• Login
  • Search Icon

Gaan ons saamstaan, of is 'n statutêre heffing ons voorland?

April 2012

HANS VAN DER BERG, BEMARKING- EN KOMMUNIKASIEBEAMPTE, GRAAN SA

Tydens Kongres 2012 is die vraag onomwonde gestel: “Gaan ons saamstaan, of is ‘n statutêre heffing ons voorland?” Mnr Andries Theron, visevoorsitter van Graan SA asook voorsitter van die Bedryfsheffingkomitee, het in die Bedryfsheffingverslag interessante inligting aan Kongresgangers deurgegee wat die ondersoek na ‘n statutêre heffing insluit.

Nieteenstaande die feit dat Graan SA vir die derde agtereenvolgende Kongresjaar daarin kon slaag om meer as R10 miljoen by wyse van heffing te in, is daar nietemin gevaarligte wat flikker wat ons nie kan verontagsaam nie.

image

Aantal produsente wat heffing betaal

Tydens Kongres was daar 4 959 produsente van wie heffings ontvang is. Indien dit gemeet word aan huidige beskikbare inligting, dat daar tans ongeveer 8 000 graan produsente in Suid-Afrika oor is, beteken dit dat 61,9% van alle produsente wel heffing betaal.

As ‘n mens kyk na die tydperk sedert die instelling van die bedryfsheffing, is dit sekerlik nie te swak indien dit gemeet word teen Kongres 2007/2008 se heffingbetalers nie. Sedert 2007 se laagtepunt van 3 242 heffingbetalers het daar inderdaad ‘n fenominale groei plaasgevind. Die hoogste syfer was gedurende 2010 toe daar 5 143 heffingbetalers was. Hierdie afplatting van 184 produsente oor die afgelope twee jaar (sien Grafiek 1) is egter nie die grootste bekommernis nie.

image

Heffingsinkomste

Soos mnr Louw Steytler, nuutverkose voorsitter van Graan SA tereg gesê het: “Ek is trots op Graan SA. Dit is nie elke bedryfsorganisasie wat daarop kan roem dat daar jaar na jaar meer as R10 miljoen op ‘n vrywillige basis geïn kan word nie.”

Net soos die ledebasis, het die heffingsinkomste vanaf die laagtepunt in 2007/2008, waar slegs R5,8 miljoen geïn kon word, dramaties toegeneem. Die huidige inkomste van R10,3 miljoen is egter ook ‘n bekommernis as in ag geneem word dat die inkomste twee jaar gelede meer as R10,8 miljoen was. Nie ‘n dramatiese afname nie, maar koste styg en die vraag moet gevra word of hierdie tendens gaan bydra tot Graan SA se volhoubaarheid.

Wat is gedoen aangaande die heffingsinvordering?

In teenstelling met jare gelede, tydens die instelling van die bedryfsheffing waar graan slegs deur tradisionele landboubesighede gevloei het, is die situasie tans heel anders. Graan SA het deeglik daarmee rekening gehou.

Theron het Kongresgangers ook daarop gewys dat daar gedurende 2007/2008 slegs 17 instansies was wat as invorderingsagente vir Graan SA gefunksioneer het, teenoor die 31 wat reeds in plek is vir die komende seisoen. Hy het ook daarop gewys dat hoewel ongeveer 61,9% van die produsente wel heffing betaal, daar slegs op sowat 32% van graanlewering heffing ontvang word en dit is hier waar die gevaarligte begin flikker.

“Dit is eenvoudig nie aanvaarbaar dat daar produsente is wat geen heffing betaal nie, of nie op al hulle graan betaal nie. Hoe lank gaan ons nog toesien dat produsente in alles deel sonder om ook ‘n bydrae te maak?” het Theron gesê.

Lê die oplossing in ‘n statutêre heffing?

In opdrag van Kongres 2011, het Theron ook terugvoering gegee aangaande die ondersoek na ‘n statutêre heffing en bevestig dat ‘n voorstel in hierdie verband gemaak gaan word tydens Kongres 2013. Alles in ag geneem, is dit egter belangrik om te besef dat daar wel tussen R28 miljoen en R30 miljoen op hierdie wyse bekom kan word.

Graan SA se inkomste kan wel op hierdie wyse verhoog word, maar dit beteken ook dat hierdie bedrag uit die sakke van alle produsente gaan kom en die hele bedrag nie noodwendig in hulle belang aangewend gaan word nie.

“Ons as produsente moet onsself dus die vraag afvra of ons almal gaan bydra in belang van hierdie organisasie, of gaan ons toelaat dat ons geld ook deur die regering aangewend gaan word vir ander doeleindes?” het Theron gesê.

Mnr Jannie de Villiers, Graan SA se uitvoerende hoofbestuurder, het tydens die streeksvergaderings ook daarop gewys dat dit ‘n kwade dag sal wees indien ons vir die regering van die dag moet sê dat ons nie namens alle produsente beding nie. “Ons eerste prys bly ‘n vrywillige heffing, maar indien dit weens verskeie redes nie die volhoubaarheid van Graan SA verseker nie, sal ‘n statutêre heffing oorweeg moet word.”

Steytler het tydens ‘n vorige Kongres reeds aan produsente gesê: “Ek vra vir julle, kom ons betaal op elke ton graan wat ons produseer, soos deur ons grondwet bepaal. Ons doen dit in belang van onsself, ons medeprodusente, ons nageslag en in belang van volhoubare graanproduksie. Ek kan dit vir julle vra, want ek doen dit.”

Hulle wat betaal gaan voortaan ook die rigting bepaal

Na verlede jaar se Kongres is reeds berig dat die aantal heffingbetalings per streek voortaan die norm gaan wees vir die aantal afgevaardigdes per streek en nie produksiepotensiaal soos in die verlede nie.

Hierdie wysiging se effek was reeds vanjaar waarneembaar, waar sommige streke se aantal afgevaardigdes vermeerder het, terwyl ander streke s’n weer minder was. Kongres het ook kennis geneem dat ‘n verdere implikasie in hierdie verband, die herindeling van streke tot gevolg kan hê.

Produsente het ook goedgekeur dat opbetaaldheid voortaan soos volg bepaal gaan word: ‘n Minimum bedrag van R1 000 + BTW (500 ton graan) word voorgeskryf vir volwaardige lidmaatskap. Indien ‘n produsent dus in die periode 1 Maart tot 28 Februarie van enige gegewe jaar minder as 500 ton graan geproduseer het, kan die balans tot en met R1 000 plus BTW inbetaal word ten einde lidmaatskap van die organisasie te behou.

Befondsing: Takstrukture en provinsiale landbou-unies

Dit is reeds lank in gebruik dat 5% van die betaalde heffing na takstrukture vanwaar dit kom gekanaliseer word, om sodoende die nodige fondse te verskaf om op grondvlak effektief te kan funksioneer.

Samewerkingsooreenkomste is reeds met drie provinsiale landbou-unies aangegaan, waarvolgens 10% van die betaalde heffing uit hul onderskeie gebiede aan hul oorbetaal word. Die doel daarvan is om te verseker dat graanprodusente se behoeftes aangaande algemene sake aangespreek word om kapasiteit te bou op provinsiale vlak.

Publication: April 2012

Section: Other Articles

Search