• Login
  • Search Icon

Gaan ek in die nuwe seisoen vir produksiekrediet kwalifiseer?

June 2016

JOHN PURCHASE, uitvoerende hoof: Agbiz

Die rampdroogte van die afgelope somerseisoen, en in sekere gebiede oor die afgelope drie seisoene, sal waarskynlik daartoe lei dat 'n groter persentasie graan produsente as normaalweg gaan sukkel om hul finansiële verpligtinge aan die einde van die produksieseisoen na te kom.

Skuldvlakke gaan dus waarskynlik hoër wees vir graanprodusente in hierdie droogtegeteisterde gebiede. Die vraag ontstaan dus of sodanige produsente gaan kwalifiseer vir verdere toegang tot produksiekrediet en teen watter terme. Heelwat onsekerheid en kommer hieroor heers tans by hierdie graanprodusente.

Noudat die aktiewe groeiseisoen verby is, kan graanprodusente realistiese beramings van hul oesopbrengste maak – van wat hul kan verwag en watter inkomste hulle redelikerwys kan realiseer om hul skuld te vereffen. Graanprodusente wat reken dat hulle moontlik of waarskynlik nie hul verpligtinge gaan kan nakom nie, word aangeraai om so spoedig moontlik met hul finansier(s) in gesprek te tree. Die rede is tweeledig: Eerstens sodat hul saam kan evalueer en beplan hoe om die skuld te hanteer, te vereffen en te konsolideer – indien nodig – en tweedens om vroegtydig moontlike kredietverlening vir die komende seisoen te begin beplan.

Kredietverlening vir die komende seisoen is nie 'n gegewe nie. Finansiële instellings, hetsy die kommersiële banke, landbou besighede of die Land Bank, sal uiteraard elke finansieringsgeval individueel beoordeel en poog om eers alle onafgeloste skuld te herstruktureer en/of te konsolideer. Dan sal, afhangende van die finansieringsaansoek en volgens die instelling se finansieringskriteria, bepaal word of die produsent kwalifiseer vir verdere krediet vir die volgende seisoen, al dan nie.

Finansiers sal veral wil bepaal wat die terugbetaalvermoë van die kliënt is (die sterkte van die balansstaat), watter kollateraal en sekuriteite aangebied kan word om die lening te sekureer en wat die kredietrekord van die kliënt is.

Alvorens krediet toegestaan kan word, moet finansiële instellings ok die bepalings van die Nasionale Kredietwet met betrekking tot roekelose kredietverlening in ag neem, asook 'n reeks ander regulatoriese bepalings. Veral van belang is dat kliënte aan die so genaamde wetlik-voorgeskrewe affordability assessment, oftewel terugbetaalvermoë, kan voldoen. Verder moet ook besluit word op die prys (rentekoers) waarteen krediet toegestaan sal word, in ag genome risiko en die finansieringsbeleid.

Gaan ek in die nuwe seisoen vir produksiekrediet kwalifiseer?Daar word aanbeveel dat elke produsent 'n volledige en goed-uitgewerkte besigheidsplan opstel van watter gewasse hulle beplan om te plant, wat die vaste en veranderlike kostes daarvan gaan wees (insluitend bemarkingskoste), wat die realistiese opbrengs is (langtermyn-gemiddelde opbrengs) en watter prys redelikerwys met 'n bepaalde bemarkingstrategie vir die oes behaal kan word. Die kliënt sal duidelik moet aandui hoe hy beide die aansienlike produksierisiko en prysrisiko vir die komende seisoen gaan bestuur wanneer hy sy kredietaansoek indien.

Tans verhandel internasionale graan- en oliesadepryse relatief laag – vergeleke met die voorafgaande vier tot vyf jaar – en dit kan verdere druk op die winsgewendheid van graanproduksie in die alge meen plaas (sien Grafiek 1). Plaaslike graanpryse verhandel tans merendeels by invoerpariteit, wat relatief hoog is. Daar bestaan egter redelike groot potensiaal vir graanpryse om aansienlik na uitvoerpariteit te daal indien produksietoestande gunstig sou verloop.

Finansiële instellings het reeds aangedui dat dit nie in hul belang is om grootskaalse sekwestrasies en bankrotskappe te verklaar nie. Hulle sal eerder poog om skuld te herstruktureer en kliënte in produksie te hou deur toegang tot krediet te verleen waar hul enigsins kan.

Die harde realiteit is egter dat daar ook noodwendig en ongelukkig produsente sal wees wat nie sal kwalifiseer vir toegang tot krediet nie. Terwyl steeds gepoog word om staatondersteuning deur middel van 'n staatswaarborgskema te verkry om produksiekrediet in verdienstelike en kwalifiserende gevalle te ondersteun en droogtegeteisterde produsente in produksie te hou, moet aanvaar word dat sulke droogte-ondersteuning beperk kan wees en geensins 'n gegewe is nie.

Die belangrikste raad van finansiers is: Wees pro-aktief en maak 'n afspraak met jou finansiers om jou situasie so spoedig moontlik met hul te bespreek.

Publication: June 2016

Section: Relevant

Search