• Login
  • Search Icon

Graanmark-oorsig

July 2015

17 Junie 2015


image

WANDILE SIHLOBO, ekonoom: Bedryfsdienste, Graan SA

Suid-Afrika hierdie jaar 'n netto invoerder van mielies: Van waar kan ons potensieel witmielies invoer?

Die skrif is teen die muur dat Suid-Afrika hierdie jaar ‘n netto invoerder van graan gaan wees ná ‘n ernstige droog te in talle mielieproduserende gebiede van die land. Volgens die Nasionale Oesskattingskomitee (NOK) se vierde produksieskatting sal die totale mielie-oes na verwagting ongeveer 9,8 miljoen ton wees.

Dit is ongeveer 32% laer as die vorige jaar se oes. Hoewel die impak van die droogte wydverspreid was, is die sentrale en westelike gedeeltes van die land, waar die meeste van Suid-Afrika se wit mielies geproduseer word, die sterkste geraak.

Onlangse projeksies deur Graan SA toon dat Suid-Afrika moontlik ongeveer 727 000 ton mielies vir die 2015/2016-bemarkingsjaar sal moet invoer, waarvan 677 000 ton na verwagting geelmielies en 50 000 ton witmielies sal wees.

Invoerperspektief: Van waar kan Suid-Afrika moontlik witmielies invoer?

Suid-Afrika het laas in die 2007/2008-bemarkingsjaar ‘n beduidende hoeveelheid mielies ingevoer. Daardie jaar was die invoere ongeveer 1,1 miljoen ton, waarvan 1,07 miljoen ton geelmielies en die res witmielies was. Hierdie jaar se invoerprojeksie is 35% laer as die volumes wat in 2007/2008 ingevoer is. Ongeveer 62 560 ton geel mielies van die verwagte invoervolumes is reeds sedert Mei 2015 ingevoer. Tot dusver is 67 ton se witmielies ook van Zambië af ingevoer.

Daar is ook groot voorrade geelmielies in die wêreldmark, maar as gevolg van GMO-registrasies kan Suid-Afrika slegs uit sekere lande, soos die Suid-Amerikaanse en Swartsee-lande invoer (ongeregistreerde of niegoedgekeurde gene kan nie ingevoer word nie).

Die geweldige plaaslike gewasverliese kom meestal in die witmielie- produksiegebiede voor, maar Suid-Afrika sal dalk nie baie witmielies hoef in te voer nie, aangesien die plaaslike witmieliebehoeftes na verwagting grootliks deur plaaslike voorraad voorsien kan word. In gevalle waar Suid-Afrika witmielies sal moet invoer, kan moontlike invoere uit Zambië, Mexiko, die VSA en Malawi kom, aangesien dit die enigste toonaangewende witmielie produsente ter wêreld is.

Zambië
Onder hierdie lande is Zambië waarskynlik die land wat aan Suid-Afrika die verwagte 50 000 ton witmielie invoere sal kan verskaf. Hoewel ‘n jaar-tot-jaar-oesverlaging van 21% as gevolg van ongunstige klimaatsomstandighede in Zambië kan voorkom, is daar nog groot voorrade uit die vorige seisoen beskikbaar.

Volgens die 2015/2016 Zambiese nasionale voedselbalansstaat is die land se 2014/2015-mielieproduksie op 2,6 miljoen ton geskat. Daar was ongeveer 876 768 ton mielies vir die uit voermark beskikbaar. Op 11 Junie 2015 was die landingsprys vanaf Lusaka tot in Randfontein ongeveer R3 500/ton, wat ongeveer 23% hoër is as die Safex-prys van R2 845/ton.

Malawi
Ongunstige klimaatstoestande is ook in Malawi aangemeld en dié land kan dus moontlik nie beduidende mielie-uitvoervolumes beskikbaar hê nie.

Volgens die Internasionale Handelsentrum (2015) is die grootste hoeveelheid mielies wat Malawi die afgelope vyf jaar uitgevoer het 500 000 ton, waarvan die meeste na Zimbabwe, Kameroen en die Kongo gegaan het.

Verenigde State van Amerika
Die VSA is onder die voorste witmielieprodusente, met ‘n gemiddelde jaarlikse witmielieproduksie van ongeveer 3,5 miljoen ton. Volgens die Amerikaanse Departement van Landbou (2015) gebruik die land self gewoonlik ongeveer 2,3 miljoen ton. Die hoeveelheid wat vir uitvoer beskikbaar is, is dus ongeveer 1,2 miljoen ton. Die VSA se witmielie-uitvoere gaan gewoonlik na Colombia, Costa Rica, El Salvador, Guatemala, die Honduras, Japan en Mexiko. Dit is onwaarskynlik dat Suid-Afrika uit die VSA sal invoer, aangesien die GMO-gene wat die VSA produseer, meestal nie geregistreer vir plaaslike produksie of vir invoer na Suid-Afrika goedgekeur is nie.

Mexiko
Mexiko is die wêreld se sesde grootste mielieprodusent, derde grootste mielie-invoerder en sesde grootste mielieverbruiker. Gunstige weerstoestande regdeur Mexiko se gewasproduserende streke het in 2015 tot hoër produksieverwagtinge gelei.

Daar is databeperkings op die Mexikaanse mielieproduksie en daarom is dit nie moontlik om tussen wit- en geelmielieproduksie te onderskei nie. Die Internasionale Graanraad beklemtoon egter dat ongeveer 90% van Mexiko se mielieproduksie wit is. Die Mexikaanse landbouministerie meen dat hulle totale mielie-oes 24 miljoen ton in 2015 kan beloop. Daar word nietemin verwag dat Mexiko as gevolg van die toenemende verbruik van tortillas, 10,9 miljoen ton mielies (wit sowel as geel) sal invoer.

Uitvoerperspektief

Suid-Afrika is tradisioneel ‘n netto uitvoerder van mielies, maar hierdie seisoen sal ‘n ander uitdraai hê. Graan SA verwag dat hierdie jaar se uitvoere vanaf 2 miljoen ton in die 2014/2015-bemarkingsjaar tot 580 000 ton hierdie seisoen sal daal.

Tradisioneel gaan uitvoere na Afrika-, Europese, Asiese en Amerikaanse markte. In 2014/2015 was die groot geelmieliekopers byvoorbeeld Taiwan, Japan, Suid-Korea, Portugal, Saoedi-Arabië en Italië. Grafiek 1 dui Suid-Afrika se mielie-uitvoere aan.

image

Die jaar se mielie-uitvoere sal na verwagting hoofsaaklik aan die BLNS-lande, naamlik Botswana, Lesotho, Namibië en Swaziland, gaan. Die Suider-Afrikaanse streek sal hierdie seisoen na verwagting as gevolg van die lae oesverwagting in die groot produserende lande ‘n toenemende vraag na mielies toon.

Volgens die Voedsel- en Landbou-organisasie (2015) kan die streek se mielieproduksie jaar-tot-jaar met 26% daal. Suid-Afrika, Zambië en Malawi, wat belangrike mielieproduserende lande is, verwag almal laer oeste as gevolg van ongunstige klimaatstoestande.

Suid-Afrikaanse produksievooruitsig

Hierdie jaar se mielieproduksie sal die laagste wees sedert die 2006/2007-produksieseisoen, wat ook deur droogte geraak is. Grafiek 2 dui die groot afnames in witmielieproduksie aan wat verwag word. Die NOK se vierde witmielieproduksieskatting is 4,7 miljoen ton.

image

Dit is die laagste oesskatting sedert die 2006/2007-produksieseisoen. Die sentiment in die boerderygemeenskap dui verder daarop dat die finale opbrengste dalk laer as die geskatte oes kan wees. Die produksie van geelmielies word op 5,1 miljoen ton geskat, wat die laagste oesskatting sedert 2010/2011 is.

Suid-Afrikaanse verbruiksvooruitsig

Hoewel mielieproduksie beduidend sal afneem, lyk dit asof verbruik die teenoorgestelde rigting gaan inslaan. Voordat die bemarkingsgedeelte bespreek word, is dit belangrik om te beklemtoon dat daar ‘n verskil tussen die produksiejaar (Grafiek 2) en die bemarkingsjaar (Grafiek 3) is.

image

Die 2006/2007-produksiejaar kan byvoorbeeld met die 2007/2008-bemarkingsjaar vergelyk word. Vanaf die 2007/2008- tot die 2014/2015-bemarkingsjaar het geelmielieverbruik met 17% gestyg (Grafiek 3).

Die toename in verbruik is hoofsaaklik gedryf deur die toenemende vraag uit die veevoerbedryf. Terselfdertyd het die verbruik van wit mielies met 19% gestyg. Die verbruik van witmielies het gevolg op ‘n toenemende vraag na voedsel as gevolg van die groeiende bevolking. Die totale mielieverbruik het met 19% gestyg. Suid-Afrika se mielieverbruik vir 2015/2016 word op 10,1 miljoen ton beraam, wat ‘n skrale 0,5%-styging sedert die vorige jaar verteenwoordig. Toenames word hoofsaaklik in voedselverbruik verwag.

Slot

Daar is nie voldoende witmielievoorrade op die wêreldmark nie. Suid-Afrika sal potensieel ongeveer 50 000 ton witmielies uit Zambië invoer. Daar is nietemin nie ‘n onmiddellike behoefte in die land nie, aangesien die stroopproses steeds aan die gang is. Die Zambiese mielieprys is ook steeds beduidend hoër as die Safex-mielieprys.

Daar is ‘n beperkte moontlikheid dat Suid-Afrika witmielies uit die VSA en Mexiko kan invoer. Mexiko gaan ook ‘n netto invoerder van mielies wees. Geelmielie-invoere sal na verwagting voortgaan, hoofsaaklik uit die Suid-Amerikaanse en Swartsee-streek.

Dit is vir produsente belangrik om die NOK se finale opbrengsskattings dop te hou, aangesien dit die werklike grootte van hierdie jaar se mielieproduksie sal toon, wat ‘n beduidende impak op die bewegings in mieliepryse kan hê.

Publication: July 2015

Section: On farm level

Search