• Login
  • Search Icon

Drie nuwelinge vir 2013 tot die Wes-Kaap-koringkamp toegevoeg

April 2013

WILLEM KILIAN, LNR-KLEINGRAANINSTITUUT, BETHLEHEM, TERRY WALSH EN HENZEL SAUL, ALBEI VAN DIE LNR-KLEINGRAANINSTITUUT, STELLENBOSCH

Drie nuwe kultivars is in die 2013-produksieseisoen vir die eerste keer in die amptelike kultivaraanbevelings vir die Wes-Kaap ingesluit. Die kultivars wat vir die eerste keer gelys word, is Tankwa, Kwartel en Ratel.

Die Nasionale Koringkultivarproewe in die Wes-Kaap word as ‘n gesamentlike aksie deur die LNR-Kleingraaninstituut (LNR-KGI) en die Departement van Landbou in die Wes-Kaap uitgevoer. Hierdie gesamentlike resultate word jaarliks deur die Nasionale Kultivarevaluasie Werkgroep goedgekeur. Vanjaar het die byeenkoms op 13 Februarie 2013 plaasgevind en die aanbevelingslys vir die Wes-Kaap is ook bevestig deur die werkgroep.

Gedurende 2012 was daar ‘n belangrike klemverskuiwing in die uitvoering van die proewe in die Wes-Kaap. Tot en met 2011 is proewe aangeplant onder konvensionele, sowel as bewaringsboerderystelsels. Die doel hiermee was om vas te stel of die reaksie van kultivars verskil onder die twee produksiestelsels.

Met genoeg data beskikbaar aan die einde van 2011, is daar bevestig dat kultivarprestasie dieselfde is vir die twee stelsels en die werkgroep het besluit dat daar vanaf 2013 slegs proewe in bewaringsboerderystelsels uitgevoer sal word.

Die groot voordeel van hierdie besluit, is dat daar voortaan meer gedetailleerde inligting vir die verskillende substreke in die Wes-Kaap gepubliseer kan word in die Produksiehandleidings wat elke jaar aan produsente versend word.

In die grafieke hierby word die prestasie van die kultivars wat gedurende 2012 in die program ingeskryf is, weergegee. Produsente word deurentyd aangeraai om nuwe kultivars in te faseer en ook die opbrengsstabiliteit van kultivars in ag te neem. Vir hierdie doel word die drie jaar gemiddelde opbrengssyfers ook aangedui, wat ‘n direkte meting van stabiliteit oor vele lokaliteite weerspieël.

Opbrengsresultate
Swartland
Die opbrengsresultate (gekombineerd) vir die 2012-seisoen word in Grafiek 1 aangedui. Die gemiddelde opbrengs van alle kultivars in die Swartland was ‘n puik 4,05 ton/ha. In die gesamentlike resultate wat in die Swartland verkry is, het SST 056 die beste opbrengs gerealiseer (4,26 ton/ha), gevolg deur SST 015, PAN 3408, PAN 3471, SST 087 en SST 88. Al hierdie kultivars het nie statisties betekenisvol van mekaar verskil nie.

image

Die gemiddelde opbrengs wat oor die langer termyn van drie jaar met die verskillende kultivars behaal is, is baie belangrik wanneer daar ‘n besluit gemaak word rakende die pakket van kultivars wat geplant gaan word. In Grafiek 2 word die prestasie van kultivars wat vir die volle tydperk van 2010 tot 2012 in die reeks proewe ingesluit is, weergegee.

image

Oor die driejaar-tydperk het PAN 3408 (3,78 ton/ha) die beste presteer, gevolg deur SST 015. Laasgenoemde twee kultivars het nie betekenisvol van mekaar verskil nie.

Rûens
Die opbrengsprestasie van alle kultivars in die Rûens vir die 2012-seisoen word in Grafiek 3 weergegee. Die gemiddelde opbrengs oor kultivars en lokaliteite, was 3,95 ton/ha. Die beste opbrengs in 2012 is met SST 087 (4,33 ton/ha) behaal. In die tweede plek was SST 056, en hierdie twee kultivars het nie statisties van mekaar verskil nie.

image

Die prestasie van die elf kultivars wat vir die tydperk vanaf 2010 tot 2012 in die proefreekse in die Rûens ingesluit is, word in Grafiek 4 aangedui. Die kultivar wat uitstaan in die gebied is SST 087, met ‘n gemiddelde opbrengs van 3,88 ton/ha oor die driejaar-tydperk. SST 087 het ‘n statisties betekenisvolle hoër opbrengs gehad as al die ander kultivars.

image

Aanbevelings
Tydens die vergadering van die Nasionale Kultivarevaluasie Werkgroep, is die kultivars wat in elke spesifieke gebied aanbeveel word, ook gefinaliseer. In Tabelle 1 tot 3 word die aanbevole kultivars, planttye en saaidigthede vir die Swartland en Rûens aangedui. Kultivars met die nota “PTR” by, word beskerm deur Planttelersregte wat aan die eienaar van die kultivar toegestaan is.

image

image

image

Die opsomming van die resultate wat in die 2012-seisoen behaal is, is meer breedvoerig ingesluit in die 2013 Handleiding vir die produksie van kleingrane in die winterreënvalstreek van die LNR-KGI. Hierdie Handleiding word gedurende die laaste week van Maart 2013 aan produsente versend en kan geraadpleeg word vir meer inligting oor algemene produksieknelpunte.

Hierdie navorsing is moontlik gemaak deur die finansiële ondersteuning van die Wintergraantrust en die Landbounavorsingsraad.

Publication: April 2013

Section: Other Articles

Search