• Login
  • Search Icon

Dis beter buite die stadspoorte

January 2015

image

image

Beste Grootneef

Voorspoed ou Neef, op 2015! Mag dit elke Vrydagmiddag ná tjailatyd reën.

Hier oor die Feesdae het ons by die familie in die groot stad gaan kuier. Kyk, dáár is darem vir jou mense... En elk probeer om op sý manier ‘n bestaan te maak.

By robotte kan jy enige ding koop – van ‘n tuinslang tot ‘n pap snoek! En by elke parkeerplek is daar ‘n span wat jou kar wil oppas. Ons het gou geleer om soos ‘n perd met oogklappe aan, uit die kar te klim en nie links of regs te kyk nie. As jy oogkontak maak, het jy ‘n karwag in diens. So raak jy nes die stedelinge wat botweg by mekaar verby beur, almal sonder naam.

Dit help ook nie regtig om ‘n karwag met ‘n kopknik in diens te neem nie – buurman, Jan Grey, vertel dat toe hy uit die Kolonnade stap, was sy bakkie én die karwag skoonveld. Buurman sê hy hou van ‘n karwag as hy op Ellispark gaan rugby kyk. As deposito gee hy die man ‘n halwe R100 noot. Indien die wag én sy bakkie ná die wedstryd nog daar is, kry die wag die ander helfte van die R100 noot. Dis nou om in paaiemente te betaal!

‘n Ander ding wat jy nie in die stad doen nie, is om mense te groet. Jy kry ‘n skewe kyk én 'n hand vol vere wanneer jy vir iemand waai. Hier is in elk geval soveel karre, jy sal lyk soos Hitler, as jy die heeltyd so in die ry groet!

Die ander ding is hoe mense ry. Woes man, woes. Dis nie van spasie en “ubuntu” en sulke mooi goed nie. Dis ry om dood te ry en elke man vir homself. Almal druk voor jou in ook. Toe ek myself die ander dag kry, het daar soveel karre voor my ingedruk dat ek terug was in die stadsneef se motorhuis...

En as jy eers op die snelweg is, dan bly jy in jou baan al gaan jy ook staan. Dis nogal pret om wanneer ‘n stadsjaap amper in jou kattebak inry, die briek so liggies te raak – jy sien net hoe “dip” die ou se bonnet hier agter uit jou truspieël se sig uit!

Dis ook nie net van flikkers gooi as die spul van baan verwissel nie. Nee – die klomp gly so gelydelik voor jou in soos ‘n Addo olifant. As jy weer sien, is hy daar.

Die beste ding van die stad, is die pad terug Vrystaat toe!

Nee kyk, dis beter hier gunter in die vlaktes. Hier op ons ou dorpie is die grootste verkeersknoop wanneer ouers hul kinders Vrydae by die skoolkoshuis kom oplaai. En dan word elke wuif ten minste opreg bedoel.

Ou Neef, dit is van die seëninge wat sommer so met ons is en waarvan ons nie altyd notisie neem nie. En dit is om as gemeenskappie búíte die stadspoorte ‘n bestaan te maak.

Groete op die Oosgrens.

Kleinneef

Lesers is welkom om ‘n e-pos aan Kleinneef te stuur by kleinneef@graingrowers.co.za.

Publication: January 2015

Section: Features

Search