• Login
  • Search Icon

Haelskade en die voorkoms van stam- en kopvrot by mielies

September 2015

MARYKE CRAVEN en BRADLEY FLETT, LNR-Instituut vir Graangewasse

Hael is ‘n realiteit waarmee alle produsente ongelukkig moet saamleef. Die vernietigende aard van hierdie natuurlike verskynsel, is gewoonlik duidelik bespeurbaar in die verslete blare, gekneusde stamme en soms beskadigde koppe van die mielies.

Die tipe skade wat aangerig word, hang natuurlik af van die ouderdom van die plante toe die haelskade plaasgevind het. Skade wat deur hael aangerig word, is ongelukkig nie net beperk tot fisiese waarneembare skade nie en dit kan soms nog ‘n nare nadraai hê met die voorkoms van siektes, soos stam- en kopvrotte.

Stamvrotte

Plante wat onderhewig is aan stamvrotte, het normaalweg ‘n kenmerkende voorkoms wat lyk asof die plant oornag gevrek het. Die blare vertoon ‘n vaal olyfgroen en het ‘n bros voorkoms (Foto 1). Soms sal produsente eers agterkom dat daar fout is wanneer daar kolle plante in die land voorkom wat kort voor-oes omval (Foto 2).

Haelskade en die voorkoms van stam- en kopvrot by mielies
  Haelskade en die voorkoms van stam- en kopvrot by mielies

Haelskade en die voorkoms van stam- en kopvrot by mieliesWanneer sulke plante oopgesny word, sal daar verkleuring in die stamme waargeneem kan word, wat kan wissel van bruin tot pienk. Sulke verkleurings sal gewoonlik waarneembaar wees by die onderste paar nodes (Foto 3).

Gibberella stamvrot, houtskoolvrot en bakteriese stamvrot het weer die afgelope seisoene kop uitgesteek in die mielieproduksiegebiede van veral die Noordwesprovinsie en die Noord-Kaap.

Produsente het begin wonder of die stamvrot wat waargeneem is moontlik gekoppel kon word aan haelskade wat vroeër die seisoen voorgekom het. Ongelukkig is daar nie ‘n maklike antwoord hierop nie, aangesien hael maar net een komponent is van ‘n magdom faktore wat kon bygedra het tot die voorkoms van stamvrot.

‘n Belangrike konsep wat produsente moet verstaan, is dat stamvrotte stremmingsverwante siektes is. Enige gebeurtenis wat dus verhoed dat plante effektief kan fotosintetiseer, sal plante onder stremming plaas en daartoe lei dat dit makliker vatbaar word vir infeksie deur ‘n verskeidenheid opportunistiese patogene.

 

Die rede hiervoor is dat die plant gefokus is op die vul van sy koppe om sodoende die voortbestaan van ‘n nageslag te verseker. Soos reeds genoem, sal plante deur ‘n proses van fotosintese die nodige koolhidrate produseer wat vir dié doel gebruik word.

Wanneer iets gebeur wat die fotosintesevermoë van ‘n plant beïnvloed en só ‘n plant dus nie meer koolhidrate kan produseer nie, begin die plant koolhidrate gebruik wat vroeër in stamme en wortels geberg is. Hierdie aksie veroorsaak dat die plant se wortels en stam ‘n verlaagde weerstand het teen infeksies en dit lei tot die voorkoms van wortel-, kroon- en stamvrotte.

Wat word beskou as stremming?

Wanneer grondvrugbaarheid nie voldoen aan die plant se vereistes om effektief te kan fotosintetiseer nie, kan dit veroorsaak dat plante in ‘n stremmingstoestand ingaan. Navorsing het getoon dat ‘n gebalanseerde beskikbaarheid van stikstof dwarsdeur die seisoen die graad van stamvrot laat afneem.

Hoë vlakke van stikstof, gevolg deur ‘n gebrek daaraan wat deur loging of denitrifisering veroorsaak word, mag egter die voorkoms van stamvrotte drasties laat toeneem. Aangesien kalium (K) ‘n belangrike rol speel by die hele fotosinteseproses van plante, sal ‘n gebrek aan K daartoe lei dat die fotosintesetempo van die plant laer sal wees.

Indien die fotosintesetempo van die plant afneem, sal die plant genoodsaak word om noodsaaklike koolhidrate wat vir die vul van koppe benodig word, van die stamme te verhaal. Die stamme en wortels verswak en daar word ‘n geleentheid geskep vir plantpatogene om te infekteer.

Verder sal die voorkoms van blaarsiektes veroorsaak dat die plant nie meer effektief kan fotosintetiseer nie, terwyl ander peste, soos stamboorders, ook skade aan die plant kan aanrig en infeksiepunte vir swamme skep.

Water is die volgende kritieke punt wat tot stremming lei. Wanneer beskikbare water afneem, veral vanaf blom, verhoog dit die kans dat stamvrot kan intree. Hoër as aanbevole plantdigthede, onvoldoende besproeiingskedules of droogte en hoë onkruiddruk wat in lande voorkom, kan daartoe lei dat plante gepredisponeer word vir wortel- en staminfeksies.

Deur laastens ‘n mieliebaster te kies wat nie aangepas is vir die spesifieke omgewing waar dit geplant word nie, sal plante inherent ook voortdurend onder stremming verkeer omdat dit moet probeer oorleef en saad produseer in ‘n omgewing wat nie optimaal is nie.

Waar pas haelskade in die prentjie in?

Haelskade moet beskou word as ‘n faktor wat stremming by plante kan induseer. Internasionaal is daar nie baie navorsing gedoen oor die direkte verband tussen haelskade en siektes soos stamvrot nie en is die meeste inligting wat beskikbaar is, gebaseer op waarnemings.

Die impak wat hael op stamvrotte kan hê, is egter tweeledig. Eerstens kan dit die blaarmateriaal genoegsaam vernietig dat plante nie meer effektief kan fotosinteer nie en soos reeds genoem, plante noodsaak om die nodige suikers in die stamme te gebruik.

Tweedens kan dit direkte skade aan stamme veroorsaak en ingangspunte skep waardeur swamme die plant kan infekteer.

In 1964 het Larry J. Littlefield ‘n artikel geplaas in die Plant Disease Reporter rakende die impak wat haelskade op stamvrotte gehad het gedurende verwoestende haelstorms wat gedurende 1963 in Minnesota in die VSA voorgekom het.

Sy waarneming was dat byna alle stamme een of ander graad van stamvrot gehad het in en om die letsels wat deur die hael veroorsaak is. Die graad van vrot wat voorgekom het, was verder nie gekoppel aan die grootte van die letsels nie en was eers werklikwaar sigbaar vyf tot ses weke ná die haelskade aangerig is.

Ongeveer die helfte van die swamme wat uit letsels verwyder is, was saprofities van aard, wat beteken dat dit swamme was wat op dooie plantmateriaal voed. Die res het behoort tot Fusariumspesies wat wel met stamvrotte geassosieer word.

Sy gevolgtrekking was dat hierdie indringing van swamme deur letsels of wonde wat deur hael aangerig is, gelei het tot ‘n afname in opbrengs.

Hael kan dus ‘n besliste bydrae lewer tot die ontstaan van stam vrotte, maar dit is baie moeilik om die voorkoms van stamvrotte in só ‘n geval volkome voor die deur van haelskade te plaas, aangesien daar soveel addisionele faktore betrokke is wat stamvrotte kan bevorder.

Haelskade en die voorkoms van stam- en kopvrot by mieliesKopvrotte

Kopvrotte word maklik uitgeken aan die swamgroei wat bo-op en tussen die pitte van die kop waargeneem word (Foto 4). Soos met stamvrotte, kan waarneembare verkleuring (wit, groen, pienk of pers) gekoppel word aan spesifieke swamme wat die kop infekteer.

Alle swamme wat koppe kan infekteer, is ook in staat om toksiene te produseer wat die inname van sulke besmette graan baie skadelik maak vir mens en dier.

Wanneer hael laat in die seisoen voorkom, kan koppe beskadig word en soos met stamme, kan die letsels wat ontstaan, dien as infeksiepunte vir swamme. Wanneer skade só laat in die seisoen voorkom, is die aangetaste plante geneig om vinniger fisiologiese volwassenheid te bereik, maar koppe vat langer om af te droog.

Hierdie verlengde periode van afdroging skep weer op sy beurt tyd vir swamme om verder binne-in die koppe te versprei en tot groter opbrengsverliese te lei.

 

Wat staan die produsent nou te doen?

Wanneer hael voorgekom het, is daar bitter min wat ‘n produsent kan doen om direkte skade, sowel as sekondêre skade, wat in die vorm van siektes voorkom, om te keer.

Navorsing wat gedoen is op die impak van swamdodertoedienings in proewe met gesimuleerde haelskade, het getoon dat daar geen opbrengsverhoging waargeneem is nie. Wat wel binne enige produsent se mag is, is om te verseker dat plante dwarsdeur die seisoen die beste moontlike kans gegun word om infeksies via stam of kop af te weer.

Buiten vir die faktore wat reeds genoem is rakende stremming, bly wisselbou een van die belangrikste siektebeheerstrategieë. Deur gewasse te wissel, word die voedingsbron vir meeste swamme en bakterieë uit die sisteem gehaal.

Wisselbou help dus om inokulumvlakke te verminder van een jaar na die ander en wanneer daar minder inokulum teenwoordig is, sal infeksies deur skadelike patogene ook afneem. Deur lande te monitor vanaf 30% - 40% vog vir die voorkoms van stamvrotte, sal help met die besluitneming oor wanneer geoes moet word.

Deur so vroeg as moontlik te oes, kan verhoed word dat plante wat tekens toon van stamvrot, later omval. Plante wat op die grond lê, kan tot verdere opbrengsverliese lei omdat kopvrotte toeneem. Addisionele koste moet dan ook aangegaan word om sulke plante op te tel om koppe te oes.

Wat van haelskadeversekering?

Deur haelskadedekking uit te neem, kan die impak van haelskade ten opsigte van oesverliese wat gelei word, vereffen word. Produsente moet hulself deeglik vergewis van wat presies deur ‘n spesifieke haelskadeversekeringspakket gedek word, aangesien dit nie noodwendig die gevolglike skade (siektes wat ontstaan as gevolg van haelskade) dek nie.

imageProdusente wat verdere navrae het, is welkom om vir dr Maryke Craven of proff Bradley Flett te kontak by die LNRInstituut vir Graangewasse, Potchefstroom, by 018 299 6100.

Publication: September 2015

Section: Focus on

Search