• Login
  • Search Icon

Gewasrotasie: 'n Wapen teen plantsiektes

September 2014

BELINDA JANSE VAN RENSBURG, LNR-Instituut vir Graangewasse

Gewasrotasie hou baie voordele in vir konvensionele asook bewaringsboerderystelsels. Die rotasie van gewasse behoort reg verstaan en toegepas te word as ‘n bestuurspraktyk om plantsiektes te verminder.

Sommige patogene (wat die plantsiekte veroorsaak) beskik oor die vermoë om op plantreste of in die grond te oorwinter in die vorm van spesiale strukture (swamspore, hifes en sklerotia). In die geval van monokultuur-aanplantings, sal die spesifieke patogeenstrukture aanhou om te vermeerder en om plante in die nuwe groeiseisoen te infekteer.

Hier kan produsente ook dikwels ‘n verlaging in opbrengs verwag. Die idee is om gewasse in rotasie te plant wat nie gashere van 'n spesifieke plantsiekte is nie. In die afwesigheid van 'n gasheer, sal die patogeenstrukture wat op graanreste of in stoppels oorleef, afneem. Die meeste patogene sal gewoonlik twee tot drie jaar neem om te verminder in die afwesigheid van ‘n geskikte gasheer.

Produsente behoort in ag te neem dat plante wat aan dieselfde familie behoort, dikwels kwesbaar is vir dieselfde patogene. Dit sal dus nie wys wees om byvoorbeeld koring, gars, rog, hawer, sorghum en mielies in gewasrotasie te gebruik nie, aangesien al die gewasse gashere vir die Fusarium graminearum spp. kompleks is.

image image Die F. graminearum spp. kompleks swamme veroorsaak ook aarskroei van koring, gars en rog asook wortel-, stam-, kroon- en kopvrot (Foto 1) van mielies. Sulke gewasrotasiesisteme sal dus die siekte oor tyd laat vererger.

Gewasrotasie kom handig te pas waar ‘n spesifieke plantsiekte, soos Stenocarpella maydis (veroorsaak Diplodia stam- en kopvrot, Foto 2), beperkte gashere het. Tot dusver is mielies as die enigste gasheer van Diplodia geïdentifiseer, daarom sal koring, sojaboon en byvoorbeeld grondbone, geskik wees in ‘n gewasrotasiestelsel waar Diplodia problematies is.

Gewasrotasie is moeiliker in die geval van ‘n plantsiekte, soos Sclerotinia spp. (ook bekend as “wit muf”, Foto 3), wat ‘n wye gasheerreeks (peulgewasse, sonneblom, kanola, die meeste groente, tabak, baie tuinblomme sowel as harde vrugte) het.

Gewasrotasie met byvoorbeeld mielies, koring en hawer, is in dié geval baie belangrik. Weiding kan ook aangeplant word om die graad van besmetting te verminder. Aangesien Sclerotinia tans ‘n groot bedreiging inhou vir byvoorbeeld sonneblom en sojabone, is geïntegreerde beheermaatreëls, byvoorbeeld gewasrotasie, kultivarkeuse, chemiese bespuitings, sanitasie en minimumgrondbewerking hier van uiterste belang.

In die geval van minimumgrondbewerking word gespekuleer dat die oorlewingstrukture van die patogeen (sklerotia) bo-op die grondoppervlakte gelaat word en dus meer blootgestel word aan die omgewingselemente wat die sklerotia vinniger tot niet help gaan en sodoende die inokulumvlakke van die siekte help verminder.


image Bewaringsboerdery

Daar is tans plaaslike navorsing om die effek van bewaringsboerdery op grondgedraagde plantsiektes te bepaal. Met minimum- of geenbewerking bou ‘n deklaag van plantreste op. Hierdie deklaag is dus juis ‘n bron van voeding en oorlewing vir swamspore, hifes en sklerotia wat dan plante in die nuwe groeiseisoen besmet. Dr Maryke Craven van die LNR-Instituut vir Graangewasse (LNR-IGG) het hoër vlakke van Diplodia en houtskoolvrot (Foto 4) waargeneem in monokultuur-mielies in die Ventersdorp-omgewing.

Waar mielies in rotasie verbou is met sonneblom, akkerbone en babala, was betekenisvolle laer vlakke van beide die swamme waargeneem. Sonneblom, akkerbone en babala is nie gashere van Diplodia nie en die resultaat was dus te wagte. Wat interessant is, is dat sonneblom, akkerbone en babala wel gashere van houtskoolvrot is en die verwagting hier was nie ‘n afname in die patogeen nie.

Ons moet in ag neem dat plantsiektes hulle eie spesifieke voorkeure ten opsigte van temperatuur, vog en voedingstowwe het. Die deklaag van plantreste kan problematies wees vanuit ‘n siekte-oogpunt, maar dit kan ook voordelig wees afhangende van die gewasrotasiestelsel.

Houtskoolvrot gedy by grondtemperature tussen 30°C - 42°C, gepaardgaande met lae grondvog. Die deklaag in ‘n bewaringsboerderystelsel bewaar vog in die grond en sal dus vogstremming in plante verminder. Ons kan daarom spekuleer dat die deklaag genoegsame vog in die grond verseker het, wat dan ook omstandighede vir die houtskoolvrotpatogeen ongunstig gemaak het om te infekteer.

Ons moet hier onthou dat die plantmateriaal waaruit die deklaag bestaan, nie as gasheer moet dien vir plantsiektes waarmee die produsent sukkel nie. Daar sal nog baie navorsing rakende bewaringsboerdery en plantsiektes gedoen moet word voordat antwoorde hierop verkry sal word.

Neem dus die volgende in ag by die beplanning van ‘n gewasrotasiestelsel:

  • Moenie gewasse wat aan dieselfde familie behoort ná mekaar plant nie.
  • Kleingrane, soos koring, hawer en rog moenie ná mielies geplant word nie.
  • Peulgewasse (soos sojabone) verhoog die stikstofinhoud in die grond en dit is voordelig vir daaropvolgende grasgewasse, soos mielies.
  • Deur beide warmseisoen- en koueseisoen-gewasse in ‘n rotasiestelsel te gebruik, word plant- en oesdatums beter beheer.
  • Waar grondvog ‘n beperkende faktor in konvensionele boerderye is, kan ‘n rotasiestelsel, waar ‘n langseisoen-gewas met 'n kortseisoen-gewas afgewissel word, grondvog bewaar.
  • Dit is baie belangrik om steeds insek- en onkruidbeheer in gewasrotasiestelsels toe te pas asook om kennis te neem van moontlike gifstofresidue en die effek daarvan op die opvolgende gewas.

Met die beplanning van ‘n gewasrotasiestelsel is dit belangrik om eerstens goed aangepaste gewasse of kultivars, soos geïdentifiseer vir spesifieke areas, te kies. Maak gebruik van 'n plantpatoloog om vas te stel watter plantsiektes van ekonomiese belang in die spesifieke produksiegebied is of kan wees (afhangende van weersomstandighede).

Die voorafgaande inligting is noodsaaklik vir die samestelling van 'n gewasrotasiestelsel. Laastens moet onthou word dat so ‘n gewasrotasiestelsel buigbaar moet wees, plantsiektes moet verminder en ekonomies voordelig moet wees.

Vir navrae, kontak dr Belinda Janse van Rensburg by 018 299 6100.

Publication: September 2014

Section: Focus on

Search