• Login
  • Search Icon

Goeie arbeidspraktyke en -verhoudinge in die kollig

October 2016

— Dankbaar vir begrafnispolis


ESTIE DE VILLIERS, redakteur: SA Graan/Grain

Ons is almal bewus van die hoë kostes verbonde aan begrafnisse en hoeveel addisionele uitgawes daar met die afsterwe van 'n geliefde gepaard gaan. As 'n mens nie voorsiening daarvoor gemaak het nie, kan dit nogal vir jou (of jou geliefdes wat agterbly) 'n onaangename verrassing wees.

Juis daarom het Graan SA in 2015 'n strategiese vennootskap met Momentum gesluit, wat Graan SA-lede in staat stel om vir hulle en hul plaaswerkers produkte uit te neem ten einde finansiële welstand in die hand te werk. Een van die voordeelopsies in die polis sluit begrafnisdekking in. Hierdie bedrag word by die afsterwe van 'n werknemer, sy/haar lewensmaat en kinders (tot 'n maksimum van vier) uitbetaal.

Mnr Derek Mathews (Graan SA-Hoofbestuurslid vir Streek 5 en lid van die Dagbestuur) kan getuig van hoe dié polis een van sy werkers wat onlangs oorlede is, se gesin tot voordeel gestrek het.

"Die werker was nog nie eers vir 'n jaar deel van die polis nie en steeds is die voordele sonder 'n gesukkel uitbetaal. Die familie kon die nodige reëlings vir die begrafnis tref en aankoop wat hulle nodig gehad het.

"Die polis het voorts ook 'n opbetaalde begrafnisvoordeel: Met sy afsterwe word daar nie meer premies betaal nie, maar sy gesin sal dieselfde begrafnisvoordele lewenslank geniet," het Mathews gesê. Indien die werknemer as gevolg van 'n ongeluk sterf, sal die uitbetaalde begrafnisvoordele verdubbel.

Hy vertel dat die polis so bekostigbaar is dat hy dit as 'n byvoordeel vir sy werknemers kan gee. "Dit was vir my opvallend hoe maklik dit is om die polis in plek te kry. Jy kontak bloot vir Momentum en stuur vir hulle 'n naamlys van jou werkers en watter polisopsies hulle verkies," verduidelik Mathews. "Die administrasie van die uitbetaal van die begrafnisvoordeel was ook besonder maklik en moeitevry."

Kry gemoedsrus

Graan SA moedig lede aan om deel te neem aan hierdie inisiatief. Opbetaalde lede van Graan SA kan die nodige aansoekvorms op Graan SA se webtuiste aflaai by www.grainsa.co.za onder die Ledevoordele-seksie. Lede kan ook Momentum se toegewyde inbelsentrum skakel by 0860 333 334.

Deel jou praktyke met medeprodusente
Graan SA-lede is welkom om wenke vir goeie arbeidspraktyke en -verhoudinge op die plaas of praktyke wat hulle op die plaas toepas en wat vir hulle werk, met medeprodusente te deel. Stuur 'n e-pos na estiedv@mweb.co.za en ons sal jou kontak.

 

Publication: October 2016

Section: Relevant

Search