• Login
  • Search Icon

Hoe om beeste reg in te spuit

March 2014

DANIE VAN ZYL, Kroonstad Dierehospitaal

Inspuitings is een van die beste maniere om medisyne vir beeste toe te dien. Antibiotika, anti-inflammatoriese produkte, entstowwe, ontwurmingsmiddels, vitamiene en hormone is van die middels wat deur middel van ‘n inspuiting gegee kan word.

Dit is egter belangrik om die korrekte metode te gebruik om goeie resultate te verkry sonder om die diere (of jouself) te beseer. Hier volg ‘n paar stappe om dit korrek te doen:

Lees die aanwysings op die etiket

  • Dit is baie belangrik om die regte inligting oor die produk te verkry. In die geval van entstowwe sal dit duidelik op die etiket aangedui wees hoe die produk vermeng en toegedien moet word, byvoorbeeld deur middel van binnespierse of onderhuidse inspuiting.
  • Daar sal inligting wees oor die volume wat toegedien moet word per kilogram of hoeveel entstof gegee moet word ongeag die gewig. Dit is uiters belangrik om die gewig van die dier te bepaal om te voorkom dat, byvoorbeeld jong kalwers, te veel van die middel ontvang.
  • Die etiket sal ook inligting bevat oor hoe gereeld en met watter intervalle die produk gebruik moet word.
  • Daar sal waarskuwings wees om aan te dui in watter gevalle die produk nie gebruik mag word nie, byvoorbeeld in dragtige beeste. Dit sal ook vleis- en melkontrekkingsperiodes aandui, wat van uiterste belang is.
  • Inligting oor hoe om die produk te berg en by watter temperatuur, sal ook op die etiket vervat word. Entstowwe word byvoorbeeld gewoonlik teen 4°C - 8°C gestoor, en sommige ander produkte by kamertemperatuur. Entstowwe moet ook nie gevries word nie.
  • Kyk na die vervaldatum op die etiket – betroubare resultate kan nie gewaarborg word as ‘n produk verouder is en nie korrek geberg is nie.
  • Indien daar enige onsekerheid oor ‘n middel is, kontak jou naaste veearts om die regte inligting te verkry.

Voorbereiding van die produk

  • In die geval van antibiotika moet die bokant van die bottel met alkohol skoongemaak word voordat die middel opgetrek word.
  • Gebruik slegs ‘n skoon, steriele naald en nie ‘n naald wat alreeds gebruik is om diere te spuit nie. Bakterieë kan so die produk binnedring en die kwaliteit en rakleeftyd verkort.

Gebruik skoon toerusting

  • Was jou hande voor en na hantering van produkte.
  • Gebruik weggooibare spuite en naalde vir behandelings en outomatiese spuite vir inentings, waar moontlik.
  • Moenie chemikalieë gebruik om spuite vir entstowwe uit te spoel nie, aangesien dit lewende entstowwe kan inaktiveer. Spoel spuite uit met kookwater voor en nadat dit gebruik is.
  • Vir ander middels kan ‘n ligte ontsmettingsmiddel gebruik word, maar die spuite moet deeglik met kookwater uitgespuit word nadat dit ontsmet is.
  • Gebruik skerp, steriele naalde vir individuele diere, of gebruik weggooibare naalde waar moontlik.
  • Gebruik een naald vir elke tien beeste as diere geënt word. Daar is siektes wat wel tussen beeste oorgedra kan word, naamlik galsiekte, knopvelsiekte en beesleukose.
  • Gebruik die kleinste deursnee naald om skade aan weefsel te voorkom.
  • Vir ‘n onderhuidse inspuiting: Gebruik 18G 1 duim tot halfduim naalde.
  • Vir binnespierse inspuiting: Gebruik 18G 1,5 duim naalde.
  • Vir kalwers: Gebruik ‘n korter naald – 21G 1 duim.
  • Spuit slegs 10 ml per inspuitingsplek vir binnespiers en tot 20 ml per plek as onderhuids gespuit word.

Mengproses

  • Moenie meer as een entstof kombineer en meng nie, tensy die instruksie op die pamflet dit so deurgee. Twee produkte verskil van mekaar ten opsigte van chemiese samestelling en pH, wat kan veroorsaak dat lewendige entstowwe geïnaktiveer kan word.
  • Meng slegs soveel entstof as wat benodig word en spuit dit dan op voordat nuwe entstof gemeng word.
  • Hou medisyne koel, veral entstowwe – by 4°C - 8°C.

Beperk diere in ‘n goeie drukgang

  • Hierdie maatreël voorkom beserings aan diere en verminder die risiko om beseer te word vir die persoon wat inspuitings toedien.

Binnespierse (intramuskulêre) inspuiting (IM)

  • Kies veral by voerkraalbeeste of beeste wat binnekort geslag gaan word, spiermassa wat minder waardevol is, byvoorbeeld die nekarea. In die geval van ouer diere kan die boudspier ook gebruik word.
  • Trek gelyke volume lug op en spuit dit in die bottel in om die middel makliker te onttrek.
  • Verwyder al die lug in die spuit deur die spuit te klop en dan die inspuiting te druk totdat al die lug uit is.
  • Gebruik ‘n 18G naald om diep in die spier te plaas en sodoende die vel en die subkutane (onderhuidse) weefsel te penetreer. Die naald moet loodreg wees ten opsigte van die dier.
  • Sit die naald eers in en kyk of daar nie bloed uitkom nie. As daar bloed uitkom, haal die naald uit en sit weer in op ‘n ander plek. Sekere middels kan die dier se dood veroorsaak as dit nie bedoel is vir binneaarse inspuiting nie.
  • Konnekteer die spuit deeglik en spuit die middel stadig in.
  • Indien inspuitings oor ‘n paar dae gegee moet word, moet die spiere waar dit toegedien word, afgewissel word.

Onderhuidse (subkutane) inspuiting (Sc)

  • Gee onderhuidse inspuiting halfpad in die nekarea voor die skouer of oor die ribbes agter die skouer.
  • Gebruik kort naalde – 0,5 duim tot 1 duim.
  • Tel die vel met die een hand op en spuit in onder die “tent” van die vel wat vorm, teen ‘n hoek van 30° - 45° in verhouding tot die dier (sien Figuur 1 en Foto 1).

image

image

Binneaarse (intraveneuse) inspuiting (IV)

  • Kry advies vanaf jou plaaslike veearts sodat hy/sy kan demonstreer hoe om dit te gee.
  • Dit word meestal gebruik om diere te ent met hartwaterentstof en om diere te behandel vir melkkoors. Sommige antibiotika kan ook binneaars toegedien word.

Nagevolge van swak inspuitingstegniek

  • Behandeling mag dalk nie suksesvol wees nie, omdat middel swak absorbeer wanneer dit nie op die korrekte plek gedeponeer is nie.
  • Middel kan dalk langer in die weefsel bly en gevolglik kan daar residue wees in die vleis of melk.
  • Diere se senuwee kan beskadig word, veral by jonger kalwers wat nie korrek ingespuit is nie.
  • Oormatige verlies aan spierweefsel by die slagpale weens absesse of littekens wat uitgesny moet word.
  • Diere kan in skok ingaan of selfs doodgaan as ‘n middel wat bedoel is vir onderhuidse inspuiting per ongeluk binneaars beland.
  • Mense kan hulself beseer of raakspuit.

Publication: March 2014

Section: Other Articles

Search