• Login
  • Search Icon

Graanmark-oorsig

August 2014

'n Markoorsig vir mielies
 

image

WESSEL LEMMER, senior ekonoom: Bedryfsdienste, Graan SA

Mieliepryse is tans, in die huidige bemarkingsjaar, onder druk weens rekordopbrengste in Suid-Afrika en belowende produksieomstandighede in die VSA. Indien Suid-Afrika vanjaar voor einde April 2015 daarin kan slaag om ongeveer
2 miljoen ton mielies uit te voer, kan die plaaslike markomstandighede aansienlik verbeter vir die daaropvolgende 2015/2016-bemarkingsjaar.

Die huidige prysvlakke is nie net in Suid-Afrika onder eenheidsproduksiekoste nie, maar ook in die VSA. Gevolglik kan lae pryse tot kleiner aanplantings in die volgende Suid-Afrikaanse produksieseisoen aanleiding gee. Die waarskynlikheid om weer ‘n nasionale rekordopbrengs te realiseer, is klein.

Met laasgenoemde twee faktore in gedagte, is die moontlikheid om ‘n afskaling van 15% in nasionale produksie te sien, nie uitgesluit nie en dit kan tot prysondersteuning lei sodra 'n tekort bo die pyplyn gedurende die volgende bemarkingsjaar (Mei/April, 2015/2016) realiseer. Pryse styg nader aan invoerpariteit onder dié omstandighede.

In hierdie artikel word die huidige markomstandighede vir 2014/2015 bespreek en vooruitsigte vir die 2015/2016-bemarkingsjaar gegee.

imageRekordmielieopbrengs

Suid-Afrikaanse mielieprodusente het vir die 2014/2015-bemarkingsjaar die hoogste gemiddelde mielieopbrengs tot nog toe aangeteken met 5,17 ton/ha. Dit is egter die tweede hoogste mielieproduksie op rekord.

Vanjaar se rekordopbrengs het op 2,688 miljoen hektaar gerealiseer. Die hoogste produksie is gedurende die
1979/1980-produksieseisoen aangeteken, toe produsente 4,423 miljoen ton mielies op 4,268 miljoen hektaar aangeplant het (Grafiek 1).

Uitvoerbare mielievoorraad van 2,6 miljoen ton

Volgens Graan SA se jongste projeksie vir die 2014/2015-bemarkingsjaar, wat teen 30 April 2015 eindig, verwag ons dat Suid-Afrika oor meer as 2,6 miljoen ton se uitvoerbare voorraad mielies beskik. Ons projeksie maak voorsiening vir 1,95 miljoen ton se uitvoere. Die heelmielie-uitvoersyfer het vir die vorige drie jaar tussen 2,446 miljoen ton en 1,813 miljoen ton gevarieer. Die witmielie-uitvoermarkte is beperk en uitvoere is aangewese op die internasionale vraag na geelmielies (Tabel 2).

image

Surplus bo pyplynbehoefte onderdruk pryse

Die huidige gemiddelde weeklikse uitvoertempo is laer as vorige jare, terwyl die eindvoorraadvlak op 30 April 2015 meer as 1,8 miljoen ton kan beloop. Die vereiste pyplynvoorraad is meer as 1,1 miljoen ton wat ‘n surplus bo die pyplyn van 704 000 ton laat.

Die vorige jaar se tekort bo die pyplynvoorraadbehoefte van 753 000 ton, het daartoe gelei dat mieliepryse vanaf uitvoerpariteit tot invoerpariteitsprysvlakke gestyg het. Vanjaar se geprojekteerde surplus van 750 000 ton bo die pyplynvoorraadbehoefte kan daartoe lei dat mieliepryse teen uitvoerpariteitsprysvlakke tot aan die einde van April 2015 verkeer.

Uitvoervraag na Suid-Afrikaanse mielies

Die enigste faktor wat daartoe kan bydra dat mieliepryse vanjaar vanaf die huidige uitvoerpariteitsprysvlakke hoër kan verhandel, is 'n toename in die uitvoervraag na Suid Afrikaanse mielies.

Indien die uitvoertempo tot so ‘n mate kan toeneem dat die totale mielie-uitvoere in die huidige bemarkingsjaar ‘n nuwe rekord van 2,65 miljoen ton mielies kan beloop, behoort pryse aan die einde van die bemarkingsjaar te begin styg.

‘n Totaal van 2,446 miljoen ton mielies is tot so onlangs as 2011/2012 deur Suid-Afrika uitgevoer. Indien nuwe uitvoermarkte realiseer, is dit nie onmoontlik om ‘n groot deel van die beskikbare 2,65 miljoen ton in die huidige bemarkingsjaar te kan uitvoer nie.

Produksievooruitsigte in die Noordelike Halfrondlande (VSA)

Produksievooruitsigte sal egter eers in die Noordelike Halfrondlande drasties moet verswak sodat dit tot hoër internasionale mieliepryse kan lei. Die nuwe seisoen mielies word in die Noordelike Halfrond vanaf Oktober gestroop en produksietoestande tot dan sal bepaal of pryse ondersteuning of verdere prysdruk gaan ervaar.

Die volgende faktore plaas internasionale pryse onder druk, naamlik:

  • Uitstekende produksievooruitsigte in die VSA.
  • Ten spyte van hoë vleisbeespryse in die VSA en laer mieliepryse, kan kuddes nie voldoende uitbrei ná die droogte in die Weste om die veevoeraanvraag na mielies in die mediumtermyn te verhoog nie. Varkgetalle is ook onder druk weens virussiektes.
  • Voldoende mielievoorraadvlakke in China – hulle betaal subsidies sodat plaaslike voorrade voorkeur bo invoere uit byvoorbeeld die VSA geniet.
  • Die VSA is in ‘n stryd gewikkel met China oor Syngenta se MIR 162 (Viptera) en dié kwessie is nog nie, soos verwag, in Junie op geklaar nie. Selfs Distiller’s Dried Grains with Solubles (DDGS) uitvoere deur die VSA word hierdeur nadelig geraak.

‘n Prysondersteunende faktor is egter dat, soos in Suid-Afrika, VSA mieliepryse reeds teen, of onder, produksiekoste is. Die pryse vir grondbesit en huur in die VSA het die hoër mieliepryse weerspieël. Daar is juis sprake dat banke perke op sommige produsente se produksielenings en krediet begin instel het.

Uitvoertempo van geelmielies is bogemiddeld

Die huidige bemarkingsjaar se weeklikse geelmielie-uitvoertempo (teen 27,2% van die beskikbare geelmielies vir uitvoere) is vir die eerste elf weke van die bemarkingsjaar bo die vereiste weeklikse gemiddelde uitvoertempo van 21% (Tabel 1).

image

imageDie totale verwagte uitvoersyfer vir geelmielies beloop
1,4 miljoen ton waarvan slegs 277 367 tydens die skryf
van die artikel uitgevoer is. Die uitstaande hoeveelheid geelmielies wat nog uitgevoer moet word, beloop
1 122 633 ton (Grafiek 2).

‘n Teleurstellende witmielie-uitvoertempo

Die witmielie-uitvoertempo met uitvoere na slegs die
BLNS-lande, Zimbabwe en Mosambiek is egter ver onder
die gemiddeld. Dit verklaar ook die premie wat geelmielies
bo witmielies verdien. Daar is tot op datum slegs ongeveer 8% van die totale heelwitmielievoorraad wat uitgevoer
kan word, reeds uitgevoer. Die verwagte wit mielie-uitvoere behoort 550 000 ton te beloop, terwyl daar slegs 95 724 ton tot dusver uitgevoer is. Die uitstaande hoeveelheid wit
mielies wat nog uitgevoer moet word, beloop 454 276 ton
(Grafiek 3).


 

imageDie totale mielie-uitvoertempo is te laag

In totaal het Suid-Afrika tot op datum nog net ongeveer 18% van die totale mielies beskikbaar vir uitvoere, uitgevoer. Die uitvoertempo vir wit- en geelmielies saam is dus onder die vereiste gemiddelde weeklikse uitvoertempo van 21% ná elf weke, en teen 18%, die laagste vir die afgelope vier bemarkingsjare.

Suid-Afrika het vir die eerste elf weke van die bemarkingsjaar 48 145 ton geelmielies na Japan uitgevoer, 50 078 ton na Italië, 26 226 ton na Portugal en 207 294 ton na Taiwan. Die res is na die BLNS-lande en ander Afrikalande toe uitgevoer.

Hoër kommersiële mielie-aanbod ten spyte van kleiner aanplantings

Die totale hoeveelheid mielies wat vir kommersiële lewerings beskikbaar is, het teenoor die vorige bemarkingsjaar met 21% toegeneem. Hierdie toename word grotendeels daaraan toegeskryf dat die gemiddelde opbrengs met 21,7% tot
5,17 ton/ha toegeneem het.

imageMielies se oppervlakte aangeplant het inteendeel met
93 000 ha (3,3%) afgeneem. Dié afname het plaasgevind terwyl die oppervlakte onder sonneblomsaad aangeplant, met 94 250 ha toegeneem het.

Die oppervlakte onder sojabone het met 13 600 ha afgeneem, terwyl die oppervlakte onder droëbone met
12 270 ha toegeneem het.

Verder het die grondboonhektare met 5 225 ha en die sorghumhektare met 16 230 ha toegeneem.

Totale mielielewerings vir die eerste elf weke van die bemarkingsjaar, ingesluit vroeë lewerings (Maart en April), beloop reeds 8 843 401 ton. Daar is dus 63,7% van die Nasionale Oesskattingskomitee (NOK) se finale produksieskatting gelewer (Grafiek 4).

Die persentasie witmielies wat reeds gelewer is, beloop 57,1% teenoor 71,8% geelmielies. Die uitstaande hoeveelheid witmielies wat nog gelewer moet word, beloop 3 298 325 ton en uitstaande geelmielies 1 784 424 ton.

Kommersiële vraag na mielies

Die binnelandse vraag na mielies behoort ongeveer 4,565 miljoen ton vir voedseldoeleindes en 5,650 miljoen ton vir veevoerdoeleindes te beloop. In totaal behoort die totale binnelandse vraag na mielies 9,919 miljoen ton te beloop indien mielies vir omruilmaaldoeleindes (64 000 ton) asook dit wat onttrek is deur produsente (150 000 ton) en aan eindverbruikers vrygestel (455 000 ton) is, onder meer in ag geneem word. Die totale Suid-Afrikaanse verbruik kan 2,6% teenoor die vorige bemarkingsjaar toeneem.

Binnelandse witmielievoerverbruik en uitvoere

Weens die groot toename in witmielieproduksie en die skerp afname in verwagte witmielie uitvoere, neem die geprojekteerde voorrade witmielies toe. Volgens ons projeksies behoort die voerverbruik van witmielies teenoor geelmielies vanjaar skerp toe te neem omdat die uitvoervraag na geelmielies dit regverdig.

Na verwagting kan die uitvoer van witmielies teenoor die vorige bemarkingsjaar met meer as 40% tot 550 000 ton daal, terwyl die opname van witmielies in die veevoermark hopelik kan verdubbel (115%) tot 1,4 miljoen ton. Die gebrek aan witmielie-uitvoere lei egter daartoe dat die surplus bo die pyplynvoorraad vir witmielies nagenoeg 764 000 ton kan beloop. Dit sal witmieliepryse tot die einde van die bemarkingsjaar kan beïnvloed.

Binnelandse geelmielievoerverbruik en uitvoere

Weens die groter vraag na geelmielies in die uitvoermark hoop ons dat heelgeelmielie-uitvoere teen die einde van die huidige bemarkingsjaar met 24% tot 1,4 miljoen ton teenoor die vorige jaar sal kan toeneem. Dit kan potensieel ‘n tekort bo die pyplyn laat wat plaaslike geelmieliepryse kan ondersteun. Die verbruik van geelmielies in die veevoermark kan weens die verhoogde uitvoere met 20% tot 3,25 miljoen ton daal.

imageDaling in internasionale mieliepryse

Die VSA v.a.b.-mielieprys het sedert 25 Junie vanaf ‘n prysvlak van 9/ton met 9% tot 0/ton op 15 Julie gedaal. Hierdie daling het gevolg nadat VSA sojaboonpryse skerp met 14,5% vanaf 0/ton tot 0/ton gedaal het (Grafiek 5).

Dié daling volg nadat die USDA bekend gemaak het dat VSA sojaboonprodusente 3,3 miljoen acre meer sojabone aangeplant het as wat voorheen verwag is.

Pariteitspryse vir geel- en witmielies verhandel teen uitvoerpariteit

Weens die verwagte surplus en groot oordragvoorraadvlakke vir mielies aan die einde van die 2014/2015-bemarkingseisoen, ver handel mieliepryse na aan uitvoerpariteitsprysvlakke. Geelmielies verdien egter weens die groter uitvoervraag en binnelandse vraag in die veevoermark, ‘n premie van tussen R80/ton en R100/ton bo witmielies.

imageGrafiek 6 dui daarop dat geelmieliepryse vir lewering in Julie 2014 gedurende Maart 2014, pryse van nagenoeg
R3 800/ton aangeteken het.

Pryse het daarna tydens die vroeë lewering van mielies tot einde April 2014 skerp gedaal.

Vanaf die derde week in Junie het die internasionale prys van mielies ook skerp begin daal, wat tot laer uitvoerpariteitsprysvlakke gelei het. Die plaaslike JSE-mieliepryse het die internasionale prysdaling nagevolg.

Die plaaslike mieliepryse het sedert ‘n maand gelede met 9% vanaf R1 950/ton tot R1 775/ton op 18 Julie 2014 gedaal.

Mielieprysvooruitsigte

Ten tye van die skryf van hierdie artikel, het markdeelnemers wat op die JSE deelneem, verwag dat toekomstige pryse vir wit- en geelmielies soos aangedui in Grafiek 8 in die komende maande kan realiseer.

imageTeen die huidige pryse is die produksie van mielies nie winsgewend nie. Die lae pryse kan aanplantings vir die volgende seisoen bo en behalwe die moontlikheid van ongunstige weerstoestande, negatief beïnvloed.

Dit is belangrik om daarop te let dat indien Suid-Afrikaanse produsente in die komende produksieseisoen weer
2 668 000 hektaar aanplant en die opbrengs in plaas van ‘n rekord 5,17 ton/ha, slegs 4,34 ton/ha beloop, daar ‘n
tekort bo die pyplyn van 85 000 ton kan realiseer. Onder hierdie omstandighede geniet pryse ondersteuning om nader aan invoerpariteit te begin styg.

Die 4,34 ton/ha is gelykstaande aan die gemiddelde totale mielieopbrengs van die voorafgaande twee tot drie jaar. Dit is met ander woorde ‘n realistiese opbrengs gebaseer op die twee tot drie jaar voor die huidige rekordopbrengsjaar.

imageTeen die huidige prysvlakke kan verwag word dat produsente minder mielies gaan aanplant omdat pryse onder produksiekoste is en banke perke op produksiefinansiering kan plaas. Indien opbrengste boonop ‘n gemiddelde van die voorafgaande twee tot drie bemarkingsjare gaan wees, kan verwag word dat Suid-Afrika weer teen die einde van 2015/2016 'n potensiële mielietekort kan onder vind indien die land vanjaar daarin slaag om nagenoeg 2 miljoen ton mielies uit te voer.

Aanplantings vir 2015/2016

‘n Laer nasionale opbrengs van 4,37 ton/ha kan teen dieselfde oppervlakte (2 688 000 hektaar) mielies wat in die huidige bemarkingsjaar aangeplant is, ‘n totale mielieproduksie realiseer wat 11 747 000 ton beloop. Die totale mielieproduksie behoort dan 15% laer te wees as die huidige bemarkingsjaar se 13,89 miljoen ton. Teen dié vlak van mielieproduksie, word ‘n tekort van 85 000 ton bo die pyplyn gerealiseer, wat beteken dat pryse ondersteuning kan geniet.

Dit is ‘n klein waarskynlikheid dat dieselfde rekordopbrengs in die komende jaar behaal sal word. Teen dieselfde rekordopbrengs van 5,17 ton/ha moet aanplantings met meer as 15% vanaf 2,688 miljoen tot 2,27 miljoen hektaar verlaag om dieselfde tekort bo die pyplyn van ongeveer 85 000 ton te realiseer.

Indien produsente die afgelope drie jaar se gemiddelde van 2,723 miljoen hektaar aanplant en die voorafgaande drie jaar se gemiddelde opbrengs van 4,37 ton/ha realiseer, beteken dit dat Suid-Afrika teen einde April 2015 ‘n klein surplus bo die pyplyn van 68 000 ton kan realiseer.

Daar is dus ‘n sterk moontlikheid dat, ten spyte van die groot oordragvoorraad teen die einde van April 2015, die voorraadvlakke in die volgende bemarkingsjaar kleiner kan wees. Die verwagte afname in aanplantings weens pryse wat onder eenheidproduksiekoste is, tesame met die groter waarskynlikheid dat opbrengste boonop laer as die huidige rekordopbrengste kan wees, behoort daartoe te lei dat ‘n tekort bo die pyplyn gedurende die 2015/2016 bemarkingsjaar nie uitgesluit kan word nie.

Produsente wat tans nog nie goeie produsentepryse vir hul mielies behaal het nie, behoort in die volgende bemarkingsjaar beter pryse te realiseer.

Publication: August 2014

Section: On farm level

Search