• Login
  • Search Icon

FOKUS EERDER OP geintegreerde plaagbeheer

February 2014

ANNEMIE ERASMUS, LNR-INSTITUUT VIR GRAAN GEWASSE

Geïntegreerde plaagbeheer is ‘n essensiële globale benadering tot plaagbeheer wat streef om ‘n kombinasie van metodes te kombineer vir die bestuur van ‘n spektrum van plae in ‘n sekere produksiestelsel.

Insekplaagbeheer word soms gesien as sinoniem met geïntegreerde plaagbeheer omdat die konsep ontwikkel is deur entomoloë, maar in geheel sluit geïntegreerde plaagbeheer ook die bestuur van onkruide, patogene asook insekte in.

image Geïntegreerde plaagbeheer kan in verskillende beheermetodes verdeel word, naamlik, chemiese beheer, biologiese beheer, gas heerplantweerstand en kulturele beheer (Figuur 1).

Die Verenigde Nasies se Organisasie vir Voedsel en Landbou definieer geïntegreerde plaagbeheer as “...the careful consideration of all available pest control techniques and subsequent integration of appropriate measures that discourage the development of pest populations and keep pesticides and other interventions to levels that are economically justified and reduce or minimise risks to human health and the environment. “Integrated pest management emphasises the growth of a healthy crop with the least possible disruption to agro-ecosystems and encourages natural pest control mechanisms.”

Geïntegreerde plaagbeheer kan dus in kort gedefinieer word as ‘n plaagbeheerstelsel wat in konteks van die geassosieerde omgewing en populasiedinamika van die plaagspesie, van die beste tegnieke en metodes gebruik maak of ‘n kombinasie daarvan, om die plaagpopulasie onder dié vlak te hou waar ekonomiese skade aangerig kan word.

Die gebruik van insektisiede deur die Sumeriërs waar swawelkomponente gebruik is om insekte en myte te beheer, is vir die eerste keer 2 500 BC gerapporteer. Die eerste beskrywing van kulturele beheer, veral die manipulering van plantdatums, is sowat 1 500 BC gerapporteer, terwyl verbranding as ‘n beheermetode in 950 BC beskryf is.

Bewyse van biologiese beheer kom van China en Yemen af waar kolonies van predatoriese miere op bamboesbrûe gebruik is om larf- en kewerplae te beheer.

Genetiese plantweerstand is herken deur Theophrastus in siektevatbaarheid tussen gewaskultivars so vroeg as 3 BC. Teen 500 AC is al die algemeenste tipe beheermetodes – chemiese (insekdoders), gasheerplant-weerstand, biologiese en kulturele beheermetodes – reeds deur een of ander beskawing gebruik.

Chemiese insekdoders word gesien as ‘n essensiële komponent van insekplaagbeheer sedert die vroeë 1950’s toe organochlorine vir die eerste keer vrygestel is. Sedertdien is probleme geassosieer met die misbruik van insekdoders en die gebruik van meer ekologies gebaseerde, geïntegreerde plaag beheermetodes word aangemoedig sodat daar nie alleenlik op insekdoders gesteun word vir die beheer van plae nie.

Die korrekte en rasionele gebruik van insekdoders is kompleks en verg kennis van:

  • Die insekpopulasiedinamika en die impak van chemiese gebruik
  • Die aktiewe bestanddeel, werking en formulering
  • Toerusting en toediening
  • Veiligheid en ekonomiese voordeel
  • Toksikologiese en eko-toksikologiese im pak asook insekdoder weerstand

In die algemeen, indien reg gebruik word, is die gebruik van insekdoders baie effektief om die teikenplaag te beheer.

Gasheerplantweerstand kan gedefinieer word as die gevolg van plantkwaliteite wat lei tot ‘n plant wat minder skadesimptome toon as ‘n plant sonder daardie sekere kwaliteit. In praktiese landbouterme kan gas heerplantweerstand gesien word as byvoorbeeld ‘n insekweerstandbiedende kultivar wat ‘n hoër opbrengs lewer as ‘n vatbare kultivar wat deur insekte beskadig word.

Insekweerstandbiedende plante beïnvloed die verhouding wat daar tussen ‘n insekplaag en die gasheerplant is. Hierdie verhouding tussen insek en plant kan geaffekteer word deur drie tipes weerstande: Antibiose, antixenose of toleransie.

Antibiose-weerstand beïnvloed die biologie van die insek sodat die plaaggetalle verminder en minder skadesimptome getoon word as by ‘n plant wat nie weerstand het nie. Antixenose-weerstand affekteer die gedrag van die insekplaag deurdat die insek verkies om nie op die plant met weer stand te voed in vergelyking met ‘n plant sonder weerstand nie. Toleransie is waar die plant skade kan weerstaan of van skade kan herstel wat deur ‘n insek aangerig is.

image

Die interaksies tussen insekte en hul natuurlike vyande is noodsaaklike ekologiese interaksies wat ‘n groot bydrae lewer tot die beheer van insekpopulasies wat bekend staan as biologiese beheer (Foto 1).

In situasies waar hierdie natuurlike interaksies versteur word, kan potensiële insekplaagpopulasies ontwikkel, wat tot so ‘n mate groei dat dit lei tot ‘n plaaguitbraak. In meerjarige gewasse, soos aangeplante woude en vrugteboorde, is biologiese beheer meer suksesvol aangesien die omgewing nie so drasties verander nie en daar ‘n voortdurende interaksie tussen die insekplaag en die natuurlike vyande is. In eenjarige gewasse is die situasie egter anders, aangesien ‘n onstabiele omgewing geskep word waar die plaag en die natuurlike vyande van mekaar geskei word. Hierdie skeiding kan soms verminder word deur beter bestuurstegnieke toe te pas om natuurlike vyande te bewaar en die stabiliteit van die gewasproduksiestelsel te bevorder.

Parasitoïede parasiteer slegs ‘n ander insekgasheer gedurende sy onvolwasse stadiums wanneer die larwe ontwikkel, binne (endoparasiet) of op (ektoparasiet) die gasheer. Gedurende larwale ontwikkeling in die insekgasheer, word die gasheer gewoonlik heeltemal of gedeeltelik gevreet en vorm die parasietlarwes papies binne-in of naby die gasheer.

Predatore voed op alle stadiums van hulle gasheer – op eiers, larwes, papies en volwassenes. Elke predator benodig ‘n aantal individue van die gasheer om volwassenheid te bereik, anders as in die geval van parasitoïede wat slegs een gasheer benodig. Die onvolwasse en volwasse predator moet hul gasheer soek, vind, oorwin en dan eers begin hulle voed.

Kulturele beheer van insekplae is wanneer die omgewing in so ‘n mate gemanipuleer word dat heersende omstandighede ongunstig gemaak word vir die insekplaag. Hierdie manipulering kan deur baie tegnieke gedoen word, soos deur wisselbou van gewasse, tussenverbouing, manipulering van plantdatums en bewerking. Ander beheertegnieke sluit in byvoorbeeld die gebruik van semio-chemikalië (byvoorbeeld feromone) om insekkommunikasie te versteur.

Dit is egter belangrik om kennis te dra van al die bogenoemde beheerstelsels wat gebruik kan word om insekplae effektief en ekonomies te beheer. Dit is dus noodsaaklik om nie slegs op een enkele beheertegniek te steun nie, maar eerder op ‘n kombinasie van beheermetodes om ‘n plaag te beheer, dit wil sê geïntegreerde plaagbeheer.

Publication: February 2014

Section: Input Overview

Search