• Login
  • Search Icon

Dok Gert kyk terug op sy loopbaan in die misstofbedryf

July 2012

ANSONÉ VENTER, SA GRAAN/GRAIN MEDEWERKER

Op die ouderdom van 62 het dr Gert van der Linde sy baadjie as direkteur van agt jaar op 31 Maart 2012 opgehang met sy aftrede ná 20 jaar diens by die Misstofvereniging van Suid-Afrika (MVSA).

Dok Gert (soos hy bekend staan) het ‘n paar hoogtepunte van sy loopbaan by die MVSA en sy planne vir die toekoms met SA Graan/Grain gedeel.

Sy loopbaan

Dok Gert se 35 jaar ondervinding in die gebied van fosfaat-, fosforsuurproduksie en die kunsmisbedryf, het in 1967 aan die Randse Afrikaanse Universiteit begin toe hy sy BSc met Chemie en Fisika as hoofvakke daar gedoen het.

Aan die einde van 1980 het hy sy BSc Honneurs, ‘n MSc en sy PhD in Chemie voltooi, nadat hy reeds vanaf 1974 by Foskor Limited (Suid-Afrika) werksaam was.

In April 2004 is hy as direkteur van MVSA aangestel. In hierdie hoedanigheid was hy aktief in die organisering van simposiums oor kunsmisgebruik sowel as die opleiding van mense in die gebruik van kunsmis.

Hoogtepunte as direkteur van MVSA

“In die agt jaar wat ek direkteur van die MVSA was, was die verbetering in samewerking tussen die lede van die MVSA en die Registrateur van Wet 36, een van die vele hoogtepunte,” noem hy.

Gedurende sy tyd as direkteur is die MVSA deur die Registrateur gekonsulteer in die samestelling van die nuutste regulasies ten opsigte van Wet 36. Dok Gert het veral ten opsigte van tegniese aangeleenthede, baie nou met die Registrateur saamgewerk in die opstelling van dié regulasies. Hy het verduidelik dat die regulasies baie belangrik is, omdat dit sê hoe Wet 36 toegepas moet word.

“Alle aangeleenthede ten opsigte van kunsmis; die vervaardiging, kwaliteit, verpakking en advertensie word deur die regulasies van Wet 36 gereguleer. Dit is tot voordeel van beide die vervaardiger en die verbruiker. Die vervaardiger weet presies wat hy mag doen en wat nie, terwyl die verbruiker weet dat die kwaliteit van die kunsmis wat hy koop presies gespesifiseer is en dat, indien die produk geregistreer is, soos voorgeskryf deur die wet, dit aan alle spesifikasies sal voldoen.”

Dok Gert sien ook die verbetering op die gebied van die monitering van kunsmiskwaliteit (in samewerking met Graan SA) as een van die hoogtepunte in sy loopbaan by die MVSA. “Gedurende my termyn as direkteur, het die lede van die MVSA en Graan SA werklik goed saamgewerk en ons het ‘n protokol opgestel ten opsigte van die neem van monsters van kunsmis wat op produsente se plase afgelewer is.”

Die herinstelling van ‘n jaarlikse symposium waar nuwe inligting aan beide vervaardigers en verbruikers van kunsmis aangebied is, word ook hoog op sy lys geplaas. “Ek het veral hard gewerk om buitelandse aanbieders te kry wat totaal nuwe inligting aan ons lede en hul kliënte kon gee.”

Raad aan produsente

“Goedkoop koop is duur koop!” Dok Gert waarsku produsente om heel eerste seker te maak of die kunsmisproduk wat aangebied word, geregistreer is. Indien die produkte wel geregistreer is, behoort die kwaliteit van die produk reg te wees.

Verder maan hy produsente om ook nie al die stories wat verkoopsmanne vertel, te glo nie. “Indien dit te goed klink om waar te wees, is dit presies wat dit in die meeste gevalle sal wees.”

Produsente moet waaksaam wees selfs as welbekende vervaardigers navorsingsverslae uitdeel wat wys dat ‘n sekere produk beter as ‘n ander een is. Dit is belangrik om seker te maak of die verslag tuis of internasionaal gepubliseer is. Sulke verslae moet eers deur kundiges nagegaan word vir die korrektheid voor dit gepubliseer kan word. “Indien die verslag nie in Suid-Afrika of internasionaal gepubliseer is nie, dan moet ‘n mens maar begin wonder hoekom nie.” Dok Gert adviseer produsente verder om, indien hulle twyfel oor inligting, ‘n onafhanklike kenner se mening te kry.

Die lewe ná aftrede

Dit blyk nie of Dok Gert planne het om stil te sit ná sy aftrede nie. Hy en sy vrou, Margaret, het oor die jare meer as 3 000 boeke bymekaargemaak, waarvan hulle al heelwat gelees het, maar hy sien uit om al die ander wat op hul boekrakke weggepak is, te lees.

Verder het hulle ook besluit om meer te reis. “Daar is so baie plekke wat ‘n mens graag wil besoek, maar daar was nooit tyd nie, nou het ons die tyd!”

Hy is ‘n man wat daarvan hou om met sy hande te werk en sal ook nou meer aandag aan sy vele stokperdjies kan gee wat découpage, houtwerk, modelbou en nog vele meer insluit.

“Ek het ook my eie besigheid, Phos Min Consulting, gestig. Ek wil voortgaan om mense en besighede te help met die myn en opgradering van fosfaat sowel as die vervaardiging van fosforsuur en kunsmis. Hy het ook by ‘n maatskappy, African Phosphates (APhos), aangesluit. APhos ontwikkel en bemark ‘n nuwe metode vir die vervaardiging van fosforsuur waar geen gips as afvalproduk gelewer word nie.

“Dit wil vir my lyk of ek dalk nog besiger gaan wees as voor my aftrede!”

image

Publication: July 2012

Section: Input Overview

Search