• Login
  • Search Icon

Goeie arbeidspraktyke en -verhoudinge in die kollig

June 2015

— Wat is regtig die oorsaak van arbeidsprobleme op plase?


PIETMAN BOTHA, SA Graan/Grain medewerker

Wat is die werklike oorsaak dat so baie plaasarbeiders nie in die werksplek kan funksioneer nie? Werkers word dieselfde hanteer en sommige floreer, terwyl ander uitval. Baie arbeiders bly eenvoudig die reëls oortree en is dikwels onbetroubaar. Hoekom is dit so en wat kan jy as produsent doen om hierdie probleem aan te spreek?

In baie van die gevalle begin die arbeidsprobleme by die produsent wat telkens bloot die verkeerde aanstellings maak. Sulke persone is dan in diens en die produsent kan net nie van hierdie arbeider ontslae raak nie. Verder veroorsaak die onderpresteerder dat die ander arbeiders ook negatief beïnvloed word.

Daar kan verskeie redes wees waarom ‘n arbeider nie presteer nie, maar dit kan meestal teruggevoer word na ‘n uiters slegte selfbeeld van die werker. Baie keer glo die werker dat hy vir niks goed genoeg is nie en dit lei tot ‘n traak-my-nieagtige-houding. Telkens sal die werker se gedrag ander uitvloeisels van die probleem toon. Die werker kan byvoorbeeld dronk by die werk aanmeld, begin steel en opdragte ignoreer.

Gesinsgeweld is ook in baie gevalle die direkte gevolg van ‘n swak selfbeeld. “Ek is nie goed genoeg vir hierdie geliefde nie en daarom loop alles skeef.” Daarom gryp die werker na ‘n “kruk” wat gewoonlik alkohol is en dan spat die vonke.

Werksvereistes kan ook aanleiding gee tot ‘n lae selfbeeld. Die werker dink hy het nie die vermoë om die werk te kan doen nie. Arbeiders werk dikwels op plase bloot omdat hulle nêrens anders kan werk kry nie. Die arbeider het nie eens basiese kwalifikasies nie en daar is nie die geleentheid om dit te verkry nie. In baie gevalle het die arbeider ‘n buite-egtelike kind of kinders wat versorg moet word en daarom aanvaar die werker enige werk.

Geen of baie laag-geskoolde arbeiders het in vele gevalle net nie die vermoë om aan die eise van die dag te kan voldoen nie. Omdat hy laag geskoold is, verdien so ‘n werker gewoonlik nie die hoogste loon nie, met die gevolg dat armoede aan die orde van die dag is.

Omdat geld beperk is en die persoon nie oor die vaardighede beskik om fondse optimaal aan te wend nie, verval hierdie persoon in afhanklikheid van drank en/of dwelmmiddels. Die werker gaan soek in baie gevalle ‘n “uitkoms” om verby hierdie lae selfbeeld en onvermoë te kom en eindig dan gewoonlik by verskillende verslawings op.

Die gevolg van hierdie afhanklikheid is menigmaal ook huislike probleme wat na vore kom. Wanneer die werker onder die invloed is, kan dit lei tot ‘n stryery en die ander gesinslede loop gewoonlik deur. Afhanklikheid sal egter ook ander euwels na vore bring – diefstal en bedrog word telkens gebruik om fondse in die hande te kry om ‘n verslawing te kan bevredig.

Die direkte gevolge van hierdie verslawing en swak selfbeeld is swak werksprestasie. Die gevolg van swak werksprestasie is weer die swak prestasie van die onderneming en op die einde die ontslag van die werker of dalk die bankrotskap van die onderneming.

Swak werksprestasie is egter nie die enigste uitvloeisel nie, maar ook swak interpersoonlike verhoudinge. Gewoonlik tussen die werkgewer en die werknemer, die ander personeel wat saam met die werker werk en dan die belangrikste, verhoudinge by die huis. In sulke gevalle is die man en vrou altyd in die een of ander soort rusie, die kinders ly hieronder en inherent ook die hele gemeenskap.

Die vraag is nou: Wat kan gedoen word om hierdie probleme aan te spreek en op te los? In baie gevalle sal dit begin met die aanspreek van die lae selfbeeld. Die verbreding van die werker se kennisvlakke en die aanspreek van die verhoudinge tussen die werkers en die mense rondom hulle. Volgens ds Petrus Ramatsosa van Kroonstad bly die belangrikste egter om hierdie probleme vanuit ‘n geloofsoogpunt aan te spreek. Die verkondiging van die Woord moet altyd sentraal staan en die basis wees waarop die probleme aangespreek word.

Met net Woordverkondiging sal die probleme egter nie vanself weggaan nie. Die werker sal toegerus moet word om die probleme te kan aanspreek. Om eerstens die probleem te erken, die prioriteite van probleme reg te kry en dit dan aan te spreek. Sonder dat die mens se siening van homself aangespreek word, sal dit maar moeilik gaan.

Die heel belangrikste aspek wat aandag moet kry, is die gesindheid van beide die werker en werkgewer. As albei nie bereid is om te verander nie, sal daar baie moeilik ‘n verandering in die verhouding kom. Ook moet daar besef word dat albei partye steeds kan faal en dat beide bereid moet wees om mekaar se swakhede te erken en dit te verdra.

Ds Ramatsosa bied ‘n kursus aan om beide die produsent en die werker te help om hul verhoudingsprobleme aan te spreek. Hy fokus daarop om veral die werkers te help om hulle probleme te identifiseer en om hulle deur die Woord toe te rus om hulle probleme die hoof te bied. Hierdie stap help ook om toekomstige probleme aan te spreek.

Vir meer inligting kontak ds Ramatsosa by 071 363 5366.

Deel jou praktyke met medeprodusente
Graan SA-lede is welkom om wenke vir goeie arbeidspraktyke en -verhoudinge op die plaas of praktyke
wat hulle op die plaas toepas en wat vir hulle werk, met hulle medeprodusente te deel.
Stuur 'n e-pos na
estiedv@mweb.co.za en ons sal jou kontak.

Publication: June 2015

Section: Relevant

Search