes word al vir jare wêreldwyd gebruik om bulle met mekaar te vergelyk.

BLUP-teelwaardes is 'n wetenskaplik-gebaseerde genetiese beraming van hoe die bul se nageslag gaan presteer. Om deurentyd genetiese verbetering in die kudde te bewerkstellig, moet die nuwe bul beter wees as die vorige bulle. Hy moet ook inpas by die koeie se genetika én jou boerderydoelwitte.

Die enigste manier om dit te bewerkstellig, is om die teelwaardes te vergelyk. Op dié manier kan bulle van dieselfde ras, wat in verskillende jare en kuddes gebore is, met mekaar vergelyk word. Die koper het derhalwe 'n hulpmiddel om hom hierin te ondersteun.

Dit is baie belangrik dat jy as koper en/of verkoper moet weet wat jy koop en/of verkoop. Jy as koper moet weet watter eienskappe jy in jou kudde benodig. Met hierdie kennis kan jy die beste bul volgens jou boerdery se behoeftes kies.

As jy 'n behoefte aan vinniggroeiende speenkalwers het, kan jy 'n bul kies wat aan hierdie vereistes voldoen. Dit maak nie sin om hierdie syfers buite rekening te laat en 'n bul bloot met die oog te koop nie.

Voldoen die bul hieraan?

Dit help boonop niks as jy 'n bul koop wat aan al jou vereistes voldoen, maar hy het nie die "woema" om sy werk te doen nie. Die bul is daar om kalwers te produseer en hoe meer kalwers hy verwek, hoe goedkoper is die bul se koste per kalf en hoe groter is sy ekonomiese bydrae.

Om baie kalwers te produseer, moet die bul veral aan die volgende vereistes voldoen:

  • Hy moet gemaklik loop en kan dek en moet daarom struktureel korrek wees.
  • Die bul moet oor 'n korrek-gevormde, groot skrotum sonder vetaanpaksel om die skrotum-nek beskik.
  • Die bul moet oor die libido of "die wil om te dek" beskik.
  • Die bul moet gesond wees om vrugbare, "sterk" en gesonde sperm te kan produseer.

Maak seker dat die bulle deur 'n rasgenootskap-kenner goedgekeur is en betaal 'n veearts om die ander aspekte te toets.

Jy as koper moet ook veral aandag gee aan eienskappe wat van ekonomiese belang is, soos: Kalfpersentasie, voerdoeltreffendheid, moeder-eienskappe, karkasgehalte en uitslagpersentasie. Die skouerhoogte en die liggaamslengte – wat die raamgrootte van die dier aantoon – is net so belangrik.

Dit is hierdie aspekte wat jou produk gaan verkoop. As die bul gebruik gaan word om die koeikudde te verbeter, moet ook aandag gegee word aan:

  • Geboortegewig en speengewig van die bul – wat die maternale eienskappe van die moeder aandui.
  • Hoe maklik en hoe vinnig die kalwers gebore word.
  • Die speenmassa op 200 dae.
  • Die 400 en 600 dae massa van die bulle.
  • Gemiddelde daaglikse toename (GDT).
  • Kleiber-verhouding – wat die ekonomiese groeiwaardes aandui.
  • Volwassekoeimassa en hoeveel dae dit die bul se ma geneem het om die volwassekoeimassa te bereik.
  • Skrotumomtrek wat die vrugbaarheid van die diere aandui – wat ook geneties is.

As jy oor 'n gemiddelde kudde beskik, kan die kudde net verbeter word deur 'n bogemiddelde bul aan te skaf. Nou is die vraag: Hoeveel behoort jy vir daardie bogemiddelde bul te betaal?

Kom ons aanvaar die bul het die vermoë en die beraamde teelwaardes dui daarop dat die bul kalwers kan lewer wat gemiddeld 10 kg swaarder is as dié wat tans geproduseer word. Kom ons aanvaar ook dat die bul vir vier jaar in die kudde sal bly en dat die bul 25 koeie per jaar sal dek en dat die kalfspeenpersentasie 90% sal wees.

Dit beteken dat die bul in sy lewe 88 kalwers sal produseer – wat 'n addisionele 880 kg vleis produseer. As die addisionele vleis teen R20/kg verkoop word, sal dit R17 600 ekstra beteken. Die som stop egter nie daar nie. Kom ons aanvaar dat die bul die kudde se teelmateriaal verhoog het. Dan is die som amper onmoontlik om te maak.

Indien die gemiddelde bulpryse vir die ras vir die huidige jaar R30 000 beloop en jy betaal R40 000 vir die bul, is dit verseker 'n besondere goeie koop. Indien jy dalk R50 000 betaal, het jy nagenoeg net-net die waarde van die bul betaal.
As jy dus R40 000 vir die bul betaal het en die bul se slagwaarde is R10 000, is die bulkoste wat na elke kalf toe toegedeel moet word, ongeveer R341 of ongeveer 7% van die speenkalf se koste en bly dit steeds naby aan agt kalwers vir die bul.

Indien die bul daarby nog die vermoë het om een addisionele kalf per jaar te produseer, sal daar 'n addisionele R18 860 geproduseer word. Indien hierdie inkomste saam met die vorige inkomste getel word, kan jy vir hierdie bul met gemak R50 000 betaal. Dit beteken dat die bulkoste per kalf R435 is, of ongeveer 9% van die waarde van 'n speenkalf.

Goeie verhouding met verkoper

Die belangrikheid van 'n goeie verhouding tussen die koper en verkoper van bulle kan nie genoeg beklemtoon word nie. As die verkoper weet waarna jy soek, kan hy jou help om die regte dier te kies en kan hy sy bulle se prestasie in jou kudde beoordeel.

Verder kan die bulle dalk uit die hand by die verkoper gekoop word en kan die bulteler ook sy rigting van teling aanpas om in jou vraag te voldoen.

Opsommend

Hierdie paar feite in ag genome, maak dit ekonomiese sin om bulle met die regte teelwaardes te bekom en sodoende seker te maak dat die bulle jou kudde se genetika sal verhoog.

Pas jou bul op en maak seker dat die "baas van die plaas" sy taak met gemak kan verrig en uiteindelik jou winsgewendheid verhoog.

Daar is heelwat inligting wat by verskeie instansies beskikbaar is. Kontak gerus die Landbounavorsingsraad by Irene of die verskillende telersgenootskappe vir meer inligting óf die outeur by 082 759 2991.

Publication: October 2016

Section: Focus on

Search