• Login
  • Search Icon

Graan SA besoek Noble se persaanleg op Standerton

December 2014

WILLEM VOOGT, bestuurder: Bemarking en Finansiële Dienste, Graan SA

Graan SA se Sonneblom- en Sojaboonwerkgroep het op 9 September vanjaar, na afloop van die werkgroepvergadering op Standerton, ‘n besoek gebring aan Noble se nuwe persaanleg.

Met ‘n rekordsojaboonoes van 944 000 ton in 2013/2014 en die nuwe plantseisoen wat om die draai is, wonder produsente oor besluite rondom aanplantings vir 2014/2015. Die sojabedryf het geweldige positiewe groei getoon, maar die mark is nog relatief onvolwasse in vergelyking met dié van mielies. Produsente het baie vrae rondom die aantal nuwe persaanlegte in die bedryf. In die lig hiervan, het Graan SA, onder leiding van mnr Jan Grey (voorsitter van die Sonneblom- en Sojaboonwerkgroep), die besoek aan die pers gereël.

Noble het uit hulle pad gegaan om Graan SA-groep welkom te laat voel en ons is dankbaar om te sien hoe bereidwillig hulle is om by produsente betrokke te wees.

Volgens Noble pers die aanleg tans gemiddeld 1 000 ton per dag en is 24 uur per dag, sewe dae ‘n week operasioneel. ‘n Eenvoudige berekening vertel ons dat die aanleg moontlik meer as ‘n derde van die sojaproduksie in Suid-Afrika kan opneem. Indien die aanleg, soos hy nou daar staan, op volle kapasiteit hardloop, behoort hy 1 500 ton per dag te kan prosesseer. Die aanleg beskik oor van die mees tegnologiesgevorderde toerusting om kwaliteit te toets terwyl vragte geweeg word en die nodige klaring verkry word.

Die aanleg kan ook bykans 80 000 ton graan op die perseel stoor en beskik oor die vermoë om binne ‘n paar dae oor te skakel om sonneblom te kan pers. Tans word sojabone ontvang van silo’s asook vragte direk vanaf plase.

Knapgedaan aan Noble vir hulle investering in die bedryf, wat langtermynvoordele vir ons lede sal inhou.

image

Publication: December 2014

Section: Grain SA

Search