• Login
  • Search Icon

Gewasdiversiteit se kritiese rol in bewaringslandbou vir Noordwes Provinsie ondersoek – Deel 2: Dekgewasse

June 2017

GERRIE TRYTSMAN, LNR-DPI en DR HENDRIK SMITH, bewaringslandboufasiliteerder: Graan SA

In die tweede artikel oor gewasdiversiteit se rol in bewaringslandbou vir die Noordwes Provinsie, is dit goed om eers weer na die bewaringslandboubeginsels wat grondgesondheid en volhoubaarheid bevorder, te bestudeer.

Hou veral die rol wat dekgewasse hierin kan speel, in gedagte:

  • Beskerm grond deur dit met plantmateriaal te bedek.
  • Versteur grond so min as moontlik deur van geen bewerkingsimplemente gebruik te maak.
  • Verhoog diversiteit op lande deur van al die funksionele groepe plante gebruik te maak.
  • Stimuleer mikrobes in die grondprofiel deur voedsel en beskerming deur die jaar met lewendige wortels en bedekking te voorsien.
  • Integreer vee op akkerboulande deur dekgewasse in wisselbou met kontantgewasse te gebruik. Benutting moet egter aan spesifieke vereistes voldoen, soos hoëdrukbeweiding met kort periodes van benutting.

Vanaf die 2013/2014-plantseisoen is ‘n siftingsproef in die Ottosdalomgewing gevestig wat uit verskeie dekgewasse bestaan. Aanplantings is op die plaas Humanskraal van mnr George Steyn, wat ‘n aktiewe lid van die Ottosdal-geenbewerkingsklub is, geplant. Die uitleg van die proef was van só ‘n aard dat dit somereenjariges, wintereenjariges, kontantgewasse en mengsels ingesluit het.

‘n Volledige ewekansige blokontwerp is vir die eksperiment gebruik, wat bestaan uit 17 behandelings, gewasse of -mengsels. Elke behandelingstrook in die proef is twee planterwydtes wyd. Vir die daaropvolgende seisoen word dan dwarsoor die vorige seisoen se stroke geplant om die wisselbou-effek van al die gewasse op mekaar te evalueer.

Elke gewas word dus geplant as monokultuur sowel as gewissel met al die ander gewasse. Bewaringslandbou vereis dat ten minste drie gewasse in ‘n wisselboustelsel gebruik moet word. Die praktiese waarde of uitkoms van hierdie proef is om dekgewasse met meer vertroue in ‘n gemengde bewaringslandboustelsel in die Noordwes Provinsie te integreer.

Sien Foto 1 vir die uitleg van die proef. Die doel van die proef was die volgende:

  • Om die aanpasbaarheid van verskillende gewasse by die plaaslike omgewingstoestande te ondersoek vir moontlike toepassing in ‘n bewaringslandboustelsel.
  • Om produsente ‘n kans te gee om gewasse te leer ken en die moontlike voordelige impak op grondgesondheid eerstehands te sien en te ervaar.
  • Om data ten opsigte van gewasse se vermoë om grondbedekking te bewerkstellig in te samel, inligting oor moontlike peste en plae te evalueer, gewasse se invloed op grondgesondheid te meet, invloed van gewasse op grondwater te meet en die moontlike invloed daarvan op opvolgaanplantings te korreleer, die wisselbou-effek van gewasse op mekaar te ondersoek en ook te kyk na moontlike N-mineralisering/immobilisering.

In geheel gesien was 2013/2014-seisoen ‘n besondere goeie seisoen wat reënval betref en die meeste van die gewasse het goed presteer. Die volgende lesse is in hierdie seisoen geleer:

  • Babala se klein sade is te diep geplant en opkoms was swak. Groot sade soos fluweelboon veroorsaak probleme en kan nie met gewone planterplate gevestig word nie.
  • Residuele onkruiddoder (atrasien) lei tot swak opkoms van sonneblom, fluweelbone en lablab, maar akkerbone wys geen skade nie.
  • Bagradabesie op radyse is ‘n probleem.
  • Nagmuise is ‘n ernstige probleem indien dekgewasse nie bewei word nie – veral op sonneblom.
  • Onkruidbeheer is belangrik en dekgewasse moet op ‘n skoon saadbed geplant word.
  • Mengsels vaar oor die algemeen goed en kan moontlik biologiese tyd spaar.
  • Kleingrane soos rog, korog en swart hawer moet liefs in ‘n sagtedeeg stadium gerol of met ‘n chemiese onkruiddoder gespuit word om groei te stop. Opslag raak ‘n probleem indien Roundup Ready-mielies nie geplant word nie.

Die 2014/2015-plantseisoen was baie droog met ‘n effektiewe reënval van ongeveer 350 mm. Laat aanplantings van mielies het beter gevaar as die mielies wat vroeg geplant was. Nagmuisskade na veral peulgewasse rig groot skade op veral sonneblomaanplantings aan. Persele waar groot hoeveelheid reste voorkom, byvoorbeeld op graansorghum, word relatief min skade opgemerk.

Grafiek 1 wys die reste op die grondoppervlakte na ‘n besondere goeie reënseisoen. Sonneblom en soja se oesreste vergaan vinnig en hulle voldoen nie aan die 30%-bedekking wat vir bewaringslandbou geld nie. Rog se oesresbedekking is ook onder 30%, maar dit kan as gevolg van swak opkoms wees. Normaalweg produseer rog reste wat ‘n hoë C:N-verhouding het en moeilik afgebreek word.


Grafiek 2 wys die gemiddelde opbrengste van gewasse in 2014/2015-seisoen. Indien mielies se totale biomassa-opbrengs as ʼn voorbeeld geneem word om die vorige plantseisoenopbrengste mee te vergelyk, sien ons dat dit ongeveer 80% laer is.


Nogtans vaar die somergrasse babala en voersorghum goed met die somerpeulgewasse soos fluweelbone, akkerbone en lablab wat ook besonder goed in die lae reënvaltoestande doen. Van die wintergewasse is dit veral hawer en korog wat goed vaar met al die behandelings.

Foto 2 van die proef, geneem op 16 Februarie 2015, wys die uitwerking van die droogte baie duidelik uit. Sommige van die persele was besig om te verdor tydens bestuiwing. Tydens die 2015/2016-plantseisoen was daar baie min reën gedurende Desember 2015 en die siftingsproef is eers in middel Januarie gevestig.

‘n Totale effektiewe reënval van 370 mm het vir die jaar gerealiseer. Die verspreiding van reënval na plant het verbeter en goeie buie het voorgekom voor en tot in Mei. Biologiese grondontledings (wat in ‘n volgende artikel bespreek sal word) wys dat hierdie lae grondvog en hoë temperature die grondmikrobe-aktiwiteit kan beïnvloed, aangesien hierdie metings drasties gedaal het.

Opbrengste van kontantgewasse op dieselfde gronde wys egter die teenoorgestelde – soos gesien kan word in Grafiek 3.


Soja, sonneblom, graansorghum en mielies behaal onderskeidelik ‘n gemiddelde opbrengs van 0,72 t/ha, 2,57 t/ha, 3,68 t/ha en 5,52 t/ha oor al die behandelings. Gesien in die lig van die droë weerstoestande, is dit merkwaardige resultate en die volgende afleidings kan gemaak word:

  • Soja doen goed op behandelings wat in wisselbou met mielies, somermengsel en korog is.
  • Sonneblom doen goed op behandelings wat in wisselbou met graansorghum, mielies en akkerbone is.
  • Graansorghum doen goed op behandelings wat in wisselbou met hawer, akkerbone en babala is.
  • Mielies doen goed op behandelings wat in wisselbou met korog, akkerbone en mielies is.

Regeneratiewe proef
‘n Sogenaamde “regeneratiewe proef” wat ‘n somermengsel insluit, is eers einde Januarie gevestig, waarna ‘n winterdekgewasmengsel ook in die eerste week in Februarie gevestig is.

Die proefperseel wat gebruik is om die regeneratiewe somer- en winterdekgewasmengsels te plant, is voor dit benut vir aanplantings van kontantgewasse. Hierdie land was egter erg beskadig deur watererosie.

Die grondtipe is van die Oakleaf-grondvorm en die gronddiepte is ongeveer 600 mm. Die land of perseel is onttrek weens swak produksie. Daar is besluit om dit met ‘n skottelploeg te bewerk voor die proef gevestig is. Die produsent (George Steyn) se plan was aanvanklik om ‘n meerjarige gras te plant, wat heel moontlik goeie resultate sou meebring.

‘n Voorstel is gemaak om met eenjarige somer- en winterdekgewasmengsels te probeer om die grond weer te herwin of rehabiliteer vir produksie. Slegs die somermengsel is in hierdie artikel beskryf, alhoewel die wintermengsel ook ‘n sukses met ʼn produksie van ongeveer 11 t/ha droëmateriaal was.

Dit is algemeen bekend dat ‘n groot hoeveelheid organiese materiaal (ten minste 6 t/ha droëmateriaal) benodig word om afloop in bewerkte lande te keer. Verder is bepaal dat tussen 50% - 70% vog vanaf kaal grond verdamp – wat die reënval gebruiksdoeltreffendheid negatief beïnvloed. Dit is veral belangrik in die westelike droër areas.

Die hoofdoel van die proefaanplantings was dus om soveel moontlik oesreste te produseer en te behou om die grond te verbeter. Om hierdie rede is die dekgewasse ook nie platgerol nie, want kontak met die grond sou die afbreek van plantreste verhoog. Foto 3a tot Foto 3d illustreer die proses.

Foto 3a is op 27 Januarie 2016 geneem, voor die aanplanting van ‘n tien spesie-somermengsel wat onder andere al die kontantgewasse ingesluit het, sowel al drie peulgewasse, twee eenjarige somergrasse en een radysspesie.

Foto 3b is in middel April 2016 geneem. Droëmateriaal is bepaal en het gewissel tussen 11 t/ha tot 14 t/ha.

Foto 3c is begin September geneem. Die sonneblom is gestroop en ‘n opbrengs van 2,2 ton is van die 14 ha geoes. Die mengsel kan ook baie winsgewend as weiding benut word. Die monetêre waarde van 2,2 ton sonneblom het alle onkostes van die aanplanting gedek. Foto 3c wys duidelik dat die meeste van die oesreste behoue gebly het.

Foto 3d is middel Januarie 2017 geneem nadat mielies op die oesreste geplant is. Die spoed waarmee die oesreste deur die grondbiota verwerk is, word beklemtoon. Slegs babala-stingels het behoue gebly.

Bespreking
In ‘n internasionale meta-analise wat op 48 gewasse in 63 lande gedoen is, is bevind dat indien geenbewerking geïmplementeer word sonder deklaag en wisselbou, oesverliese van -9,9% kan realiseer gemeet teen konvensionele bewerking.

Geenbewerking met slegs deklaag of slegs wisselbou lewer verliese van -5,2% en -6,2% onderskeidelik. Indien geenbewerking met deklaag én gewasdiversifikasie onder droëlandtoestande in semiariede streke toegepas word, is ‘n verhoging van opbrengs van 7,2% egter verkry.

Die afleiding word daarom gemaak dat meer produsente moontlik van bewaringslandbou gebruik gaan maak om die negatiewe impak van klimaatsverandering te bestuur. Eerder as om geenbewerking as die eerste stap te sien, moet die ander twee komponente, die behoud van ‘n deklaag en gewasdiversiteit, eers in plek gekry word. Dit sal lei tot ‘n meer aanvaarbare resultaat. In hierdie proses kan dekgewasse ‘n belangrike rol vervul.

Bron
Pittelkow, CM et al. 2014. Productivity limits and potentials of the principles of conservation agriculture. Nature 517, 365 - 368.

Publication: June 2017

Section: On farm level

Search