• Login
  • Search Icon

Goeie arbeidspraktyke en -verhoudinge in die kollig: Deel 3

January 2015

— Boontjieskraal Landgoed
 

ESTIE DE VILLIERS, redakteur, SA Graan/Grain

SA Graan/Grain het die vorige twee maande berig oor die arbeidspraktyke op Boontjieskraal Landgoed, naby Caledon in die Suid-Kaap. Mnr Richard Krige (hoofbestuurder van Boontjieskraal Landgoed asook ‘n hoofbestuurslid van Graan SA) vertel in dié artikel meer oor hulle dissiplinêre stappe op die plaas en gee ‘n paar wenke aan medeprodusente oor hoe om die beste uit jou werkerskorps te kry.

Dissiplinêre stappe

Op ‘n vraag oor hoe geskille op die plaas besleg word, antwoord Krige: “Indien daar probleme is, word dit onmiddellik opgelos. Daar is ‘n grieweproses in plek, maar ons het nog nooit nodig gehad om dit te gebruik nie. Indien ‘n werknemer ‘n oortreding begaan, word sy naweekdienstye verleng (gewoonlik elke vyfde naweek tensy daar ander werk is) sodat hy elke naweek diens doen en werk vir 'n tydperk wat van pas is, gegewe die oortreding. Van sy byvoordele en voorregte kan hom ook ontneem word vir ‘n tydperk, soos kostoelae en die gebruik van voertuie vir privaat gebruik. Ons het so onder mekaar ooreengekom.”

Volgens Krige is ‘n geskrewe waarskuwing, in sy opinie, nie genoeg nie. “Daar moet op 'n manier ‘n boete of straf wees vir wangedrag of oortredings. Ons probeer konsekwent wees. Almal word dieselfde behandel en die reëls geld vir almal. In die Kaap en die landelike gebied was drankgebruik vir ‘n lang tyd ‘n probleem gewees. Ja, ‘n mens kan sê die dopstelsel het ‘n bydrae gelewer, maar dit vat wilskrag en dissipline om dit te oorkom. Drankmisbruik lei tot soveel probleme en die persone of individue wat die swaarste daaronder ly, is die kinders. Jou werknemers moet dit besef. Hulle het 'n verantwoordelikheid teenoor hulle werkgewer, hulle werk en hul families,” benadruk hy.

image

Op ‘n vraag oor watter wenke hy vir medeprodusente het om die beste uit hul werkerskorps te kry, antwoord Krige: “Ons is almal leiers in die lewe. Van ons miskien meer as ander. Die gewone familieman wil tog ook die beste vir sy vrou en kinders hê. Hoe doen ‘n mens dit? Jy wys vir hulle waar hulle verkeerd was en prys hulle indien hulle iets goed doen. Jy lei hulle deur die voorbeeld wat jy vir hulle stel. Wedersydse respek is belangrik. Hoekom vergeet ons almal so gou dat die basiese beginsels dieselfde bly ongeag die situasie? Dissipline vorm in my opinie ook die ruggraat van die samelewing.

“Jy moet ook jou werknemers en hul behoeftes ken en verstaan. Hy het ook drome en aspirasies. Weet jy wat hulle is? My vrou (sy het op die plaas grootgeword) sê altyd as ek weg is en daar is ‘n probleem op die plaas, sal sy by van die werkers aan huis gaan bly. Nou frons die lesers seker almal wat dit lees! Ons werknemers se behuising is puik met lopende en warm water en stowe; die huise is uitgeteël en sommiges het selfs DSTV. Die huise is skoon en netjies en dié mense is soos familie – hoekom dan nie?” sluit hy die gesprek af.

Lees volgende maand hoe geskille op die plaas besleg word en Krige gee ‘n paar wenke oor hoe om die beste uit jou werknemerskorps te verkry.

Deel jou praktyke met medeprodusente
Graan SA-lede is welkom om wenke vir goeie arbeidspraktyke en -verhoudinge op die plaas of praktyke wat hulle op die plaas toepas en wat vir hulle werk, met hul medeprodusente te deel. Stuur 'n e-pos na estiedv@mweb.co.za en ons sal jou kontak.

Publication: January 2015

Section: Relevant

Search