• Login
  • Search Icon

Hoe akkuraat was die Oesskattingskomitee?

February 2014

PETRU FOURIE, EKONOOM: BEDRYFSDIENSTE, GRAAN SA

Die 2012/2013-produksieseisoen sal in die geheue van elke graanprodusent vasgepen bly as een van die ergste droogtes wat in die westelike mieliestreke voorgekom het. Hierdie ondergemiddelde reënval wat in die Noordwes Provinsie en groot dele van die Vrystaat voorgekom het, het meegebring dat die meeste van die somergewasse in dié streke nie goeie oeste gelewer het nie.

Die stroopproses is ook vroeër as normaal afgehandel, aangesien die heersende droogtetoestande plante vroeg laat afdroog het. Die droogtetoestande het die goeie verwagtinge vir Suid-Afrika om ‘n groot mielie-oes te lewer, aansienlik gedemp.

Dit is die taak van die Nasionale Oesskattingskomitee (NOK) om soveel as moontlik inligting/data in te samel om sodoende akkurate en tydige oesskattings daar te stel, aangesien dit ‘n direkte impak op prysvorming in die vrye mark het. Groot debat het die afgelope seisoen onder produsente, insetverskaffers, handelaars, graanmarkanaliste, ekonome en so meer ontstaan oor presies wat die impak van die droogtetoestande op opbrengste was.

Hierdie debatte het veroorsaak dat verskeie opinies en menings geopper is ten spyte daarvan dat ‘n amptelike oesskattingsyfer maandeliks deur die NOK vrygestel is.

In hierdie artikel word daar gepoog om te kyk hoe die Oesskattingskomitee sedert die bekendmaking van die eerste produksieskatting tot en met finale mielie-oes, verander en afgewyk het.

Verloop van die 2012/2013-produksieseisoen

Oorskatting van die witmielie-oes

image

In Grafiek 1 kan die maandelikse syfers ten opsigte van die produksieskatting vir witmielies, vanaf die eerste skatting (Februarie) tot die finale skatting (September), soos bekend gemaak deur die NOK, gesien word. Die rooi lyn dui die gerealiseerde witmielie-oessyfer aan en die verskil tussen dié syfer en die maandelikse skattings is duidelik sigbaar.

Soos reeds genoem, het die uiterse droë toestande grotendeels in die westelike dele van die land, waar hoofsaaklik witmielies aangeplant word, voorgekom. Witmielie-opbrengste is dus baie nadelig beïnvloed en graanprodusente in hierdie dele van die land het of ‘n ondergemiddelde of swak oes gelewer.

Hoewel die Oesskattingskomitee met sy eerste skatting in Februarie weggespring het met ‘n beraamde witmielie-oes van 6,749 miljoen ton, het die impak van die droogte sy tol geëis en het die witmielieoes maandeliks gedaal. Die NOK het die verwagte witmielie-oes met 1,204 miljoen ton verminder vanaf sy eerste skatting tot die werklike grootte van die finale oes, naamlik 5,545 miljoen.

Onderskatting van die geelmielie-oes

image

Anders as in die westelike dele, het die oostelike dele van die land, waar geelmielies hoofsaaklik geplant word, gunstige weersomstandighede ervaar gedurende die 2012/2013-somerreënvalseisoen.

In Grafiek 2 kan die maandelikse produksieskattingsyfers vir geelmielies, vanaf die eerste skatting (Februarie) tot die finale skatting (September), soos bekend gemaak deur die NOK, gesien word. Oor die algemeen is goeie geelmielie-opbrengste behaal en die toename in die geelmielieproduksieskattingsyfers is duidelik sigbaar in die grafiek.

Die Oesskattingskomitee se eerste skatting in Februarie vir geelmielies was 5,604 miljoen ton. Soos die gunstige landboutoestande in die oostelike dele van die land voortgeduur het, het die verwagte geelmielieopbrengste ook toegeneem. Die NOK het die verwagte geelmielie-oes vanaf sy eerste skatting tot die werklike grootte van die finale oes
(6,145 miljoen) met 541 000 ton verhoog.

Norm waarbinne die NOK moet skat

image

In Suid-Afrika het die graanindustrie ‘n norm/grens vir die Oesskattingskomitee gestel waarbinne die oesskattings moet wees, naamlik om vanaf die eerste tot die vierde skatting (Februarie tot Mei) nie meer as 8% vanaf die finale oes af te wyk en om vanaf die vyfde tot die agtste skatting (Junie tot September) nie meer as 5% vanaf die finale oes af te wyk nie.

Grafiek 3 dui die boonste en onderste aanvaarbare grens waarbinne die Oesskattingskomitee moet wees, aan. Indien die skatting (syfer) op ‘n groter afwyking as die toelaatbare norm/grens dui, kan daar retrospektief na ‘n oor- of onderskatting verwys word.

In die grafiek kan gesien word dat die afgelope seisoen se skatting afsonderlik vir witmielies, vanaf Februarie tot en met Junie, buite die gestelde norm/grens geval het, terwyl die skattings vir geelmielies vanaf Februarie tot en met Julie buite die gestelde norm/grens was.

Met dié dat die witmielie-oes oorskat is en die geelmielie-oes onderskat is, het dit meegebring dat die totale mielie-oes vanaf die eerste skatting tot die finale skatting baie mooi tussen die voorgestelde norm/grense beweeg het.

Hierdie resultate laat ‘n effense bekommernis ontstaan oor die akkuraatheid ten opsigte van die verdeling tussen wit- en geelmielies (aanplantings en produksie), veral vir die Noordwes Provinsie en die Vrystaat.

Bykomende aksies vir die 2013/2014-seisoen

Dit is positief om te weet dat daar voortdurend na nuwe metodieke en tegnologieë gesoek word om die huidige produksieskattingsisteem so akkuraat moontlik te maak. Aksies wat die komende seisoen deur die NOK aandag sal
geniet, sluit die volgende in:

  • Fondse is toegeken om die akkuraatheid van die oppervlakte aangeplant vir die 2013/2014-seisoen (vroeg 2014) te verifieer en te verbeter.
  • Fokus sal eerste op die Noordwes Provinsie wees, waarna fondse vir die Vrystaat gesoek sal word om die 2014/2015-seisoen se oppervlakte te verifieer.
  • Fokus op opbrengs-insetverskaffers se metodes moet heroorweeg word.

Slotsom

Dit is vir Graan SA, saam met die Oesskattingsskakelkomitee (CELC), van kardinale belang dat geloofwaardige skattings vrygestel moet word. Die bepaling van korrekte gemiddelde opbrengste is een van die NOK se moeilikste take aangesien klimaat so ‘n groot rol speel.

Uitgesluit die ongewenste afwykings wat afsonderlik vir wit- en geelmielies voorgekom het, was die skatting vir mielies in totaal, regdeur die seisoen, binne die 5% norm/grens.

Publication: February 2014

Section: Input Overview

Search