• Login
  • Search Icon

Hoe lyk die koringsomme vir die komende seisoen?

May 2014

PETRU FOURIE, ekonoom: Bedryfsdienste, Graan SA

In hierdie artikel word die begrote winsgewendheid van koring vir die 2014/2015-produksieseisoen in die westelike Rûens-gebied in die Wes-Kaap sowel as die koring/inset-ruilvoetverhouding van nader bekyk.

Noodsaaklikheid van ‘n gewasbegroting

Om die effek van insetprysstygings en veranderinge in kommoditeitspryse op die winsgewendheid van koringverbouing
te bepaal, is Graan SA se beplanningsmodel of begroting gebruik. Let daarop dat Graan SA se begrotingsmodel volledig is en grotendeels alle koste wat moontlik deur produsente aangegaan kan word, in ag neem. Die kostestruktuur van die koringbegroting in Tabel 1 sluit dus veranderlike en vaste koste in.

image

Wes-Kaap: Produksiekoste van droëlandkoring (verminderde bewerking)

Tabel 1 toon die droëlandkoring (ver minderde bewerking) begroting vir die westelike Rûensgebied vir die 2014/2015-produksieseisoen. Tydens die opstel van die begroting is verwagte pryse gebruik wat dus nog kan verander tot en met planttyd. Die algemene praktyke vir dié spesifieke omgewing is wel in ag geneem.

‘n Gemiddelde Desember 2014 Safex-koringprys van R3 600/ton is gebruik, wat min of meer ‘n gemiddelde prys van
R2 813/ton in die produsent se sak sal beteken ná inagneming van die vervoerdifferensiaal, hanteringskoste, bemarkingskommissie sowel as die lewering van verskillende grade.

Die totale veranderlike koste vir ‘n 3 ton/ha opbrengs beloop R6 075/ha en tesame met ‘n berekende vaste koste van
R1 725/ha, beloop die totale produksiekoste ongeveer R7 800/ha.

Ruilvoetverhouding

Koring/ureum-ruilvoet
Grafiek
1 dui die hoeveelheid koring aan wat benodig word om 1 ton ureum aan te koop sedert 1990. Vir die 2014/2015-seisoen (komende seisoen) is die Safex Desember 2014-koringkontrak (R3 600) gebruik om ‘n produsenteprys te bereken.

image

Uit die grafiek is dit duidelik (sien tendenslyn) dat die ruilvoet dramaties sedert 1990 verswak het. Dit is ook duidelik dat die koring-/ureumruilvoet sedert die 2008/2009-seisoen, toe kunsmispryse die hoogte ingeskiet het, verbeter het.

Die verwagte ruilvoet vir die komende seisoen lyk swakker in vergelyking met verlede jaar ten spyte daarvan dat koringpryse vir die Safex Desember 2014-kontrakprys relatief beter is. Volgens berekeninge is 2,1 ton koring tans nodig om 1 ton ureum aan te koop.

Koring/dieselruilvoet
Dit is nie net die koring/ureumruilvoet wat swakker as verlede jaar vertoon nie, maar ook die koring/dieselruilvoet. Grafiek 2 dui aan hoeveel koring benodig word om 1 000 liter diesel aan te koop. Uit die grafiek (tendenslyn) kan gesien word dat die koring/dieselruilvoet sedert 1990 verswak het en dat dit die swakste situasie nog sedert die saamstel van die data is. Die langtermyn gemiddelde ruilvoet is 2,4 ton koring vir 1 000 liter diesel, terwyl die verwagte ruilvoet vir die komende seisoen 4,11 ton is.

image

Koring/trekkerruilvoet
Grafiek 3 toon aan hoeveel koring benodig word om ‘n trekker van tussen 70 kW en 80 kW aan te koop. Die gemiddelde koring/trekkerruilvoet sedert 1990 is 196 ton koring, terwyl die verwagte ruilvoet vir die komende seisoen meer as die gemiddeld is en op ‘n tonnemaat van ongeveer 204 is. Die verswakking van die ruilvoet sedert verlede jaar is hoofsaaklik as gevolg van die verswakking in die rand teenoor die dollar wat trekkerpryse baie hoër maak.

image

Om op te som

Produsente word aangeraai om deeglik somme te maak voor hulle met koringaanplantings begin en eers vas te stel hoeveel dit hulle uit die sak gaan jaag om koring te produseer.

Koringprodusente neem besluite deur hoofsaaklik na Desembermaand se kontrakpryse te kyk en beplanning daarvolgens te maak. Sedert verlede jaar Maart, tot hierdie jaar Maart (net voor planttyd begin), het die Desembermaand Safex-kontrakprys vir koring vanaf rondom R3 200/ton tot rondom R3 700/ton gestyg.

Dit is ‘n verhoging van sowat 15,6%, maar die toenemende styging in insetkoste raak ‘n groot bekommernis aangesien dit die winsgewendheid van koringproduksie beïnvloed.

Publication: May 2014

Section: Other Articles

Author: PETRU FOURIE, ekonoom: Bedryfsdienste, Graan SA

Search