• Login
  • Search Icon

Graan SA Winterreënvalstreek koördinerende-komitee vergader

October 2014

LIANA STROEBEL, provinsiale koördineerder, Graan SA

image

Die Graan SA Winterreënvalstreek koördinerende-komitee wat uit streek 26 (Swartland) en streek 27 (Suid-Kaap) se streeksbesture bestaan, het op 17 Junie in die Paarl vergader.

Verskeie onderwerpe is in diepte bespreek wat insluit navorsing in terme van medics, koringkultivars en nagmuise, die inname van die 2013-garsoes, die koringtarief, graderingsregulasies, bewaringslandbou in die Wes-Kaap asook die registrasie van chemiese middels en grondhervorming.

Mnr Wessel Lemmer (senior ekonoom, Bedryfsdienste, Graan SA) het ook die geleentheid gehad om streek 26 en streek 27 bestuurslede op hoogte te bring van die nuutste markinligting. Verslag is gelewer rakende die Graan SA Ontwikkelingsbeen se werksaamhede in die Wes-Kaap wat aspekte soos studie groep vergaderings, die vestiging van netwerke, mentorskap, produsente- en plaaswerkeropleiding en algemene ondersteuning insluit.

‘n Interessante voorlegging is deur me Rita Andreas en me Magrieta Futhwa van die Nasionale Plaaswerkersforum aangebied. Hierdie Plaaswerkersforum se hoofdoel is om 'n platform vir kommunikasie te skep. Die forum bestaan slegs uit plaaswerkers en plaaseienaars.

Hulle uitgangspunt is dat plaaswerkers hulself kan organiseer en uit een mond praat en dat hulle nie nodig het om deur vakbonde verteenwoordig te word nie. Hulle wil direk met plaaseienaars werk en glo dat deur goeie kommunikasie, spanwerk en vertroue daar positiewe verhoudinge gehandhaaf kan word wat sal lei tot ‘n groter mate van produktiwiteit asook die opheffing van plaaswerkers ten einde ‘n gesonde landbousektor te bewerkstellig. Die verteenwoordigers van die Plaaswerkersforum is baie positief deur die vergadering ervaar en daar word uitgesien na verdere samewerking.

Publication: October 2014

Section: Grain SA

Search