• Login
  • Search Icon

Het ons land in 'n gewapende rooftoneel verander?

September 2015

image

JANNIE DE VILLIERS, uitvoerende hoofbestuurder/CEO

Ek het die ander dag lank en aandagtig aan Dawie Roodt se artikel gesit en lees waarin hy vertel van sy belewenis van die tragedie van ‘n gewapende roof in sy huis.

Die detail van die proses van die mense wat sy privaatheid onwettig betree het en dan met ‘n vuurwapen die mag het om jou in jou eie huis vas te bind en doodluiters deur al jou kaste en laaie te werk en onseremonieel jou goedjies evalueer en besluit wat hulle gaan vat en wat hulle gaan los. Hulle soek nie kos nie. Daar word met groot modderspore deur jou emosies gestap oor sentimentele of geërfde goed en dan boonop nog jou geliefdes se fisiese welstand teen jou gebruik om verder bloed uit ‘n klip te tap.

Die littekens op ‘n produsent se voorarms wat ‘n plaasaanval oorleef het, wat ek eendag by die rugby ontmoet het, het deur my kop geflits. Die magtelose emosie wat oor my gekom het toe ek daardeur gelees het, het skielik vir my bekend begin voel en ek het gewonder waarom.

Die ses keer wat my besittings gesteel is, was ek genadiglik nie by nie, maar toe tref dit my: Dit is die gevoel wat ek kry as ons in die grond onderhandelingsvergaderings sit! Ons sit daar en verteenwoordig diegene wat grond/plase besit. Dan is daar diegene wat dié met die meerderheidstem in die land verteenwoordig wat onseremonieel ons sentimentele
en privaat eiendom neem en uitdeel asof alles aan hulle behoort, terwyl ons magteloos toekyk.

Erfgrond, geboortegrond, swaarverdiende grond. Daar is nie ruimte vir debat nie. Die een met die hef in die hand, doen al die praatwerk en neem al die besluite oor wat bly en wat ry. Het die meerderheidstem in die land dan nou ‘n geweer in die hand geword in plaas van ‘n voorreg om te dien soos in ander demokrasieë in die wêreld? Het ons land in ‘n gewapende rooftoneel verander? Is dit dan al wat vir ons oorgebly het om bloot net as toeskouers te sit en kyk hoe onsself as slagoffers in die toneel voor ons beroof word?

Was dit hoe baie swart mense gevoel het wat verbied was om grond te besit en dit onseremonieel van hulle eggeneem is – ook hulle erfgrond en geboorteplase?

Daar moet tog meer in die lewe wees as net hierdie roofsiklusse – afhangende van wie die “wapen” in die hand het, wat bepaal wie wat in die land gaan besit! Dit skreeu in my – dit kan tog nie so wees nie! Ek slaap sleg deesdae.

Dan flits die prentjie deur my kop van die produsente wat langs die N1 gaan bid het en God vasgryp en pleit dat Hy hierdie siklus van roof en verniel sal breek. Die vorige bedeling het bykans onherstelbare skade aan ons land aangerig. Gaan ons leiers dit nou wrintiewaar oop oë herhaal?

Dit gaan buitengewone leierskap en bonatuurlike genade kos om ons land deur hierdie proses te stuur. Dawie sluit af deur Suid-Afrikaners aan te moedig om op te staan, nie met geweld te veg nie, maar op te staan vir wat reg is en nie weg te hardloop Australië toe nie. Kom ons hou aan om die regte dinge reg te doen vir al die regte redes.

Ek kyk op na die berge rondom my, waar gaan my hulp vandaan kom? My hulp kom van die Here!

Publication: September 2015

Section: Features

Search