• Login
  • Search Icon

Hoe hanteer jy moeilike tye?

May 2016

— Gee jy energie aan ander mense of tap jy voortdurend energie uit ander?
 

KOBUS SERFONTEIN, hoof: Leierskap en Transformasie: Universiteit van Stellenbosch Bestuurskool

Dit gebeur soms in ons lewe dat ons omring word deur negatiwiteit en omstandighede wat ons drome versmoor en ons hoop vernietig. In sulke tye voel die lewe soos ‘n groot berg voor ons waaroor ons nooit gaan kom nie.

Wanneer dit gebeur, voel dit ook asof dit die enigste ding is waaraan jy kan dink en wat saak maak. Hierdie gevoel is absoluut normal en gebeur die een of ander tyd in ons lewe met almal van ons. Wanneer dit egter verbygaan (niks in die lewe hou vir ewig aan nie) en ons aanbeweeg het, is ons gewoonlik weer dankbaar oor al ons seëninge. Dit is juis in hierdie tye wat ons soms agterkom hoe sterk ons eintlik is, maar ook hoe nodig ons ander mense het.

Ons het nie altyd beheer oor dit wat met ons gebeur nie, maar ons het wel beheer oor hoe ons gaan optree. Moeilike tye gaan nie net oor geld, droogte of stof nie, maar gaan eerder daaroor dat ons hoop, drome en doelwitte nie mag opdroog nie.

Hier is vyf maniere om jou en jou geliefdes gemotiveerd te hou gedurende moeilike tye.

Neem kontrole oor wat jy kan beheer en hou op om te bekommer oor die dinge wat jy nie kan beheer nie

Sommige dinge (soos die weer) is buite ons beheer en ons kan niks doen om dit te verander nie. Die probleem is egter dat, indien jy gaan toelaat dat dit jou emosioneel aftakel, jy dit ook gaan oordra aan jou familie, werknemers en vriende.

Dit beteken dat jy en die mense om jou in ‘n negatiewe spiraal gaan beland wat later al hoe moeiliker raak om te ontsnap. Fokus dus eerder op dinge wat jy wel kan bestuur en verander, bepaal jou doelwitte om dit te bereik en vier die suksesse saam met jou mense.

Assosieer jouself met positiewe mense

In moeilike tye is dít waarskynlik die belangrikste ding wat jy kan doen. Daar is twee tipes mense in die lewe: Dié wat energie uit jou tap en dié wat vir jou energie gee. In moeilike tye is dit baie belangrik om jou te assosieer met mense wat vir jou energie gee en ‘n bydrae maak tot jou positiewe emosionaliteit omdat jý weer die een is wat dit moet oordra aan jou familie, werknemers en vriende.

Negatiewe mense en gesprekke gaan beslis jou energie dreineer, jou net meer en meer laat fokus op al die negatiewe goed en jou selfs in ‘n negatiewe spiraal plaas. Dink watter impak dit op jou familie en vriende gaan hê.

Wanneer jy jouself dus in so ‘n negatiewe gesprek bevind (wat in moeilike tye heel moontlik is), verander die gesprek onmiddellik na iets positiefs, soos: “Ek is besig om hierdie nuwe projek van my af te handel en ek is so opgewonde dat dit ‘n groot verskil gaan maak in my besigheid.”

Maak ‘n plan en doen wat jy doen na die beste van jou vermoë

Die gesegde: “’n Boer maak ‘n plan” bestaan nie om dowe neuter nie. Produsente is deur die jare bekend daarvoor dat hulle planne kan beraam. Wanneer omstandighede moeilik is, is dit egter nog meer noodsaaklik dat daar positiewe planne gemaak moet word om te oorleef.

Hier is dit weer belangrik om jou planne met positiewe mense te bespreek. Hou maar eerder verby die pessimis se plaas en bespreek jou planne met positiewe persone wat ‘n bydrae gaan maak tot jou optimisme en energie om jou planne suksesvol uit te voer. Só leer julle ook van mekaar.

Jy moet ook onthou dat niemand jou gedwing het om ‘n produsent te wees nie. Dit was jou eie keuse. Jy moet dus verstaan dat daar (soos in enige ander bedryf) op- en af-tye gaan wees. Besin (saam met jou familie en vriende) eerder oor die tye toe dit goed gegaan het en werk dan met nuwe ywer omdat daardie tye weer om die draai is.

Hanteer ander persone as mense en nie as objekte nie

Een van die grootste uitdagings vir ons as mense in moeilike tye is om ander persone waarmee ons te doen het (plaaswerkers, familie en vriende) te hanteer as mense en nie as objekte nie. In moeilike tye is ons geneig om ander te beskou as objekte en hulle te hanteer as “hindernisse” (hulle blokkeer my om in hierdie moeilike tye te oorleef).

Ons hanteer ook dikwels ander mense as “voertuie” (ek het hulle net nodig om nou te oorleef). Wanneer jy dit doen, is jy eintlik besig om jouself en daardeur ook geliefdes en vriende, te verraai en moet jy nie verwag dat hulle gewillig en beskikbaar gaan wees om in die toekoms by jou te staan en jou te ondersteun nie.

Alles begin by jou

Dra dus elke dag – al is dit hoe moeilik – jou positiewe energie oor aan die mense waarvoor jy lief is en vir wie jy omgee. Indien dit by jou begin, sal jy verbaas wees hoeveel hulle bereid is om vir jou terug te gee.

Assosieer jouself met positiewe mense en vermy die pessimiste en mense wat die energie uit jou tap. Laastens en belangrikste – doen wat jy kán doen met volle oorgawe en weet dat die moeilike tye binnekort iets van die verlede gaan wees en dat jy en jou geliefdes dan kan terugkyk in die wete dat dit julle nader aan mekaar gebring het en dat almal iets daaruit geleer het.

Publication: May 2016

Section: Relevant

Search