• Login
  • Search Icon

Gaan die mielievoorraadsituasie realiseer?

December 2011

image

PETRU FOURIE, LANDBOU-EKONOOM: PRODUKSIE/INSETTE, GRAAN SA EN BARRETT SCHOEMAN, LANDBOU-EKONOOM: MARKOMGEWING, GRAAN SA

Graanpryse word in Suid-Afrika deur ‘n vryemarkstelsel bepaal. Die vraag en aanbod-situasie speel dus ‘n belangrike rol wanneer daar vir kommoditeite se pryse beding word. Produsente is tradisioneel prysnemers en daarom kan ‘n plaaslike oor- of onderproduksie die plaaslike prys drasties beïnvloed.

Die huidige vraag en aanbod-projeksie van Graan SA dui dat Suid-Afrika op ‘n knap voorraadsituasie, indien nie ‘n tekort nie, kan af stuur. Indien laasgenoemde sou realiseer, kan dit ‘n gunstige uitwerking op die Safex-mielieprys tot gevolg hê. Hierdie verwagte beter pryse verhoog die winsgewendheid van mielies en gevolglik het produsente se voornemens om mielies te plant, toegeneem.

Volgens die Nasionale Oesskattingskomitee (NOK) is produsente van voorneme om 2,6 miljoen ha mielies aan te plant, wat ‘n 9,7% of 229 900 ha toename in vergeleke met verlede seisoen se aanplantings van 2,37 miljoen ha is.

Volgens Graan SA se vraag en aanbod-projeksies, kan die huidige bemarkingsjaar (2011/2012) op ‘n mielietekort van ongeveer 202 000 ton uitloop. As ‘n gemiddelde verwagte wit- en geelmielie-opbrengs (4,24 ton/ha) oor die voorgenome oppervlakte van 2,6 miljoen ha behaal word, kan ‘n oes van oor die 11 miljoen ton vir die volgende bemarkingsjaar realiseer.

Dit is egter nie voldoende om aan die binnelandse vraag (9,7 miljoen ton) en verwagte uitvoere (1 miljoen ton) te voldoen nie. Namate pryse in reaksie op vrese oor knap voorrade tans styg, word verwag dat produsente aangemoedig sal word om meer te plant as wat aanvanklik beoog is.

Alhoewel produsente van voorneme is om geelmielie-hektare met 8,8% in die komende bemarkingsjaar (2012/2013) uit te brei, is die uitbreiding steeds nie voldoende om aan die plaaslike vraag en hoofsaaklik BLNS-uitvoere te voldoen nie. Daar word verwag dat nagenoeg 100 000 ton geelmielies ingevoer sal moet word, wat vir voer in hoofsaaklik die Kaap aangewend sal word.

Gunstiger prysvlakke vir witmielies motiveer produsente om die hectare aangeplant met 10,2% in 2012/2013 uit te brei. Alhoewel daar ‘n verwagte uitbreiding in hektare is, wek die kleiner geprojekteerde eindvoorraadvlakke van 2011/2012 steeds kommer.

Hierdie beraamde oes bring mee dat daar ‘n skrale surplus bo pyplyn van slegs 85 000 ton wit- en geelmielies in die mark vir die komende seisoen kan wees.

Die verwagte mielie-eindvoorraad het die afgelope tyd gedaal nadat hoër as verwagte diepsee uitvoere na lande soos Meksiko, Italië, Korea, Taiwan en Japan plaasgevind het. Gebaseer op amptelike bronne, projekteer Graan SA dat nagenoeg 1,24 miljoen ton witmielies en 760 000 ton geelmielies vir die huidige bemarkingsjaar uitgevoer gaan word.

Indien die huidige hoë mielie-uitvoertempo volgehou word, kan dit daartoe lei dat Suid-Afrika ‘n mielietekortsituasie ervaar en sal meer as verwag ingevoer moet word. Die huidige uitvoertempo sal egter nie volgehou kan word nie, aangesien daar bloot net nie genoegsame mielies daarvoor beskikbaar is nie.

In Grafiek 1 word die oordragvoorraad as ‘n persentasie van die totale kommersiële vraag aangetoon. Hierdie persentasie het vanaf ‘n relatief lae vlak in die 2007/2008-seisoen (11,3%) stelselmatig tot die 2010/2011-bemarkingsjaar (18,5%) toegeneem.

image

Hierdie toename was hoofsaaklik die gevolg van drie opeenvolgende gunstige produksieseisoene met hoër as gemiddelde opbrengste. Die vraag en aanbod vir somergrane was gevolglik uit balans en graanpryse het op uitvoerpariteitsvlakke verkeer met die gevolg dat die volhoubaarheid van graanproduksie in gedrang gebring is. Vir die 2011/2012-seisoen het oordragvoorrade ‘n historiese laagtepunt van 8,2% bereik. Verwagtinge is dat dit in die komende bemarkingsjaar tot 11,5% op grond van verhoogde produksie kan toeneem.

Ander gewasse

Aangesien die plaaslike mielieproduksie in ‘n meer winsgewende situasie as ‘n jaar gelede verkeer, het produsente alternatiewe gewasse met mielies vervang.

Verwagte aanplantings van sonneblom is 555 000 ha, wat ‘n afname van 13,6% of 87 700 ha teenoor verlede seisoen verteenwoordig. Daar is tans ‘n tekort aan sonneblom in die mark en indien ‘n gemiddelde opbrengs (1,30 ton/ha) op die voorgenome oppervlakte sou realiseer, kan daar steeds ‘n tekort wees. Produsente moet daarop let dat die huidige vraag en aanbod-projeksie, addisionele uitbreiding op die voorneme om sonneblom te plant, bied.

Die voorgenome sojaboon-aanplantings toon ‘n toename van 10% in vergelyking met die vorige seisoen, dit is ‘n toename vanaf 418 000 ha tot 460 000 ha. As dié oppervlakte realiseer sal dit die grootste oppervlakte nog onder sojabone beplant in Suid-Afrika wees. Indien ‘n gemiddelde opbrengs van 1,70 ton/ha op die voorgenome oppervlakte behaal word, kan ‘n geskatte oes van 782 000 ton geproduseer word. Die moontlike oprigting van bykomende perskapasiteit is noodsaaklik om die waarde van hierdie groot sojaboonproduksie in Suid-Afrika te behou, anders sal uitvoere moet plaasvind om groot oordragvoorrade te voorkom.

Publication: December 2011

Section: Input Overview

Search