• Login
  • Search Icon

Goeie arbeidspraktyke en -verhoudinge in die kollig: Deel 2

December 2014

— Boontjieskraal Landgoed
 

ESTIE DE VILLIERS, redakteur, SA Graan/Grain

SA Graan/Grain het verlede maand berig oor die arbeidspraktyke op Boontjieskraal Landgoed, naby Caledon in die Suid-Kaap, waar wedersydse respek tussen werkgewer en werknemer baie belangrik is.

Mnr Richard Krige (hoofbestuurder van Boontjieskraal Landgoed asook hoofbestuurslid van Graan SA) vertel in dié artikel meer oor hulle prestasie-evalueringsprogram en die minimum loon.

Prestasie-evalueringsprogram

image

Krige vertel dat hulle vir vier jaar (2004 tot 2008) ‘n prestasie-evalueringsprogram bedryf het wat erkenning aan die werkers op die plaas gegee het en produktiwiteit in die werksplek bevorder het. Dit was ‘n prestasie-evalueringsprogram waar elke werker hulself geëvalueer en bepunt het. Bestuur het hulle terselfdertyd ook geëvalueer.

“Bestuur het dan met elke individu die resultate bespreek en gegrond hierop, het almal bonusse en verhogings gekry. Daar was tien afdelings op die vorm en die telling was uit 100 gewees. Netheid by die huis, netheid by die werk, pligsgetrouheid, oplettendheid, uitvoering van opdragte, bereidwilligheid, stiptelikheid, betroubaarheid, eenvormigheid en spanwerk/spangees was die tien afdelings waarop evaluasie gedoen is,” verduidelik Krige.

Hierdeur het die werknemer besef wat die werkgewer se verwagting van hom is. Dit het ten doel gehad om elke werknemer se potensiaal te optimaliseer. Die produktiwiteit van elke werknemer is verhoog en volgens Krige het dit hulle onderneming ‘n geweldige hupstoot gegee.

Prestasiebeoordeling word vandag deur die bestuur self gedoen.

Jou siening van die minimum loon?

Op hierdie vraag, antwoord Krige: “In sekere sektore van landbou is die minimum loon seker van pas – gegewe die produktiwiteit en tipe werk wat gedoen word. Indien ons in die graanbedryf R5 000 vir 'n ton koring kry, sal ek my mense meer kan betaal.

“Ons moet egter ‘n fyn balans handhaaf van winsgewendheid en stabiliteit om ons toekoms te kan verseker en ook regverdig teenoor ons werknemers te wees wat die omstandighede waaronder hulle werk en hul vergoeding betref.

“Ons kompeteer lankal met ander sektore van die ekonomie en terwyl daar van ons werknemers in die dorp bly, is dit ook belangrik dat hulle gelukkig is in hul werk. Daar is 'n liefde vir landbou, wat tesame met die betrokkenheid in die bedryf, ‘n kritieke rol speel.

“Dit is egter ‘n jammerte dat ons huiwerig is om kinders die geleentheid te gee om sakgeld in die vakansies te verdien as gevolg van arbeidswetgewing. Ons kry sodoende nie die liefde vir landbou onder die jonger mense gekweek nie. Daar is belangrike lesse wat geleer kan word wanneer ‘n kind gedurende vakansies werk. Werksetiek, om met geld te kan werk en te besef dat geld nie aan 'n boom groei nie, is maar net ‘n paar waaraan ek kan dink.

“Daar word in sekere kringe gesê dat as jy nie werk of fluks is in die skool nie, jy “sommer” 'n plaaswerker gaan word. Dít gemeet teen wat? ‘n Fabriekswerknemer in die stad? Die persepsie van mense as gevolg van politieke uitsprake doen die bedryf baie skade aan,” meen Krige.

Volgens Krige is daar baie geleenthede vir alle mense, opgelei of nie, in die landbou. Hy vertel dat in die tyd wat daar so baie stakings in die Wes-Kaap was, RSG ‘n gesprek gehad het oor vergoeding. “Daar bel ‘n fabriekswerker van die Kaap in en sê hy sal maklik vir die minimum loon op ‘n plaas werk mits hy verblyf en vervoer werk toe kry. Mense in die stede betaal ten duurste vir vervoer en verblyf en gevolglik het die inbeller gesê dat ‘n werker in die landbou nie in so ‘n slegte posisie is nie. Dit is jammer dat die landbou so gepolitiseer word,” het Krige gesê.

Lees volgende maand hoe geskille op die plaas besleg word en Krige gee ‘n paar wenke oor hoe om die beste uit jou werknemerskorps te verkry.

Deel jou praktyke met medeprodusente
Graan SA-lede is welkom om wenke vir goeie arbeidspraktyke en -verhoudinge op die plaas of praktyke wat hulle op die plaas toepas en wat vir hulle werk, met hul medeprodusente te deel. Stuur 'n e-pos na estiedv@mweb.co.za en ons sal jou kontak.

Publication: December 2014

Section: Relevant

Search