• Login
  • Search Icon

Graan SA/Syngenta Graanprodusent van die Jaar-finalis

June 2014

Hulpbronkennis en -optimering vorm die basis van dié boerdery se bestuur — CD du Toit
 

PIETMAN BOTHA, SA Graan/Grain medewerker

In die omgewing van Riversdal en Napier bedryf CD du Toit en sy broer, Erhardt, hul boerdery. Hierdie graanprodusente verbou hoofsaaklik koring, kanola, lupiene en gars. Ten einde die hulpbronne optimaal te benut asook om risiko te verskans, word daar op Riversdal ook met skape en volstruise geboer.

Volgens CD (en soos talle produsente weet), kan reën nie gemaak word nie, maar moet die reën wat ontvang word, so bestuur word dat dit die beste opbrengsresultate lewer. Hy noem dat dit net gedoen kan word deur die grond so ver as moontlik reg te maak en gewasse en gewaskombinasies optimaal te bestuur om wins te maksimeer.

CD het begin boer toe dit nie maklik was om te boer nie. Hy onthou nog goed hoe hy 25% rente moes terugbetaal en hoe die rente wat dié spesifieke jaar betaal moes word, meer as die koöperasierekening was. Dít en sy voorliefde vir grond asook sy wil om te boer het hom aangespoor om die beste van sy lewe te maak.

image

Passie vir grond

“Van kleins af het grond my gefassineer en daar was ‘n paar trekkerongelukkies omdat ek eerder agter na die grond as voor my gekyk het terwyl ek as kind lande bewerk het,” vertel CD.

CD was in ‘n gelukkige posisie om hierdie passie vir grond verder te kon bestudeer en te ontwikkel. Op universiteit het hy Akkerbou, Grondkunde en Landbou-ekonomie studeer, terwyl hy op ‘n moeilike plaas geboer het.

Dit het hom gehelp fokus om die gronde beter te verstaan en hul aanwendingsgeleenthede raak te sien. Gelukkig kon hy ook die moeilike vrae in hierdie tyd aan die geleerdes vra en so kon hy die praktiese ervaring en die teorie met mekaar trou.

Produksiestelsels

“Om volhoubaar te bly boer, is die winsgewendheid van enige stelsel net so belangrik soos die produksie vanaf hierdie stelsel. Alles begin by doelwitte en die beplanning om hierdie doelwitte te bereik. Die beplanning moet ook omgesit word in ‘n volledige kontantvloei wat ten minste vir ‘n jaar vooruit opgestel word. Hierdie beplanning is ‘n proses wat deurentyd aangepas moet word. As pryse verander, moet dit in die toekomstige kontantvloei gereflekteer word. Die kontantvloei help ook om te sorg dat aankope oordeelkundig gedoen word en dat die fokus op die regte plekke gehou word. Aankoopbeplanning is net so belangrik soos verkoopsbeplanning en bestuur,” meen CD.

Met die huidige termynmark is daar baie geleenthede om gewaspryse te verskans. CD het moeite gedoen en meer oor die gebruik en aanwending van die termynmark geleer en pluk vandag die vrugte daarvan. Met die begrotingsinligting is die gewasse se gelykbreekprysvlakke bekend en word die pryse hiervandaan bestuur. Die inligting word ook gebruik om te besluit of graan eerder verkoop moet word of deur die skape of volstruise benut moet word.

Indien daar niks is om te verkoop nie, is daar ook geen inkomste nie. Om hierdie rede beywer CD hom daarvoor om te sorg dat alle gewasse optimaal produseer. Bewaringsboerdery asook biologiese boerdery word in kombinasie aangewend om die winsgewendheid en volhoubaarheid van die stelsel te verhoog.

Dit beteken dat die grond so min as moontlik versteur word, dat die grond so lank as moontlik bedek moet bly en dat die gewasse afgewissel moet word. Op die Napier-boerdery word ongeveer die helfte van die oppervlakte met koring geplant, terwyl die res van die lande vir kanola- en lupiene-produksie aangewend word. Die lande in Napier word nie deur vee bewei nie en die oesreste word gebruik om vog te bewaar en die biologiese lewe van die grond te stimuleer.

Veeproduksie

Die Riversdal-plaas is geleë in ‘n gebied wat meer reën as Napier kry en somerreën kan ook verwag word. Om hierdie rede word die plaas aangewend vir beide graan- en veeproduksie. Op dié plaas bestaan die veevertakking hoofsaaklik uit Dohne Merino’s en jong volstruise.

Die Dohne Merino’s produseer speenlammers en wol, terwyl jong volstruise tot op slagouderdom op die plaas uitgegroei word. Voervloei vir die vee en voëls word hoofsaaklik opgemaak uit lusern, kanola en natuurlike weiding.

Ten einde die gewasse te wissel, word die lusern vir vier jaar in produksie gehou en dan gewissel met koring opgevolg deur kanola, koring en weer met kanola waarin die lusern weer gevestig word. Die kontantgewasse word so min as moontlik bewei ten einde vog te bewaar en om die biologiese lewe in die grond te stimuleer.

Biologiese boerdery word op hierdie plase gebruik om koste te verminder. “Die oesreste op die grond hou die grond nat en beheer die grondtemperatuur en dit stimuleer biologiese aktiwiteite en lewe in die grond,” sê CD. Die biologiese lewe in die grond vorm ook ‘n groot klomp stikstof in die bogrond wat die gewasverbouingskoste afbring.

image

Grondontledings en -regstellings

Ongelukkig leef die mikroörganismes nie net van oesreste nie en daarom sorg CD en Erhardt dat die gronde op ‘n gereelde basis reggestel word. Presisie-grondontledings word op ‘n gereelde basis elke drie of vier jaar geneem.

Hierdie resultate word gebruik om aan te dui waar regstellings gedoen moet word. CD besluit self hoeveel van watter elemente toegedien moet word. Die regstellings word gedoen deur die kalsium-magnesiumverhoudings te balanseer, om die regte kalk op die regte plekke te strooi, die grondfosfaat aan te vul en om veral hoendermis op die lande uit te strooi. Al hierdie regstellings word gedoen deur presisieboerderytoerusting te gebruik.

Met behulp van hierdie natuurlike mikrobes, kon die Du Toit Boerdery dit regkry om hul bemestingsrekening oor tyd af te bestuur. Vandag word hoë opbrengste verkry, met relatiewe lae bemestingsinsette.

Dit is vir hulle belangrik om te weet hoeveel stikstof in die grond is en daarom word daar jaarliks ontledings gedoen om dit te bepaal. Die bemesting wat toegedien word, moet ook in die stelsel aanpas en daarom word min anorganiese bemesting toegedien.

Vir CD is dit belangrik dat die gewasse se wortels in staat moet wees om die grondprofiel behoorlik te benut. Op hierdie plase is dit die geval en CD skryf dit toe aan gesonde grond met hoë vlakke van organiese stikstof en lae stikstofbemesting tydens plant.

Die ontbindende plantmateriaal verskaf ook later in die groeiseisoen die stikstof om seker te maak dat die koring aan die vereiste standaarde voldoen. Indien topbemesting toegedien word, gebruik hulle opgeloste ureum gemeng met humate wat dan uitgespuit word. Die ekstra topbemesting word in drie paaiemente aan die plante verskaf.

Plaagbeheer

Onkruidbeheer en skoon lande is ‘n vereiste vir hierdie boerdery. Jong onkruide en opslag word ná stroop, tot kort voor-plant met 'n nie selektiewe onkruiddoder beheer. Jong onkruide beheer maklik en lae dosisse onkruiddoder word dus benodig.

Omrede wisselbou toegepas word, kan die grasse hoofsaaklik in die kanola, lusern en lupiene beheer word, terwyl die breëblaaronkruide hoofsaaklik in die koring, gars, lusern en Clearfield-kanola beheer word.

Tydens plant word seker gemaak dat die plantestand by die hulpbronne aanpas. Plantestand word ook gebruik om onkruide te beheer en daarom poog die boerdery om rondom 50 plante per vierkante meter te realiseer. Dié plantestand is ook op die plaas getoets en werk vir hierdie boerderystelsels.

Tog het dié boerdery ook sy eie probleme en uitdagings. Slakke is een uitdaging wat bestuur moet word. Alhoewel daar na nuwe biologiese beheermetodes gesoek word, is hul tans aangewese op die gebruik van chemiese middels.

Meganisering

Masjinerie is ‘n baie duur item op ‘n plaas. CD en Erhardt is in die gelukkige situasie dat masjiene oor en weer gebruik kan word om die werktyd van duur kapitaalitems uit te brei. Geskikte arbeiders is baie skaars en daarom poog dié boerdery om so ver as moontlik te meganiseer. Masjinerie en nuwe tegnologie maak ook die werk baie makliker.

Vir ‘n boerdery om te bly voortbestaan, is verandering en aanpassing ‘n vereiste. Om te kan verander is kennis nodig en om hierdie rede bly CD ‘n leerder. Hy bly sy kennis uitbrei deur baie te lees, kursusse by te woon en deur hom te omring met medeprodusente wat bereid is om hul kennis en ervarings met hom te deel.

Ten einde vir die nuwe geslagte voorsiening te maak, word daar hard gewerk om die besigheid te bly groei. “Daar moet plek wees vir die seuns in hierdie boerdery en hulle moet hul passies hier kan kom uitleef,” sê CD.

CD meen deur vir die grond te sorg, die natuur sinvol te gebruik en die grond te bedek, help dit om die bankbestuurder gelukkig te hou en dít maak dat hierdie boerdery ‘n waardige Graanprodusent van die Jaar-finalis is. Vir verdere inligting, kan CD du Toit gekontak word by 082 829 5928.

Publication: June 2014

Section: Input Overview

Search