• Login
  • Search Icon

Goeie arbeidspraktyke en -verhoudinge in die kollig

January 2014

ESTIE DE VILLIERS, ASSISTENT-REDAKTEUR: SA GRAAN/GRAIN

Arbeid is een van die belangrikste faktore (en ook bates) in enige besigheid. Juis daarom wil SA Graan/Grain op ‘n meer gereelde basis ‘n paar wenke met ons lesers deel, van wat Graan SA-lede sê vir hulle wat op die plaas werk.

Die tydskrif het hierdie maand met ‘n lid van die Noord-Kaap gesels oor wat die belangrikste arbeidspraktyke is waarop hy in sy boerdery klem lê. Vir dié betrokke lid, is dit belangrik om sy werknemers, hetsy op watter vlak hulle is, ‘n trots en verantwoordelikheid te gee. “Hanteer jou werkers met respek en menswaardigheid.”

Volgens hom kom hierdie werkswyse van die bestuur af: “As die bestuurder die persoon onder hom menswaardig hanteer, dan kweek dit die kultuur vir daardie werker om die persoon onder hom dieselfde te hanteer. As die hantering van personeel van bestuur se kant af nie reg is nie, gaan dit uitvloei na die res van die beleid toe,” sê hy. “Trots is ook nie soseer gekoppel aan ‘n loon nie. Iemand se salaris gee hom nie hierdie trots nie, jy moet hom as persoon erkenning gee vir wat hy doen.”

Hy optimaliseer ook sy permanente werkers deur vir hulle ‘n toekomsvisie te gee. “Jy moet veral vir jou bestuur sê waarheen die besigheid op pad is, want as niemand weet wat môre gaan kom of die jaar daarna nie, is daar niks wat hulle motiveer nie. Jy moet jou beeld en visie wat jy vir die toekoms het, met hulle deel.”

Wanneer gevra word of hy enige wenke vir ander produsente het oor hoe om die beste uit hulle werkerskorps te kry, antwoord hy eenvoudig: “Jy, as bestuurder van die boerdery, moet positief wees en jy moet ‘n visie hê vir waarheen jy op pad is. Jy moet hierdie visie met jou werknemers deel. “Hanteer ook ander mense, maak nie saak op watter posvlak hulle is nie, soos jy self hanteer wil word indien jy in daardie situasie was.”

Deel jou praktyke met medeprodusente

Graan SA-lede is welkom om wenke vir goeie arbeidspraktyke en -verhoudinge op die plaas of praktyke wat hulle op die plaas toepas en wat vir hulle werk, met hulle medeprodusente te deel. Stuur ‘n e-pos na estiedv@mweb.co.za en ons sal jou kontak.

Publication: January 2014

Section: Other Articles

Search