• Login
  • Search Icon

Graanfamilie se tuiste in Pretoria

October 2016

ESTIE DE VILLIERS, redakteur: SA Graan/Grain

Die moderne Graangebou en aanliggende Agri-Hub-kantoorpark wat deur die Mielietrust in Pretoria ontwikkel is, het oor die afgelope jare die tuiste van verskeie lede van die graanfamilie geword.

Volgens mnr Leon du Plessis (uitvoerende bestuurder: L&L Landboudienste) is die Graangebou se doel om huisvesting aan graandiensverskaffers te verleen, terwyl die Agri-Hub kommersiële kantoorspasie bied – as deel van die Mielietrust se vaste-eiendombeleggingsportefeulje.

"Beide ontwikkelings word as een kantoorpark bedryf en bestuur, onder die naam Graangebou Agri-Hub-kantoorpark, maar die wyse waarop bestuur en inkomsteverhaling vir die twee eenhede benader word, verskil beduidend. Die inkomste van die Graangebou word sodanig bestuur dat dit die bedryf direk tot voordeel strek, terwyl die inkomste uit die Agri-Hub ten doel het om die Trust se beleggingswaarde te laat groei. Agri-Hub se inkomste hou dus oor tyd 'n groot voordeel vir die mieliebedryf in," het Du Plessis verduidelik.

Die Graangebou is in April 2010 voltooi en die Agri-Hub in Mei 2015.

Die Graangebou huisves tans die volgende graan- en graanverwante diensverskaffers: SA Graaninligtingsdiens (SAGIS); SA Graanlaboratorium (SAGL); die Landboubesigheidskamer (Agbiz en AgbizGrain); asook SiQ en GeoterraImage (maatskappye wat onder andere met oesskattings behulpsaam is).

Benewens 'n verskeidenheid professionele en kommersiële firmas huur die volgende landbouverwante organisasies tans spasie in die Agri-Hub: Die Vereniging van Veevoervervaardigers (AFMA), SA Cereals and Oilseeds Trade Assiociation (SACOTA), Nasionale Meulenaarskamer (NCM), Buro vir Voedsel en Landboubeleid (BFAP), Wintergraantrust, Vrugte SA (Fruit Mzansi SA), die Sitruskwekers-assosiasie se Ontwikkelings maatskappy (CGA SA), Mielietrust, Mielieforum, Koringforum, Sorghumtrust, Sorghumforum, Sasol Land boutrust en L&L Landboudienste (wat die bestuur van verskeie landboutrusts en ander graan-organisasies, onder andere die kantoorpark, namens die Mielietrust behartig).

Onderhandelings is tans aan die gang met ander landbouverwante en kommersiële organisasies om die oorblywende spasie in Agri-Hub op te neem.

Die Graangebou Agri-Hub-kantoorpark is geleë in Witheritestraat 477, Die Wilgers, Pretoria. Graan SA se kantore is in die Alenti-kantoorpark, net langs dié een, geleë.

Graanfamilie se tuiste in Pretoria

Publication: October 2016

Section: Relevant

Search