• Login
  • Search Icon

Graan SA besin oor die pad vorentoe

April 2011

– Fotobeeld van Kongres 2011

MARNA SWART, SKAKELBEAMPTE, GRAAN SA EN SA GRAAN/GRAIN REDAKSIE

Graan SA: Gerat vir die toekoms. Dít was die tema van die jaarlikse Graan SA Kongres wat gehou is op 9 en 10 Maart 2011 op NAMPO Park buite Bothaville. Die Kongres het daarop gefokus om ‘n nuwe denkwyse daar te stel om die uitdagings van die toekoms aan te spreek.

Talle vooraanstaande sprekers het Kongresgangers se denke geprikkel en gesorg vir ‘n baie insiggewende geleentheid.

Mnr Rick Tolman, die hoof uitvoerende beampte van die National Corn Growers Association van die VSA, het Kongres gangers toegelig oor hoe bedryfsorganisasies in die VSA daar uitsien. Tolman het verduidelik dat aanvalle van regerings, omgewingsgroepe en ander bedrywe teen landbou nie net in Suid-Afrika voorkom nie. Hy het verder gesê dat deur middel van aggressiewe advertensieveldtogte hulle die beeld van produsente poets.


“Nuwe landbou in Suid-Afrika” is verduidelik deur prof Mohammad Karaan (dekaan: Fakulteit van Agri-Wetenskappe by die Universiteit van Stellenbosch). Karaan het kwessies rondom grondhervorming en arbeidswetgewing aangeraak en het produsente aangemoedig om nie net terug te sit nie, maar self aan die stryd deel te neem om die verval van die land aan te spreek.

Dag 1 van Kongres is op ‘n hoogtepunt afgesluit toe mnr Quinton Coetzee (motiveringspreker) die San se leefwyse gebruik het om te bewys dat geen enkele persoon of besigheid sukses sal bereik as hul nie die waarde van samewerking besef nie. Hy het afgesluit deur die San se jaggewoontes te gebruik om onder andere voorbereiding, die identifisering van elkeen se vaardighede en kommunikasie in samewerking te beklemtoon.

In sy voorsittersrede (by wyse van ‘n DVD) het mnr Neels Ferreira terugvoer gegee oor die organisasie se bedrywighede die afgelope jaar. Hy het produsente verseker dat dit hoog op die agenda van Graan SA bly om aktief deel te neem aan aksies om vir plaaslike produsente groter beskerming teen invoere van produkte wat gesubsidieer word, te verkry. Hy het onder andere ook verwys na die gesprekvoering met die regering en die Mededingingskommissie oor ‘n uitvoerpoel  vir mielies om ‘n binnelandse vraag na ons graan en oliesade te skep, tot voordeel van die land en al sy mense.

Dr Kobus Laubscher (voormalige hoofbestuurder van Graan SA) het in sy uittreerede gesê dat hy onbeskaamd positief is oor die toekoms van landbou en glo dat dié sektor ‘n groot verskil in die toekoms van die land kan maak. Hy het ook die landbougemeenskap aangemoedig om die nodige visie vir oorlewing aan die dag te lê en nie die moontlike voedselvoorraad en -pryskrisis te ignoreer nie.

Mnr Jannie de Villiers (nuwe hoof uitvoerende beampte van Graan SA) het aan Kongresgangers gesê dat alhoewel hy nie baie van boerdery af weet nie, hy graag ‘n verskil ten opsigte van die beleidsomgewing wil maak. Hy het ook gesê dat die klem nou op produksie is en dat dit tot voordeel vir die produsent kan wees.

Volledige artikel

Publication: April 2011

Section: Other Articles

Search