• Login
  • Search Icon

Hoe mikotoksiene ons beursies beroof

May 2015

BELINDA JANSE VAN RENSBURG, LNR-Instituut vir Graangewasse

Mikotoksiene (toksiene wat deur swamme geproduseer word) is van ekonomiese belang in koring, mielies, grond bone en ander neute asook koffie en wyn. Volgens die Food and Agriculture Organisation (FAO) word 25% van die wêreld se oeste jaarliks met mikotoksiene besmet.

Die belangrikste mikotoksiene in ons grane is fumonisiene, aflatoksiene, zearalenoon, nivalenol en deoksinivalenol (Tabel 1). In hierdie artikel gaan ons ekonomiese verliese as gevolg van plantsiektes, ‘n verlaging in graankwaliteit, mikotoksienbesmetting asook die newe-effekte daarvan in mens en dier bespreek.

image

Plantsiektes

Swamme wat mikotoksiene kan produseer is ook verantwoordelik vir wortel- en stamsiektes asook besmetting van graan. Wortelvrot vind dikwels ongesiens plaas en produsente is dus onbewus van die probleem. Geaffekteerde plante se wortelstelsels sal baie kleiner (Foto 1) wees, minder absorpsie van water en voedingstowwe sal plaasvind, met negatiewe gevolge op latere groei en graanvul. Stamvrot lei tot die afbreek van die stamweefsel (Foto 2) en dikwels ‘n verkleuring van die stamnodes. Die weefselstruktuur verswak en lei dan tot omval (Foto 3) van plante. Ekstra koste word dikwels aangegaan om die plante op te lig sodat die graan geoes kan word.

image

Verlaging in graankwaliteit

Wanneer ‘n swam graan infekteer, word die stysel van die graan afgebreek en dit lei tot swak graankwaliteit (Foto 4), ‘n swak graangradering en graanvragte wat selfs van die hand gewys kan word.

image

Mikotoksienbesmetting

Die voorkoming of vermindering van mikotoksiene begin reeds vanaf plant totdat die finale produk gereed is vir mens en dier om te gebruik. Daar moet op ‘n geïntegreerde bestuurstelsel staatgemaak word om mikotoksiene te verminder. Voorkomende praktyke kan toegepas word, soos onder andere saadbehandeling, die beheer van stamboorders (vektors van swamme), toediening van plantvoeding in die grond, aangepaste plantdigthede vir die spesifieke klimaat en kultivar, sanitasie (verwyder stoppel en ander plantmateriaal), minimum meganiese beskadiging van plante asook voldoende water.

Hierdie voorkomende praktyke sal veral help om die infeksie van F. verticillioides (produseer fumonisien) asook F. graminearum spp.-kompleks swamme (produseer zearalenone, nivalenol en deoxynivalenol) in graan te verminder. Die Aspergillus spp. (veroorsaak aflatoksiene) swam-infeksies kan problematies wees voor- sowel as na-oes.

Uit vorige navorsing het ons gevind dat kommersiële mielies veilig is rakende Aspergillus spp.-infeksie asook aflatoksiene. Daar is wel aflatoksienvlakke in bestaansboere se mielies gekwantifiseer (Makhanisi en Mbazwane in noordelike KwaZulu-Natal en Port Shepstone aan die KwaZulu-Natalse suidkus).

Hierdie vlakke van aflatoksiene was dan wel hoër as die toelaatbare vlakke vir menslike inname, soos bepaal deur die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid (tien dele per miljard), die Food and Drug Administration (FDA) (20 dele per miljard) en die Europese Kommissie (ses dele per miljard).

Die groot kopseer is egter die besmetting van graan voor- en na-oes. Daar word na raming miljard per jaar se verliese in Amerika gely as gevolg van mikotoksiene, waaronder aflatoksiene verantwoordelik is vir 5 miljoen se verliese. Hierdie koste word gedra deur graanprodusente (voorkomende maatreëls), veeprodusente (vertraagde groei, braking, siektes en abortering van diere) en graanhandelaars en -verspreiders (duur koste van mikotoksientoetse, bergingstoetstande tydens stoor en vervoer asook laer randwaarde vir gekontamineerde graan).

Verwerkers se onkoste sal in sommige gevalle sortering, detoksifisering, vermenging en fermentering insluit. Al hierdie opeenhopende onkoste word uiteindelik op die verbruiker afgewentel. Aan die einde van die dag betaal verbruikers duurder vir graan en graanprodukte (vir menslike en dierlike gebruik). Tans is daar nie wetgewing in Suid-Afrika vir die minimum toelaatbare vlakke rakende fumonisien, nivalenol en deoksinivalenol nie. Suid-Afrika volg die riglyne van die Food and Drug Administration van Amerika (FDA). Suid-Afrikaanse wetgewing bepaal ‘n minimum vlak van vyf dele per miljard (5 dpb) aflatoksien B1 in grondbone vir menslike gebruik (Tabel 1). Die minimum toelaatbare vlakke van mikotoksiene verskil van land tot land en dit het ook ‘n groot impak op die uitvoer van graan en voedselprodukte.

Die Europese Unie het byvoorbeeld ‘n minimum toelaatbare vlak van 2 dpb aflatoksien B1 in grondbone. ‘n Grondboonbesending wat dus aan die minimum vlak van 5 dpb aflatoksien B1 voldoen, sal in Suid-Afrika aanvaar word, maar word dan afgekeur vir uitvoer na Europa indien die aflatoksienvlak bokant 2 dpb is.

Newe-effekte vir mens en dier

Dit is byna onmoontlik om wat betref menslike gesondheid, die verlies in randwaarde as gevolg van mikotoksiene te bepaal. Volgens die Wêreldbank kan gesondheidsprobleme wat deur mikotoksiene veroorsaak word, mense se lewensverwagting met tot 40% verminder. In 2004 is daar meer as 125 mense oorlede in Kenia as gevolg van aflatoksienvergiftiging.

Hierdie mense se mieliegraan het op die land besmet geraak en as gevolg van die inname van die besmette graan het hulle simptome van geelsig, kroniese lewersiekte en hepatitis getoon. In studies is daar aangedui dat ongeveer 98% van die bevolking in Wes-Afrika aan aflatoksiene blootgestel is. Fumonisiene word statisties verbind met keelkanker in die landelike gebiede van Suid-Afrika waar mense besmette mielies wat hulle terughou eet.

Perde is baie sensitief vir fumonisiene en tipiese simptome wat oor ‘n tydperk van besmette inname waargeneem word, is gate en bloeding van die brein. Sigbaar-besmette graan word dik wels vir vee en pluimvee gevoer, wat dan mikotoksikose tot gevolg het (Tabel 1). Mikotoksiene in gekontamineerde voer word gemetaboliseer en kan in melk, vleis en eiers opgespoor word.

Mikotoksienvlakke in dierprodukte sal egter in laer konsentrasies voorkom as in grane wat op die land geproduseer is. Suid-Afrika se wetgewing be paal dat die limiet van aflatoksien M1 in melk 0,05 dpb moet wees.

Opsomming

Ons het goeie kommersiële graangraderingstelsels in Suid-Afrika wat die mikotoksiengevaar vir verbruikers tot die minimum probeer beperk. Mense en diere in landelike gebiede (bestaansboere en kleinboere) is nie onderhewig aan graderingstelsels nie en is blootgestel aan moontlike mikotoksienbesmetting.

Ons kan slegs spekuleer wat die verlies in randwaarde as gevolg van mikotoksiene daar kan wees.

As ons in ag neem dat daar ‘n afname in die hoeveelheid beskikbare kos en voer is, laer produktiwiteit, verlies aan buitelandse valuta, inspeksiekoste, monsterneming en analises voor en ná uitvoere, navorsing, opleiding, bewusmaking en detoksifisering om net ‘n paar te noem, kyk ons maklik na miljarde rande se verliese elke jaar.

imageHierdie verlies raak elkeen in Suid-Afrika waar dit die seerste maak: Ons beursies. Volgehoue navorsing op mikotoksiene is vir die LNR-Instituut vir Graangewasse (LNR-IGG) van uiterste belang.

Die LNR-IGG bedank graag die Mielietrust, LNR en NRF vir volgehoue befondsing wat ons in staat stel om, in samewerking met produsente, veiligheid en voortgesette voedselproduksie moontlik te maak tot voordeel van die eindgebruikers van grane.

Publication: May 2015

Section: On farm level

Search