• Login
  • Search Icon

Graan SA verheug oor uitvoere na Venezuela en Meksiko

November 2011

image

BARRETT SCHOEMAN, LANDBOU-EKONOOM: MARKOMGEWING, GRAAN SA

Suid-Afrikaanse mielies het nóg ‘n deurbraak op die wêreldmark gemaak toe Venezuela vir die eerste keer ‘n vrag witmielies ingevoer het.

SAGIS het in die week van 14 Oktober 2011, gerapporteer dat Suid-Afrika ‘n groot vrag witmielies uitgevoer het. Die meerderheid van die witmielies is na Venezuela (25 587 ton) en Meksiko (55 707 ton) toe uitgevoer.

Nuwe uitvoerbestemmings vir witmielies na lande soos Meksiko, Italië en Korea is ontwikkel met die doel om moontlike langtermynverhoudinge met dié lande te bewerkstellig. Dit maak Venezuela die vierde land op die lys van diepsee uitvoermarkte vir plaaslike witmielies. Korea het 47% van die geelmielies wat tot dusver uitgevoer is, aangekoop. Ander diepsee uitvoerlande van geelmielies sluit in Koeweit, Japan, Taiwan en Iran.

Tot dusver is die grootste gedeelte van die mielies (84%) wat uitgevoer is, diepsee uitvoere gewees (Tabel 1). In die verlede was Suid-Afrika se uitvoere hoofsaaklik op Afrikalande, soos Kenia, gefokus.

image

Om verskeie redes het tradisionele uit voerbestemmings in Afrika meer selfvoorsienend geraak. Die lande se afhanklikheid van in voere het sedertdien afgeneem en tot gevolg gehad dat die uitvoerprentjie vir Suid-Afrika verander het. Suid-Afrika is egter geposisioneer om die witmieliemark in Afrika te kan dien, maar ook om lande in die Ooste, soos Sjina en Korea, van geelmielies te kan voorsien.

Tot dusver is 929 709 ton witmielies en 645 675 ton geelmielies in die 2011/2012-bemarkingsjaar uitgevoer (Tabel 2). In dieselfde tydperk verlede jaar is slegs 308 701 ton witmielies en 384 297 ton geelmielies uitgevoer.

image

Geelmielies is hoofsaaklik na Korea uitgevoer, waar dit meestal vir voerdoeleindes aangewend word. Die meerderheid van die witmielies is na Meksiko toe uitgevoer, waar dit vir die maak van tortillas as ‘n tradisionele stapelvoedsel gebruik word.

Indien die huidige hoë uitvoertempo van mielies volgehou sal kan word, projekteer Graan SA dat nagenoeg 1,24 miljoen ton witmielies en 760 000 ton geelmielies dié bemarkingsjaar uitgevoer kan word. Volgens die vraag en aanbod-beramings stuur Suid-Afrika op ‘n knap voorraadsituasie af. Produsente word aangeraai om in hul produksiebeplanning van die verwagte “tekort”-situasie kennis te neem.

Venezuela

Die uitvoere na Venezuela het gerealiseer nadat Graan SA, in samewerking met die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye (DAFF) en die SA Handelaarsvereniging (SACOTA), verlede jaar in November aksies begin neem het om moontlike uitvoere na dié land te kan bewerkstellig.

Met die hulp van die DAFF, wie verantwoordelik is vir die uitreik van die toepaslike uitvoerpermitte en ander kundiges, is ‘n sogenaamde Peste Risiko Analise (PRA) opgestel wat Venezuela in staat stel om die risiko wat mielie-invoere vanaf Suid-Afrika na Venezuela kan insluit, te ontleed.

Die dokument is hierna in Spaans vertaal en aan die betrokke owerhede in Venezuela deurgegee. Die owerheid kon dit dus gebruik om ingeligte besluite oor die moontlike risiko’s ten opsigte van plantegesondheidsaspekte te neem. Sedertdien blyk dit dat die regering in Venezuela, Suid-Afrika as ‘n bron van moontlike invoere goedgekeur het en die eerste witmielie-uitvoere is hierna geboek.

Die tydsverloop vir goedkeuring van uitvoere neem normaalweg langer as twee jaar. Goeie samewerking vanaf rolspelers en druk vanaf die mieliebedryf om nuwe diepsee uitvoerbestemmings te vind, het egter die tydsduur verkort na minder as ‘n jaar.

Venezuela het volgens die Amerikaanse regering se Buitelandse Landboudiens (USDA, FAS) die afgelope vyf jaar gemiddeld sowat 1,48 miljoen ton mielies per jaar ingevoer om in die plaaslike vraag te kan voorsien (Tabel 3). Bogemiddelde reënval gedurende April en Mei het die aanplantproses van die 2011 mielie-oes vertraag en gevolglik tot opbrengsverliese gelei.

image

In Venezuela word witmielies hoofsaaklik gebruik vir die maak van ‘n inheemse tipe brood genoem ‘n “arepa”. Die brood word in ‘n pannekoekvorm of in olie gediepbraai, gebak, gekook of gerooster. Die plat, ronde brood word tradisioneel met vleis, eiers, tamaties, slaai, kaas, garnale of vis gevul. ‘n Arepa is soortgelyk aan ‘n tortilla.

Meksiko

Alhoewel Meksiko die wêreld se grootste produseerder van witmielies is, oorskry die plaaslike verbruik die produksie van mielies (Grafiek 1). Die produksie van mielies in Meksiko het in 2009/2010 en 2010/2011 weens ongunstige toestande tot lae vlakke gedaal. Die vraag het egter meer ‘n sywaartse tendens getoon in die tydperk en gevolglik het voorrade tot vlakke wat kommer wek, gedaal. ‘n Hoër verwagte produksie in 2011/2012 van 24 miljoen ton kan voorraadvlakke weer herstel, maar verwagtinge is dat die vraag die jaar met 13% tot 32,1 miljoen ton kan toeneem.

image

Gedurende die eerste agt maande van die jaar, moes Meksiko alreeds 854 199 ton witmielies vanaf die VSA en Suid-Afrika invoer. Die FAS het in Oktober geprojekteer dat Meksiko dié seisoen (Oktober 2011 -September 2012) 9,2 miljoen ton mielies, wat 15% meer is as verlede jaar, gaan moet invoer (Grafiek 1).

Tortilla-pryse in Meksiko het die afgelope maand hoogtepuntprysvlakke van 11 pesos of 83 VSA sent per kilogram, wat 13% hoër is as in Oktober 2010, bereik.

Uitermatige koue toestande, gevolg deur droogtes, het mielie-opbrengste verlaag en prysvlakke die hoogte in laat skiet. Die hoë prysvlakke wek kommer aangesien tortillas ‘n stapelvoedsel vir ‘n groot deel van veral die landelike, arm Meksikaanse bevolking is. Die families in die landelike sektor spandeer meer as ‘n derde van hul daaglikse verdienstes op tortillas.

Sjina

Daarby wink die graanhonger Sjina nou ook, nadat dieselfde proses as met Venezuela, om die nodige protokolle tussen die twee regerings te vestig, onlangs afgehandel is.

Hierdie proses is pas met Sjina afgehandel nadat ‘n amptelike afvaardiging van dié land Suid-Afrika in die afgelope strooptyd besoek het om ondersoek in te stel. Graan SA en ander rolspelers se pogings om nuwe uitvoerbestemmings binne die BRICS-lande te ondersoek het daartoe gelei dat nuwe uitvoerbestemmings soos Sjina, Suid-Afrika as ‘n moontlike handelsvennoot in dié verband oorweeg.

Dit is dus duidelik dat Suid-Afrika nie net geposisioneer is om die witmieliemark in Afrika te kan dien nie, maar ook geleë is om lande in die Ooste van geelmielies te voorsien. Diepsee uitvoere na hierdie lande sal volgehou kan word, solank internasionale pryse en gunstige wisselkoersverhoudings tussen Suid-Afrika en hierdie lande gehandhaaf word.

Bronne

USDA, FAS. PSD online, “Grain: World markets and Trade”.
GIEWS, Country briefs, Venezuela.
Landbouweekblad.com, “SA mielies eerste keer na Venezuela”, 19 Oktober 2011.
SAGIS

Publication: November 2011

Section: Wenartikels

Search