• Login
  • Search Icon

Hoe mededingend is ons graan- en oliesaadbedrywe in 'n globale konteks?

December 2016

DIRK STRYDOM, bestuurder: Graanekonomie en Bemarking, Graan SA en DIVAN VAN DER WESTHUIZEN, Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP)

Globalisering word toenemend ‘n realiteit: Nie net in industriële bedrywe nie, maar ook nader aan die huis – in die landboubedryf. Dit is alreeds duidelik sigbaar in die tempo waarteen konsolidering van insetmaatskappye plaas vind, maar nog meer belangrik in die direkte korrelasie tussen internasionale en plaaslike mark- en insetpryse.

Plaaslik vergelyk produsente reeds gewasse en streke deur middel van deelname aan studiegroepe en ekonomiese buro’s om mededingendheid te bepaal. Die realiteit van die moderne era is dat plaaslike produsente nie meer hul boerderyaktiwiteite in isolasie kan bestuur nie, maar eerder in ‘n globale omgewing, wat geassosieer kan word deur langtermyn-volhoubare en mededingende bestuurspraktyke.

Deel van hierdie benadering is om natuurlike hulpbronne meer pro duktief en effektief te benut. Die groot vraag is dus – gegewe hierdie internasionale speelveld, naamlik die wisselwerking van die vryemarkstelsel en beskikbaarheid van natuurlike hulpbronne – hoe mededingend is ons vergeleke met ons internasionale kompetisie?

Een van die faktore wat natuurlik ‘n sleutelrol in mededingendheid speel, is die subsidies wat produsente in verskeie lande ontvang. Die wêreldvoorrade van graan en oliesade is tans aansienlik hoog – wat internasionale pryse afwaarts geforseer het en uiteindelik veroorsaak het dat winsmarges van produsente reg oor die wêreld onder hewige druk verkeer.

Die Amerikaanse regering het onlangs bekend gemaak dat hulle hul produsente met R96 miljard gaan ondersteun. Die hulp word verleen na aanleiding van die heersende lae pryse en om volhoubare landproduksie te verseker.

Nie net Amerika ontvang subsidies nie, maar ook ander lande wat landbouprodukte produseer. Om die mate van subsidies tussen lande te vergelyk, ondersoek die Organisasie van Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling (OECD) ‘n maatstaf genaamd Produsente-ondersteuning-skatting (POS) wat ondersteuning aan produsente in persentasie kwantifiseer.

Daaruit kan afgelei word dat lande in die Europese Unie (EU) subsidies van so hoog soos 19,25% ontvang. Subsidies in ‘n ekonomiese konteks kan nie altyd geregverdig word nie en word dikwels gesien as ‘n onregverdige speelveld vir produsente wat internasionaal moet kompeteer.

Alhoewel hierdie tipe intervensies nie regtig binne die beheer van die produsent is nie, moet daar eerder gefokus word op dié aspekte wat ‘n boerderybesigheid oor die kort en lang termyn meer produktief, meer effektief en meer winsgewend kan maak.

Die beste vertrekpunt is om ons primêre bedrywe met sleutelkompeterende lande te vergelyk. Die Buro vir Voedsel en Landboubeleid (BFAP) behoort aan die internasionale netwerk, agri benchmark, wat ‘n platform is om primêre bedrywighede, produksiestelsels en die ekonomie daaragter te verstaan en te vergelyk.

Die netwerk bestaan uit meer as 30 lande waar een standaard metodologie gebruik word om data in te samel en dit vergelykbaar te maak. Volgens die verslag is dit duidelik dat die plaaslike mielie-, koring- en sojaboonopbrengste onder dié van die internasionale gemiddeld is – buiten vir ons tipiese besproeiingsplaas (Grafiek 1, Grafiek 2 en Grafiek 5).

 

Hoe mededingend is ons graan- en oliesaadbedrywe in 'n globale konteks?
Hoe mededingend is ons graan- en oliesaadbedrywe in 'n globale konteks?
 

 

Die laer opbrengste veroorsaak dat produksiekoste om ‘n eenheid in tonnemaat te produseer hoër is as in lande met beter opbrengste (Grafiek 3, Grafiek 4 en Grafiek 5). Byvoorbeeld: Die gemiddelde direkte koste vir ‘n tipiese plaas in die Oos-Vrystaat tussen 2012 tot 2014 was 7/ton mielies geproduseer teenoor in Indiana, Verenigde State van Amerika. Dit is egter belangrik om in ag te neem dat ‘n reeksdroogte oor die somerreënvalgebied die afgelope paar jare voorgekom het, wat tot laer opbrengste gelei het.

 

Hoe mededingend is ons graan- en oliesaadbedrywe in 'n globale konteks?
Hoe mededingend is ons graan- en oliesaadbedrywe in 'n globale konteks?
 

 

 

Hoe mededingend is ons graan- en oliesaadbedrywe in 'n globale konteks?
Hoe mededingend is ons graan- en oliesaadbedrywe in 'n globale konteks?
 

 

Die koste van kunsmis word tans as ‘n groot uitdaging beskou siende dat dit in baie gevalle die enkel duurste insetveranderlike in verskeie graan- en oliesaadverbouings (ongeveer 40% van direkte koste) is.

Grafiek 6 en Grafiek 7 illustreer duidelik dat Suid-Afrikaanse kunsmiskoste per eenheid van die duurste ter wêreld is. In die steekproef was stikstof die tweede duurste en fosfate die vierde duurste.

 

Hoe mededingend is ons graan- en oliesaadbedrywe in 'n globale konteks?
Hoe mededingend is ons graan- en oliesaadbedrywe in 'n globale konteks?
 

 

Die sleutelbydrae tot hoër kostes is dat Suid-Afrika ‘n netto invoerder van kunsmis is. Ons word dus blootgestel aan ‘n reeks internasionale en plaaslike prysfaktore – wat die hoë koste van vervoer, makro-ekonomiese volatiliteit soos die verswakking die wisselkoers en plaaslike opgerolde kostes in die waardeketting om kunsmis in die binneland te kry, insluit.

‘n Verdere verswakking in die wisselkoers sal dus verder bydra tot hoër insetkostes.

In terme van bruto marges vir mielies is Suid-Afrika onder die internasionale gemiddeldes, maar plaaslike produksie is nie aan die onderkant van die spektrum nie. Die Suid-Afrikaanse produsent doen nog steeds beter as in lande soos Brasilië en Argentinië – ten spyte van ‘n reeks uitdagende jare geassosieer met droë omstandighede in veral die Vrystaat en Noordwes Provinsie.

Die laer plaaslike opbrengste, hoër kostes en laer marges impliseer nie dat ons produsente nie kompeterend kan produseer nie. In vorige studies is alreeds bewys dat wanneer gekyk word na produktiwiteitsindikators, soos die gebruik van kunsmis, presteer ons produsente goed in ‘n internasionale konteks.

Wat egter krities is, is om produktiwiteitsvlakke en groei in opbrengste te handhaaf soos Grafiek 10 aandui.

 

Hoe mededingend is ons graan- en oliesaadbedrywe in 'n globale konteks?
Hoe mededingend is ons graan- en oliesaadbedrywe in 'n globale konteks?
 

 

Die grafiek illustreer dat Suid-Afrika glad nie sleg vaar wat groei betref nie, maar dat dit ook noodsaaklik is om dit te handhaaf – veral in ‘n omgewing geassosieer met dalende reële pryse. Daar is verder baie geleenthede vir groei in sojaboonopbrengste. Beter tegnologie, produksiemetodes en saadvariëteite het, en sal, ‘n sterk bydrae tot groei in die komende dekade lewer.

Wat is nodig om Suid-Afrika meer mededingend te maak?

Ondersteuning en bystand is nodig in terme van volhoubaarheid, gepaard met pro-aktiewe bestuur soos in droogtegebeurtenisse, sodat die produsent kan bou op die reeds positiewe groei wat in die afgelope dekade getoon is.

Vir beleidsmakers is dit essensieel om te verseker dat produsente in ‘n investeringsvriendelike omgewing besluite kan neem en funksioneer sodat voedselsekerheid en stabiliteit gehandhaaf kan word.

Verdere navorsing en ontwikkeling is belangrik om te verseker dat Suid-Afrika konstant beter groeitendense as die mededingers toon. Die rol van en samewerking tussen die regering en privaat maatskappye deur middel van vennootskappe is krities vir die vooruitgang van navorsing.

Die beskikbaarheid van nuwe tegnologie – spesifiek vir Suid- Afrikaanse omstandighede – is uiters belangrik om te verseker dat groei in opbrengs plaasvind. Dit is een van die redes waarom die eindpunttantiemestelsel in Suid-Afrika so belangrik is.

Bemarking van ‘n kommoditeit gaan in die toekoms ‘n al hoe belangriker rol speel. Met beduidende kapitale investering kan ‘n gewas met 1 t/ha gelig word en met goeie bemarking – en sodoende beter pryse wat gerealiseer word – kan tot ‘n 3 t/ha-effek, in terme van ‘n gelykbreeksom gesien word. Dit gaan dus belangrik wees om geld te spandeer aan bemarking.

Die effektiewe gebruik van insette gaan uiters belangrik wees. Dit beteken nie noodwendig om die goedkoopste insette te gebruik nie. Normale ekonomiese produksiebeginsels, waar die inset vir die produsent die hoogste opbrengs teen die hoogste winsgrense lewer, sal weer oorweeg moet word. Dit wil sê: Kyk na die per eenheid-toediening wat die hoogste winste lewer.

Daar lê aansienlike potensiaal in die konteks van die nuwe eraboer om die produktiwiteitsgaping aan te spreek. Die regte kombinasie van kwaliteit insette soos saad en kunsmis, die korrekte bewerkingspraktyke en bestuur kan opbrengste – veral in tuislande – aansienlik verhoog. Dit is egter noodsaaklik dat plaaslike en deeglike ondersteuning aan hierdie boere gelewer word.

Hoe mededingend is ons graan- en oliesaadbedrywe in 'n globale konteks?

Hoe mededingend is ons graan- en oliesaadbedrywe in 'n globale konteks?

Publication: December 2016

Section: On farm level

Search