• Login
  • Search Icon

Einde van endosulfaan — wat nou gemaak?

January 2012

DR GERHARD H VERDOORN, GRIFFON GIFINLIGTINGSENTRUM EN VERENIGING VAN DIEREGESONDHEIDS- EN PLANTBESKERMINGS VERENI GINGS VAN SUID-AFRIKA (AVCASA)

Endosulfaan is een van die wêreld se heel laaste organochloorplaagdoders wat nog in gebruik is. Hier in Suid-Afrika is dit vir gebruik op ‘n verskeidenheid gewasse geregistreer en is veral vir geïntegreerde plaagbeheer gebruik omdat dit vroeg in die seisoen skadelike insekte beheer sonder om predatore skade aan te doen.

Soos wat die wêreld ‘n groener perspektief op die lewe gekry het, is daar lank terug reeds besluit om die Hardnekkige Organiese Besoedelingstowwe of sogenaamde Persistent Organic Pollutants (POPs) uit te faseer omdat hierdie produkte ernstige nagevolge vir die omgewing inhou.

Endosulfaan is onlangs deur die Stockholm Konvensie op Hardnekkige Organiese Besoedelingstowwe as deel van die konvensie se lys van verbande produkte verklaar. Lande soos Suid-Afrika, wat ondertekenaars van die konvensie is, is genoop om die produk dan so vinnig as moontlik uit te faseer sodat dit uit die samelewing kan verdwyn.

Die Registrateur van die Wet op Misstowwe, Veevoere, Landboumiddels en Veemiddels (Wet Nr. 36 van 1947) het alreeds kennisgewing aan die registrasiehouers van endosulfaan gegee om die invoere en verkope op bepaalde datums in die nabye toekoms te staak. Die finale einde van endosulfaan is op 30 April 2012, waarna dit onwettig sal wees om die produk te verhandel, te besit of te gebruik.

image

Landbouers wat wel endosulfaan nog in hulle besit het, word ernstig deur AVCASA aangeraai om die oorblywende produk so vinnig as moontlik op te gebruik sodat daar niks daarvan meer teen die einde van April 2012 oor is nie.

Endosulfaan is vir gebruik op baie gewasse en verskeie plae in Suid-Afrika geregistreer. Die uitfasering daarvan kan dalk vir produsente na ‘n nagmerrie klink, maar daar is eintlik niks om oor bekommerd te wees nie. Daar is baie ander landboumiddels (plaagdoders) wat vir dieselfde doeleindes as endosulfaan geregistreer is en dus kan die produsent sonder enige probleme steeds die bestaande plae op sy gewasse beheer sonder om op endosulfaan staat te maak.

Mielies is een van die land se kerngewasse en daar is oorgenoeg plae om produsente goed besig te hou. Amerikaanse bolwurm is ‘n bekende plaag waarvoor endosulfaan wel geregistreer is. Met die wegdoening van endosulfaan is daar egter steeds plaagdoders soos alfa-sipermetrien, beta-sipermetrien, sipermetrien, deltametrien, esfenvaleraat, lambda-sihalotrienmetomiel, tralometrien en zeta-sipermetrien beskikbaar.

Dieselfde geld vir stronkboorder waar ook ‘n verskeidenheid plaagdoders geregistreer is wat in die plek van endosulfaan aangewend kan word. Met die ontwikkeling van geneties gemodifiseerde mielies, is die noodsaaklikheid van plaagbeheer vir bepaalde insekte waarskynlik ook aan die afneem omdat hierdie mieliekultivars hulleself teen sulke plae kan beskerm.

In koring is daar, net soos in die geval van mielies, ook meestal peritroiede geregistreer om die peste en plae te beheer wanneer endosulfaan sy einde bereik. By gewasse soos katoen, waar endosulfaan ‘n krities belangrike plaagdoder was vir die beheer van Amerikaanse bolwurm, is die gewasse so weerstandig met hulle BT-gene dat bespuiting beswaarlik nodig is. Endosulfaan se einde sal dus geen effek op katoenprodusente hê nie.

Daar is alom geglo dat endosulfaan nie so erg soos die ander organochloorverbindings is nie en dat dit nie as ‘n POPs plaagdoder beskou moet word nie. Wat egter ‘n feit is, is dat endosulfaan oor al die fisiese en chemiese eienskappe van ‘n POPs plaagdoder beskik.

Dit metaboliseer egter baie vinnig na endosulfaansulfaat en is dus nie so hardnekkig soos die ander organochloorverbindings nie. Ongeag die vinnige oksidasie na die sulfaatanaloog, is daar oorgenoeg bewyse dat endosulfaan wel bioakkumuleer in lewende organismes. Endosulfaan is ook hoogs giftig vir visse.

Alhoewel endosulfaan nou deur die Stockholm Konvensie verban is, is daar nie genoegsame rede om te glo dat dit grootskaalse besoedeling of vergiftiging in Suid-Afrika veroorsaak het nie. Ander lande kan egter nie dieselfde sê nie.

Indië het op verskeie geleenthede grootskaalse vergiftiging van mense beleef as gevolg van die misbruik van endosulfaan. Dit is iets waaroor ‘n mens beswaarlik genoeg kan skryf, naamlik die misbruik van plaagdoders. Misbruik, of in ander woorde gebruike wat nie op die etikette aangedui is nie, lei tot grootskaalse negatiewe impakte op mense en die omgewing en het al menige plaagdoder in die stof laat byt.

Chloorpirifos is onder andere so ernstig in Suid-Afrika in die huis- en tuinmark misbruik dat AVCASA aanbeveel het dat dit uit daardie mark onttrek word en slegs aan bona fide produsente vir plaagbeheer in landbou beskikbaar gestel moet word.

Endosulfaan is selde of ooit in Suid-Afrika misbruik en met 20 jaar se opnames oor vergiftiging onder wilde diere, is slegs twee of drie gevalle aangeteken. Dit het beslis nie bygedra tot die ondergang van endosulfaan nie. Dit is bloot die feit dat die produk in ander dele van die wêreld, soos in Indië, misbruik is en as gevolg van die chemiese struktuur van die molekule het dit dan op die Stockholm Konvensie se POPs lys beland.

CropLife Suid-Afrika, wat die verskaffers en vervaardigers van plaagdoders in Suid-Afrika onder die AVCASA-vaandel verteenwoordig, het met huiwering ingestem om die uitfasering en finale verbanning van endosulfaan te ondersteun bloot omdat Suid-Afrika ‘n ondertekenaar van die Stockholm Konvensie is en omdat daar wel goeie alternatiewe bestaan.

Ernstige vertoë is deur CropLife Suid-Afrika tot die Registrateur van Wet Nr. 36 van 1947 gelewer dat endosulfaan nie verban word nie, maar dat die registrasies nie weer hernu word nie omdat die vereniging glo dat die produk moontlik in die toekoms nodig sal wees om oor kort periods weerstandbiedende insekbevolkings te kan bestuur. Die vertoë het egter op dowe ore geval en almal aanvaar nou dat endosulfaan se dae getel is.

Ten einde alternatiewe produkte te bekom, moet produsente hulle naaste ACDASA-verspreider kontak. Maak egter seker dat die aanbevelings wat gemaak word, in ooreenstemming met die etikette van sulke produkte is.

Vir enige verdere navrae, kontak die outeur by 082 446 8946 of nesher@tiscali.co.za.

Publication: January 2012

Section: Input Overview

Search