• Login
  • Search Icon

Hoe bekostigbaar is kunsmis tans?

January 2018

CORNÉ LOUW, senior ekonoom, Graan SA 

Afhangende van die gewas, kan kunsmis tussen 30% en 50% van ‘n graan- en oliesadeprodusent se lopende produksiekoste vorm. Omdat kunsmis so ‘n groot deel van ‘n produsent se koste uitmaak, kan die prys daarvan bepalend wees vir die winsgewendheid van die gewas. 

Anders gesien, kan die verhouding tussen die prys van kunsmis en die markprys van grane ook ‘n aanwyser wees van die “bekostigbaarheid” van kunsmis. Byvoorbeeld: Sou die mielieprys styg en kunsmispryse sywaarts beweeg, sal kunsmis meer bekostigbaar wees. Of: Sou kunsmispryse styg en mieliepryse konstant bly, sal kunsmis minder bekostigbaar wees. 

Deur hierdie verhouding te bestudeer, het Graan SA ‘n bekostigbaarheidsindeks ontwikkel, waardeur op ‘n maklike manier afgelei kan word hoe bekostigbaar kunsmis, vergeleke met die verlede, is. 

Die bekostigbaarheidsindeks is basies die verhouding in die prys van ureum teenoor die mielieprys op ‘n gegewe tydstip. Uit Grafiek 1 kan gesien word dat kunsmis minder bekostigbaar is as in die 2007/2008-produksieseisoen, terwyl dit slegs in 2016/2017 meer bekostigbaar as in die basisjaar van 2007/2008 was. 

Op ‘n ander manier uitgedruk: Grafiek 2 toon hoeveel ton mielies oor tyd benodig is om ‘n ton ureum aan te koop. Die tendens strook goed met wat in Grafiek 1 geïllustreer is. 

‘n Feit wat die langertermyngrafiek onderstreep is dat die verhouding tussen kunsmispryse en mieliepryse oor tyd verswak. Die voorlopige ruilvoet vir die nuwe seisoen is 3,2 ton mielies vir ‘n ton kunsmis, terwyl die gemiddeld vir die afgelope 27 jaar 2,6 ton mielies is. 

Dit bevestig dat die winsgewendheid van graanproduksie tans onder enorme druk verkeer.
 

Publication: January 2018

Section: On farm level

Search