• Login
  • Search Icon

Hersteljaar

January 2017

Hersteljaar

image

JANNIE DE VILLIERS, uitvoerende hoofbestuurder/CEO

As ek aan 2017 dink, kom die woord “hersteljaar” onwillekeurig by my op. Daar is vir my ‘n sagte emosie gekoppel aan die woord “herstel” – iets te doen met gesond word en/of herstel na ‘n situasie wat tevore beter was. As ek in my hart oor ons land en sy mense dink, is daar soveel versugtinge oor herstel wat na vore tree.

Eerstens, natuurlik, is dit ‘n stuk herstel vir landbou ná so ‘n verwoestende droogte: Herstel van damvlakke en ondergrondse water; finansiële herstel vir ‘n groot aantal produsente wat die afgelope seisoen nie ‘n inkomste gehad het nie; herstel van kuddes wat uitgeslag was om kontantvloei te verskaf.

Ek dink ook sommer aan Ouma se blikkie op die buffet – met ‘n spaargeldjie vir ‘n noodgeval, wat seker ook hierdie jaar weer aangevul sal moet word. Ons is saam met die produsente in die Swartland so dankbaar dat hulle weer ‘n behoorlike oes kon afhaal – op die pad na herstel toe!

Ek kan egter nie anders as om ‘n diep versugting te hê wat ons land betref nie. Sal dit nie wonderlik wees as ons aan die einde van 2017 kan sê dat verhoudinge tussen landsburgers herstel is nie? Minder stakings en oproer en groter verdraagsaamheid vir mekaar se opvattings. Meer respek vir ander mense en hul eiendom of reg tot opvoeding.

In graanproduksie weet ons dat jy ‘n land ‘n jaar lank moet laat rus om te herstel. Hoe gaan ons ons mense in hierdie land, wat aldag met mekaar besig is, laat rus sodat daar herstel kan kom? Dit klink so amper onmoontlik om daaroor te droom. Iewers in 2017 sal ek self ‘n stukkie rus nodig hê om my verhoudinge met mense te verbeter en my kapasiteit vir verdraagsaamheid op te bou. Dit bly ‘n groot uitdaging.

‘n Hersteljaar stel ons in staat om weer die ware noord in die lewe te ontdek en om aanpassings te maak sodat ons weer goed op koers is. In ons beplanning by Graan SA sien ons dat 2017 ‘n padvindjaar gaan wees.

Ons gaan so tussen al die veranderlikes en bewegings deur ‘n nuwe pad na volhoubare produksie moet soek. Dit wil so ál lyk asof die politiek in ons land – en selfs in die wêreld – ‘n groter-wordende invloed op landbou gaan hê.

Die positiewe verslae oor groei in Afrika bly inrol en dit is asof die menigte konsultante nie enige hindernisse sien nie. Verstedeliking in dié deel van die wêreld is die vinnigste en dit lei na groter afhanklikheid van kommersiële landbou.

Die feit dat Afrika so ver agter met tegnologie is, skep groot geleenthede tot ekonomiese groei – veral met ‘n werksmag wat teen 2034 groter gaan wees as dié van Indië of China. Wat ‘n vooruitsig! Al hierdie vooruitsigte skep nuwe geleenthede vir groei en uitbreiding. Politieke en ekonomiese stabiliteit sal bepaal of die vooruitsigte wel eendag waar gaan word – aangesien dit die sleutel tot volhoubaarheid hou.

Van al die strategiese besluite wat Graan SA die afgelope jare geneem het, is ek die meeste opgewonde oor die besluit ten opsigte van navorsing en wat die navorsers tafel toe gaan bring. Die nuwe inisiatiewe op die navorsingsterrein hou groot belofte in. Dit sal jou baat om weer ‘n slag ‘n behoorlike stuk navorsing van hoek tot kant deur te lees – net om seker te maak jy mis nie dálk net daardie klein stukkie inligting wat vir jou ‘n klompie rande kan spaar nie.

Hiermee wens ek jou graag alles van die beste vir 2017 toe.

Publication: January 2017

Section: Features

Search