• Login
  • Search Icon

Dit is hoekom...

August 2015

image

JANNIE DE VILLIERS, uitvoerende hoofbestuurder/CEO

Ek het die ander dag ‘n interessante aanhaling raakgelees wat my weer opnuut laat dink het oor die toestand waarin ons land en sy mense is. Vry vertaal het dit min of meer só gelui: “Die nuwe wêreldorde word nie deur politieke prosesse of ekonomiese kragte gevorm nie, maar deur individue wat bymekaarkom, iets saam besluit, dit begin doen en die proses versprei.”

Is dit dan nie wat Graan SA doen nie? Ek beleef dit bykans daagliks. Ons werkgroepe kom bymekaar, bespreek die lede se probleme, besluit wat die oplossings is en begin dit dan implementeer: Die eindresultaat is ‘n land met voedselsekerheid en volhoubare produsente.

Ons oog moet op die bal bly! Die verkiesingskoors het sommer vroeg al begin loop, veral as ons na die baie uitsprake oor grondhervorming luister. Tog is daar altyd diegene wat ook realisties na alles kyk en ja, almal in die land is nie politici nie.

Ons moes die afgelope maand hoor van manne wat weet dat Suid-Afrika nie die finansiering het vir die planne wat sommer so lukraak in die parlement aangekondig word nie. ‘n Ander het weer sommer so oor sy skouer gesê: “Suid-Afrika verdien ‘n beter president. Die howe sal nie dat hy sommer so met alles wegkom nie.” Wat laasgenoemde betref, sal ons maar moet sien.

So saam met die swak oesopbrengste in die noorde wil dit tog lyk of ons die 1 miljoen tonkerf vir sojabone vir die eerste keer gaan oortref – nog ‘n teken dat die mark sy werk doen. Die prys en vraag is daar en die produksie het gevolg. Die verwagte verbetering in die genetiese materiaal sal vir dié bedryf nog ‘n verdere hupstoot kan gee.

Ons vertrou dat die laat reëns in die Kaap sal voortduur sodat hulle ‘n mooi oes kan afhaal. Die weerprofete wil-wil alweer droogtes vir die volgende jaar begin voorspel. As dit gebeur, sal dit meer as net ‘n ramp wees, maar as gelowiges moet ons aanhou glo: Voorspoed en nie teenspoed nie – dit is God se belofte.

Ek lees deesdae baie wat die ringkoppe oor die moeilike tye in leierskap te sê het. Een ding is seker – karakter presteer elke keer bo kapasiteit uit. Vasbyt is beslis nie vir sissies nie.

Ons is nou by die 250 m-merk van die 400 m-grondhervormingswedloop. Die manne en vroue wat nie aanhou oefen het en nie die spieruithouvermoë gedoen het nie, gaan nou teen die muur vashardloop. ‘n Bekende bokser het eendag gesê dat as jy in die vroeë, donker oggendure tydens oefening verneuk, sal jy in die helder kolligte van die bokskryt voor baie mense uitgevang word.

Die druk is op, oral, en ons ware motiewe en karakter gaan nou begin wys. Ek het Graan SA leer ken as ‘n groep produsente wat nie tevrede is met die status quo nie, wat bymekaarkom, oplossings soek en iets aan die omstandighede rondom hulle doen.

Ons leiers trek swaar en moet mekaar gedurig aanmoedig om uit te hou en aan te hou. “Hoekom?” vra jy. Ter wille van ons kinders en kleinkinders. Omdat ons nou die karakter moet weerspieël van Hom wat ook ter wille van ons uitgehou en aangehou het totdat dit volbring was. Dit is hoekom.

Publication: August 2015

Section: Features

Search