• Login
  • Search Icon

Goeie arbeidspraktyke en -verhoudinge in die kollig

July 2014

— wat is jou doel op die plaas?
 

JAN GREYLING, namens Agri Mega

image “Die plaaswerker van vandag moet vra wat die bydrae is wat hy of sy op die plaas kan maak om ‘n verskil te maak aan die mense om ons en in die langtermynsukses van die besigheid vir wie ons werk. Ons moet leer om nie op te hou leer nie en om saam met tegnologie te groei.”

Só het mnr Kolie Paulse, ‘n voormalige algehele Plaaswerker van die Jaar in die Wes-Kaap, tydens die Namaqua-Weskus Ekspo op Vredendal, medeplaaswerkers toegespreek. Paulse het sedert hy die titel in 2012 ingepalm het, self ‘n boer geword en boer tans by Citrusdal, waar hy uitstekende resultate behaal.

Paulse was ten tyde van sy aanwysing as Plaaswerker van die Jaar, in diens van die Du Toit Groep by Ceres. Hy sê plaaswerkers is wenners en moet as wenners ook hul nageslagte leer om wenners te wees en soos wenners te werk.

“Ek kan met ervaring met julle hieroor praat,” vertel Paulse. “Ek weet wat dit is om ‘n leivoor te grawe, om dreinering te doen en ek weet wat dit is om ‘n trekker te ry en om te spuit. Só ek kan ook met gesag leiding gee aan julle as medeplaaswerkers.”

Paulse sê hy het ‘n besluit geneem om bo uit te kom. “Ek het een Man nodig om my soontoe te vat en ek het besluit om my geloof in die Here te plaas.” Hy moes, soos hy voorstel sy medeplaaswerkers ook doen, afsien van ‘n lewe waarin drank of dwelms en ander versoekings ‘n rol gespeel het.

Hy het ook besluit om ondanks die verandering wat meganisasie en die verhoging in minimum lone inhou, die beste op sy terrein te wees. “As jy ‘n skaapwagter is, word die beste een. As jou taak is om ‘n trekker te bestuur, maak seker jy word die beste een wat daar is, maar leer om by nuwe geleenthede soos die rekenaars in die trekkers en werktuie aan te pas. My boodskap is dat jy die beste word op jou vakgebied. Dit is wat jou onmisbaar sal maak,” sê Paulse.

Publication: July 2014

Section: Relevant

Search