• Login
  • Search Icon

GRAAN SA vereer wenprodusente van 2012

November 2012

ELMARIE SCHOEMAN, SA GRAAN/GRAIN MEDEWERKER

image

image

“‘n Volk wat vir sy landbou sorg, sorg vir sy toekoms.” Só het Antonie Delport (besturende direkteur: Syngenta Suid-Afrika) vir SP le Roux, destydse Minister van Landbou, aangehaal tydens vanjaar se Graan SA/ Syngenta Graanprodusent en Graan SA/Absa Ontwikkelende Graanprodusent van die Jaar-glanstoekenningsfunksie wat op 12 Oktober by The Theatre On The Track in Midrand plaasgevind het.

Die Graanprodusent van die Jaar-toekenning in die kommersiële afdeling het aan Gilly Scheepers van die Fouriesburg-omgewing gegaan, terwyl Israel Motlhabane van Wesselsbron as die Ontwikkelende Graanprodusent van die Jaar aangewys is.

Dit was die dertiende keer wat hierdie toekenning oorhandig is sedert alle grane hierby ingesluit is. Die Graanwetenskaplike/Landboukundige van die Jaar-titel is aan prof Maryke Labuschagne van die Universiteit van die Vrystaat toegeken.

Die Graanprodusent van die Jaar-toekenningsgeleentheid gee nie net erkenning aan die finaliste nie, maar ook aan alle graanprodusente in Suid-Afrika wat hul ondernemings met soveel toewyding en passie bedryf dat dit ‘n voorbeeld vir ander kan wees.

Louw Steytler (voorsitter: Graan SA) meen sulke toekennings het ‘n beduidende effek op graanprodusente: “Hieruit sal daar iets beter voortkom.

“Deur ons toegewydheid tot ons saak in ons land en met die regte grondwetlike en ekonomiese benadering, sal dit ‘n goeie toekoms vir ons almal wees. Die graanprodusente van Suid-Afrika is volkome toegewy aan die land en sy toekoms.”

Moet groeiende populasie voed

Volgens Delport gaan produsente in die volgende 40 jaar dieselfde hoeveelheid voedsel as in die afgelope 8 000 jaar moet produseer om die groeiende populasie te voed.

“Hoe gaan ons 9 miljard mense voed en steeds die planeet onderhou? Ons sal bloot maniere moet kry om meer uit minder te produseer. Baie dankie aan al die graanprodusente vir julle nougesette verantwoordelikheid wat toesien dat daar genoeg voedsel in die land is en dat ons op julle kan vertrou,” het hy gesê.

Brienne van der Walt (groephoof: Absa AgriBesigheid) het hierby aangesluit deur te noem dat die hoeveelheid mense wat nie genoeg het om te eet nie tans op ongeveer 800 miljoen staan en nie binne kort gaan daal nie.

“Die Verenigde Nasies se voedsel en landbou-organisasie se syfers dui aan dat daar 22 lande is, waarvan 16 in Afrika is, waar die ondervoedingsyfer meer as 35% is. Sub-Sahara Afrika en Suid-Amerika besit tans die enigste spaar landboukapasiteit om hierdie tendens teen te werk. Niemand gaan Afrika in die 21ste eeu voed nie, slegs Afrika self kan dit doen.” Hooggeplaastes en sleutelrolspelers in die bedryf het ook die geleentheid bygewoon. Mev Naledi Pandor, minister van Binnelandse Sake, en dr Pieter Mulder, adjunkminister van Landbou, Bosbou en Visserye, was teen woordig asook verteenwoordigers van talle landboubesighede, insetverskaffers en trusts.

Prysgeld

Gilly en René Scheepers ontvang ‘n sewe dae vakansie vir twee in Switserland en die ander twee finaliste, Francois en Pieter Eksteen en Johan en Johan (jr) van Huyssteen kan uitsien na ‘n naweek vir twee by die Lanzerac Hotel en Spa. Al hierdie pryse is deur Syngenta geborg.

Israel Motlhabane se prysgeld beloop R27 500, geborg deur Absa, terwyl die ander twee finaliste, John Motsoeneng en Khaya Nkuhlu, elk R13 750 ontvang.

Publication: November 2012

Section: Other Articles

Search