• Login
  • Search Icon

Genoeg is genoeg-legkaart

December 2016

image

JANNIE DE VILLIERS, uitvoerende hoofbestuurder/CEO

Ek hoor nou nog hoe Louw Steytler (voormalige voorsitter van Graan SA) ons telkemale in ver gaderings herinner het aan adv George Bizos se woorde: “The centre will hold!” (Die gematigdes sal seëvier.)

Suid-Afrika het in Oktober/November 2016 ‘n groot tyd beleef en nuwe geskiedenis is geskryf – waaroor ons kleinkinders eendag gaan moet leer en waaroor hulle eksamen sal moet skryf. Die gematigdes het duidelik laat hoor: “Genoeg is nou genoeg!”

Adv Thuli Madonsela het uiteindelik vir ons die prentjie van die legkaart wat ons die afgelope jare probeer bou het, kom gee. Dit is asof selfs die regslui almal by een vergadering was en in een koor begin sing het: Genoeg is genoeg! Ek het selfs tydens die African Farmers’ Association of South Africa (AFASA)-jaarvergadering geluister hoe ons swart produsente ons ministers aanvat oor die swak diens aan produsente en geen hulp tydens droogte nie. Genoeg is genoeg, het hulle gesê.

‘n Ander groot, nuwe wending was toe die AFASA Kongres vir me Annette Steyn (die DA se skaduminister van Landbou, Bosbou en Visserye) tydens die kongres die vloer gegee het om die vraag te beantwoord oor wat ná 2019 van hul plase, wat nou aan die staat behoort, gaan word. Dit was ‘n uiters betekenisvolle vraag. Steyn het hulle verseker dat hulle in só ‘n scenario titelaktes sal kry sodat hulle kan boer. Sy weet dat ‘n mens nie sonder sekuriteit kan boer nie.

Nog ‘n les wat ek daardie dag geleer het, was om dáár te wees waar die produsente is en geduldig deur ‘n kongres te sit tot jou groot geleentheid aanbreek. Te veel ministers kom maak toesprake en dan loop hulle dadelik weer vir meer belangrike sake as dít wat produsente tydens kongresse bespreek.

Wonder nogal wat dit kan wees? Ek was so beïndruk met wat daardie dag by die AFASA Kongres gebeur het, dat ek en Preline Swart (visevoorsitter van Graan SA) die volgende dag saam met die AFASA-lede na die Uniegebou geloop het om die president van die land te vra om vir produsente titelaktes te gee sodat hulle kan boer.

Ja, hy was nie daar nie. Hy was seker besig met regspleging vir dít wat op hom en sy vriende in die daaropvolgende dae gewag het. Ek weet nie van ons president nie, maar dit is so al of hy en sy vriende nie die “genoeg is genoeg”-temperatuur reg gelees het nie.

Die opstaan vir dit wat reg en goed is, is ‘n besondere gebeurtenis. Dit het mense oor alle grense heen saamgesnoer. Die laaste keer wat ‘n president ons as land saamgesnoer het, was tydens 2007 se Rugby Wêreldbekerfinaal met Nelson Mandela. Nooit sou ons kon dink dat president Jacob Zuma ons ook só kon saamsnoer oor iets nie – hierdie keer is die rede hyself.

Ek het myself op ‘n stadium vir ‘n kort rukkie laat droom oor hoe ‘n landbousektor kan lyk en funksioneer as dit deur die regte, kundige mense gelei en bedien word. Man, dit was ‘n lekker gevoel! Al wat ons kort, is iemand om vir ons al die stukkies van die legkaart bymekaar te sit om die prentjie wat oor die afgelope jare gevorm is, te illustreer.

Dít is wat leiers doen. Wys vir mense ‘n prentjie van ‘n beter toekoms en hulle volg met ywer en entoesiasme. Desember is beslis ‘n tyd wat God ook vir ons Sy prentjie vir ons verlossing kom wys het – Jesus. Hy het deur Sy geboorte vir ons kom wys hoe Hy die wêreld verlos. Laat ons dan die tyd nuttig gebruik om oor Sy prentjie na te dink en beter al die los klein legkaartstukkies wat rondom ons vorm, te verstaan.

Publication: December 2016

Section: Features

Search