• Login
  • Search Icon

Droogte duur voort — hulp steeds nodig

October 2016

ESTIE DE VILLIERS, redakteur: SA Graan/Grain

Produsente in sekere dele van Suid-Afrika sukkel steeds om die huidige seisoen te oorleef. Agri SA is besorg oor hul toekomstige lewensvatbaarheid.

"Droogte is nie 'n eenjaarverskynsel nie. Kontantvloei en produksiekrediet- aangeleenthede sal met ons wees vir die volgende twee tot drie jaar," sê mnr Omri van Zyl (hoof uitvoerende beampte: Agri SA). "Ons sal voortgaan om produsente in nood by te staan, maar dit behels slegs 'n druppel in die maatemmer vergeleke met wat werklik benodig word."

Agri SA het sy bes gedoen om behoeftige produsente landwyd van noodsaaklike hulp in die vorm van vee- en kuilvoer te voorsien.

Volgens mnr Christo van der Rheede (adjunk uitvoerende direkteur: Agri SA), wat as koördineerder van die fonds optree, beloop die bydraes deur die korporatiewe sektor, internasionale donateurs, kerkgenootskappe en algemene publiek tans R16 miljoen in totaal.

"Dele in die Noord-Kaap, Vrystaat, Noordwes Provinsie, die Oos- Kaap en die Wes-Kaap staar steeds 'n erge krisis in die gesig en Agri SA doen weer eens 'n beroep op die korporatiewe sektor en die algemene publiek om voort te gaan met hul finansiële bydraes aan die Agri SA Droogterampfonds.

"Agri SA word daagliks oorval deur produsente wat nie meer weet wat hul te doen staan nie. Hulle is net nie meer in staat om voer aan te koop nie. Boorgate droog op en vee vrek op groot skaal. Plaaswerkers en hul families het ook 'n groot behoefte aan humanitêre hulp. Help ons asseblief om ons voedselprodusente en hul werkers by te staan," het hy gesê.

"Die tekort aan wintervoer is 'n wesenlike probleem en enige bydraes deur die publiek word hoog op prys gestel. Verdere uitbetalings vanuit die Droogterampfonds is in September aan provinsies wat 'n erge tekort aan wintervoer ervaar, gemaak."

In Tabel 1 word 'n opsomming gegee van uitbetalings wat aan provinsies vanuit die Droogterampfonds gemaak is, terwyl Tabel 2 'n opsomming gee van bydraes gelewer.

Droogte duur voort — hulp steeds nodig

Agtergrond

Senwes het die Droogterampfonds geloods en aan Agri SA, 'n nie-winsgewende organisasie wat daarop gefokus is om 'n stabiele, winsgewende landbou-omgewing binne Suid-Afrika te vestig, oorhandig, om produsente by te staan gedurende hierdie uitdagende tyd. Die fondse word benut om voer aan te koop, die vervoer van voer te subsidieer en voer onder produsente in nood te versprei via Agri SA-geaffilieerde landbouverenigings in droogtegeteisterde gebiede.

Bankbesonderhede vir bydraes

Begunstigde: Agri SA Rampfonds
Bank: Absa
Rekeningtipe: Tjek
Rekeningnommer: 40-6854-0775
Takkode: 632 005 (Business Bank – Pretoria East)
Begunstigde se verwysing: RAMP

Jy kan ook 'n SMS stuur. SMS 'Ramp' na 42030 en dra R30 by tot die Agri SA Droogterampfonds.

Kontak Van der Rheede vir verdere navrae by 012 643 3400 of Christo@agrisa.co.za.

Publication: October 2016

Section: Relevant

Search