• Login
  • Search Icon

Graan SA pak sorghumkultivarproewe aan

September 2017

Petru Fourie, navorsingskoördineerder en produksiekoste-analis, Graan SA

Graan SA, in samewerking met die sorghumsaadmaatskap­pye (Pannar, K2Agri, Agricol en Sensako), is in die tweede jaar van sy sorghumkultivarproefprojek. Die doel van die projek is om die winsgewendheid en volhoubaarheid van sorghumproduksie in Suid-Afrika te bevorder deur die aanpasbaar­ste kultivar vir elk van die produksiegebiede te identifiseer.

Lokaliteite
Strookproewe is, soos verlede jaar, die afgelope seisoen op vier lokaliteite aangeplant. Die proef in die Vrystaat is deur swerms kweleas aangeval, omdat betreklik min soet sorghum in daardie omgewing aangeplant is. Die ander drie lokaliteite is gestroop en daar met trots genoem kan word dat dit uitsonderlike “netjiese” proewe was.

Die vier lokaliteite was soos volg:

  • Limpopo – Settlers (gestroop);
  • Mpumalanga – Standerton (gestroop);
  • Vrystaat – Koppies (kweleas); en
  • Noordwes Provinsie – Sannieshof (gestroop).

Kultivars en kontrole
Kultivars wat kommersieel beskikbaar is, sowel as potensiële "goeie" kultivars wat nog nie kommersieel beskikbaar is nie, is in die proewe ingesluit. Pannar se PAN 8816 is as kontrole gebruik.

Resultate
Strookproefresultate kan gebruik word om die beste kultivars met die regte eienskappe te identifiseer en sodoende die aanpasbaarste kultivar vir ‘n spesifieke omgewing aan te plant. Wanneer dié resultate vir Sannieshof van nader bekyk word, moet daar kennis geneem word dat dié data slegs een jaar se resultate insluit, terwyl daar twee jaar se data vir Standerton en Settlers is.

Tabel 1 tot Tabel 3 verskaf die opbrengste per kulti­var, gemiddelde opbrengs per gebied en elke gebied se koëffisiënt van variasie (KV). Die koëffisiënt van variasie dui die statistiese korrektheid van ‘n proef aan. ‘n Waarde laer as 15 word as statisties goed beskou, met ander woorde hoe laer die koëffisiënt van varia­sie, hoe meer aanvaarbaar die proef se akkuraatheid.

Standerton
In Tabel 1 word die opbrengsdata vir Standerton vir die afgelope twee produksieseisoene aangetoon. Die koëffisiënt van variasie was laag (9,67%) vir die 2016/2017-seisoen; die proef is derhalwe goed uitgevoer en die resultate is betroubaar.

Pannar se kultivar PAN 8940T het die hoogste opbrengs in die 2016/2017-seisoen behaal en was beduidend hoër as die ander kultivars. PAN 8940T was ook die enigste bittersorghumkultivar wat in dié proef ingeskryf was.

Agricol se Enforcer en Dominator het die tweede en derde beste presteer, gevolg deur Pannar se PAN 8933. Waar kultivars twee jaar agtermekaar in die proef ingeskryf is, is die gemiddeld bereken.

Met die uitsonderlike goeie klimaatstoestande wat voorgekom het, is ‘n uitmuntende gemiddelde opbrengs van 9,94 t/ha vir die proef behaal.

Settlers
Tabel 2 toon Settlers se opbrengsdata vir die afgelope twee pro­duksieseisoene. Agricol se Enforcer het die hoogste opbrengs in die 2016/2017-seisoen behaal en was slegs ‘n rapsie hoër as Dominator – wat ook Agricol se kultivar is. K2Agri se Mr. Buster het die derde beste presteer, gevolg deur ‘n Pannar kultivar.

Die koëffisiënt van variasie was laag (6,83%) vir die 2016/2017-seisoen se proef en ‘n gemiddelde opbrengs van 4,34 t/ha is behaal. Die hoër gemiddelde opbrengs vir die huidige seisoen is duidelik sigbaar, vergeleke met verlede seisoen toe 2,63 t/ha behaal is. Waar kultivars twee jaar agtermekaar in die proef ingeskryf is, is die gemiddeld bereken.

Sannieshof
Dit is belangrik om kennis te neem dat dié proef by Sannieshof slegs een jaar se resultate insluit. Die gemiddelde opbrengs van die proef was 3,39 t/ha. Agricol se Enforcer se gemiddelde opbrengs was die hoogste, gevolg deur Pannar se PAN 8816 en PAN 8906 (sien Tabel 3). Die koëffisiënt van variasie van die proef was 7,55 – wat uitstekend is.

Koppies
Die proef in die Vrystaat is die afgelope twee jaar nie gestroop nie. Die eerste jaar weens die knellende droogte, waarna swerms kweleas in die tweede jaar groot skade aangerig het. Geen data is derhalwe beskikbaar vir hierdie distrik nie.

Slotsom
Graan SA spreek sy dank uit aan elke individu wat saam hande vat en saamwerk om die plaaslike sorghumproduksie te bevorder deur dié projek aan te pak. So ‘n taak kan nie sonder hulle uitgevoer word nie – eerstens sonder ‘n toegewyde, doelgerigte produsent nie en tweedens die samewerking en bystand van Pannar, K2Agri, Agricol en Sensako.

Publication: September 2017

Section: On farm level

Search