• Login
  • Search Icon

Goeie arbeidspraktyke en -verhoudinge in die kollig

May 2014

Van Huyssteen Boerdery
 

ESTIE DE VILLIERS, redakteur: SA Graan/Grain

Van Huyssteen Boerdery op Virginia was in 2012 een van die finaliste in die Graan SA/Syngenta Graanprodusent van die jaar-toekenning. Johan van Huyssteen en sy seun, Johan (jr), is die vierde en vyfde Van Huyssteen-generasie op die plaas.

Johan onthou dat hy een keer êrens die volgende gelees het:

“Ons is saaiboere...En moet weet van plant
As jy eerlikheid plant...Sal jy vertroue oes
As jy geduld plant...Sal jy kalmte oes
As jy nederigheid plant...Sal jy grootheid oes
As jy volharding plant...Sal jy bevrediging oes
As jy vergifnis plant...Sal jy versoening oes
As jy geloof, hoop en liefde plant...Sal jy die mooi van die lewe oes
So moet ons lekker plant tot eer van ons Hemelse Vader.”

“In menseverhoudings is bogenoemde só waar. Ek glo jyself bepaal, deur jou voorbeeld, die werkstempo en kwaliteit van die arbeid op jou plaas,” vertel Johan (sr). “Wedersydse respek is belangrik.”

“Ek dink regverdigheid en erkenning is van groot belang as ‘n mens oor arbeidspraktyke gesels. Ons maak gebruik van ‘n klokstelsel wat salarisse regverdig bepaal. Persone wat by die werk is en dié wat afwesig is, kan tog nie dieselfde verdien nie? Só word ‘n persoon wat oortyd werk, regverdig vergoed. Dit dien ook as motivering vir die werkers. Dit is belangrik om jou werkers so goed as moontlik te vergoed.

“Werkers word produktief in werkstyd aangewend. Dit is fundamenteel om die werkers in te lig oor wat die taak behels wat hul moet verrig en ook hulle insette daaroor te vra. Erkenning word voorts gegee vir die goeie afhandeling van ‘n taak,” voeg Johan (sr) by.

Netheid

Die Van Huyssteens kweek by hulle werkerskorps ‘n ingesteldheid van netheid, versorging en dissipline deur die voorbeeld wat hulle stel.

“Hulle oorpakke en skoene moet altyd skoon en netjies wees. As hulle op hul persoon skoon en netjies is, is hulle ook netjies op die toerusting en implemente op die plaas en die onderhoud daarvan. Hulle weet: Toerusting moet netjies gehou word. Dit dra by tot die behoud van plaastoerusting,” verduidelik hy.

Opleiding

“Opleiding en kennis is baie belangrik. Ons het ‘n plaasskool gehad wat ongelukkig as gevolg van lae getalle moes sluit. Ons het egter die vrugte van ‘n skool op die plaas gepluk en het baie geletterde arbeiders in ons werksmag. Daar is ook leerders wat uit ons skool verder studeer het. Een voorbeeld is Petrus Moroka, tans onderwyser by Allanridge en op die oomblik besig met sy honneursgraad in Sielkunde,” spog Johan (sr) trots.

Verbreed arbeiders se visie

“Daar is baie werkers wat nog nie verder as hul tuisdorp was nie. Indien die geleentheid hom voordoen, probeer ons graag geleenthede vir die werkers gee om hulle visie te verbreed. Ons het van hulle al see toe geneem en het ook al verskeie plekke saam met hulle besigtig, soos om hulle na die Rand Airport te neem om ‘n Boeing 747 van binne en buite te sien.”

image

Publication: May 2014

Section: Other Articles

Author: ESTIE DE VILLIERS, redakteur: SA Graan/Grain

Search