• Login
  • Search Icon

Elk se Kanaän lê op 'n ander plek

June 2014

image

image

Beste Grootneef

Die rook hang vanaand laag in die vlei, met ‘n suidewind wat effe roer in die grassade se buig. Teen die westerkim lê 'n bank vlieswolke met die nuwe front se voorlopers. Met so laaste kyk oor die werf word die agterdeur toegetrek. Vannag gaan dit kliphard ryp in die Vrystaat.

In die voorhuis word die kaggel met nog 'n bloekomstompie gevoer en spat die vonke in die skoorsteen op. Die winterstilte is anders op ‘n plaas. Die veld praat met 'n enkele korhaan of die troppie tarentale in die bos. Die dakbalke kraak met elke graad wat die kwik sak.

Ou Neef, met ‘n glasie muskadel uit die Kolonie en Vroulief wie potte rondskuif vir aandete, is dit ‘n salige winterstilte om ons.

Maar dit smaak my of ons so half in ‘n stilte voor ‘n storm is. Dit lyk ook of elk se Kanaän op ‘n ander plek lê. Dit hang mos nou net af van wat jou moeilikheid is. As jou kraan nie water het nie, is ‘n pyp vol water jou Kanaän. As jy onder die sterre slaap, is ‘n eenslaapkamerhuis jou Kanaän. En as jy nie werk het nie, is die vol busse en treine na fabrieke en myne jou Kanaän. So werk dit mos met die mensdom in die lewensreis, altyd op trek na wat lyk soos die volgende trappie op die Kanaän-pad na waar dit beter sal gaan. Al vat dit 40 jaar...

Ou Neef, ek weet nie in jou geweste nie, maar hier by ons is al wat van die verkiesing oor is, ‘n klompie kandidate se plakkate wat verlep aan die pale hang. Buurman sê vanoggend hy mis die verkiesing, want die klomp was so besig om beloftes te maak, dat hulle nie kon kwaad doen nie...

As ek nou terugdink, is dit nie eintlik moeilik om ‘n politikus te wees nie. Al wat jy nodig het, is een blink pak van Maandag tot Vrydag, want naweke word T-hemde uitgedeel. Die tweede ding wat jy nodig het, is ‘n sak vol niks oor die skouer en hierdie sak vol niks, word dan met almal gedeel.

Dit is eintlik die moeilikheid met die verkiesing, dat beloftes links en regs aan die stemvolk gemaak word. Nou sit algar en wag vir hul stukkie Kanaän om op te daag. Dit is soos iemand wat belowe die tjek is in die pos, maar niks daag op nie. Dit is dán wanneer die verwagting in mense se harte vir ‘n stukkie Kanaän in moerigheid omsit, wanneer daar steeds nie water in die pyp is nie en die pad vol gate bly. Dít, terwyl die blink meneer nou in ‘n groter swart kar rondry.

Ou Neef, die verkiesing het gekom en die verkiesing het gegaan. Al wat ek vanaand hier op my eie in die vlaktes weet, is dat daar nie nog 40 jaar oor is om ‘n Kanaän met water in die pype te vind nie.

Groete op die Oosgrens.

Kleinneef

Publication: June 2014

Section: E-mails

Search