• Login
  • Search Icon

Die ysparadys

October 2011

– Oktober 2011

image

Beste Grootneef

Ou Neef, die woeste weste winde het ons vanjaar stukkend gewaai. Kyk, op ‘n stadium het dit geklink of die windpomp gaan opstyg soos die wind deur die wiel se vinne gewaai het. En toe kom die brande...‘n vloedgolf van vuur voor die wind uit. Al ons spaarveld daarmee heen en by Buurman ‘n paar beeste tot niet. Met só ‘n wind kon geen vuurvegter ‘n verskil maak nie. Waar die vuur vandaan gekom het, weet ek nie. Van die bure praat van brandstigting langs die teerpad. As dit so is...kom ons hoop net die lentereën kom gou. Honger diere op swart vlaktes is ‘n vreeslike gesig.

Ek gesels anderdag met neef Andries wat onlangs met die vliegmasjien in Kanada was. Hy vertel wat die ergste was, was die lang dae – 15 ure daglig aanmekaar! As jy in die aand kooi toe gaan, voel dit kompleet of jy ‘n middagslapie vang! Wat ook anders was, is hoe skoon die stede is, nie ‘n vuilgoedsak of ‘n stompie wat rondlê nie. Ek wonder wat sal die Kanadese doen as onse mislikepale stakers deur hul strate vaar, asblikke omdop en aan die brand steek.

Dit bring ons by ‘n ander ding. Neef Andries sê dit is die verveligste van koerante wat hy nog moes lees. Nêrens iets van ‘n minister met korrupsiesous op die vingers, motorkapings of doodslag nie.

Dit sommer so op die sylyn. Wat hom die meeste beïndruk het, was hoe die Kanadese owerhede hul landbou ondersteun. Terwyl hy daar was, het die staat aangekondig dat hul die Kanadese kanolabedryf met ,5 miljoen ondersteun om kanola wêreldwyd te bevorder! Ou Neef, wat dink jy is die kans dat ons goewerment ‘n geldjie sal neersit om ons mielies en koring aan buitelanders bekend te stel!

Maar dit is nie al nie. Wanneer dit kom by navorsing, sit die Kanadese staat neer vir elke wat die bedryf vir navorsing uitskud. Dit is hartseer om hier plaaslik te sien hoe eens trotse LNR-Institute uitmekaar val, met talle kundiges wat die LNR vir die privaatsektor verruil. Duidelik sien die Kanadese besluitnemers die groter prentjie van navorsing wat produsente op die snykant van nuwe tegnologie moet hou.

Die lekkerste vir laaste – die Kanadese boere het ‘n reuse-vangnet onder hul alies. Hulle staat onderhou ‘n versekeringskema vir daardie jare van misoes. Luister mooi, as jy minder as 80% van jou langtermyn gemiddelde oesopbrengs behaal, staan die staat in vir die verskil. Die Kanadese boere brom egter dat die eisproses soms twee jaar neem. Dit klink vir my na manne wat met ‘n witbrood onder die arm kla. Ou Neef, by ons kan jy ramphulp op jou maag skryf en met jou hempie afvee.

So ‘n laaste stukkie om jou aan die dink te sit: die insetverskaffers in Kanada staan bankvas agter hul boere. Hoe klink ‘n aanbod vir ‘n nuwe trekker of implement met zero persent rente op die aankoop daarvan, boonop met vier jaar om dit terug te betaal!

Ou Neef, my volgende vraag aan Buurman was wat kos grond in Kanada. Ek val toe amper op my rug – nie veel meer as in die Suid- en Wes-Kaap nie. Jy kan vir jou ‘n lekker plaas uitsoek vir ongeveer R30 000/ha! In die meer afgeleë gebiede kan jy nog ‘n grondjie loskoop vir ‘n skamele R6 000/ha. Vergeet van Afrika kêrels, wat van die groot trek Kanada toe! Daar is egter, soos alles in die lewe, ietsie vir die fynskrif. Die tydperk van plant tot oes beloop net vyf maande. Vir sewe maande sit jy en Mamma op -40°C vasgeys. Dit kan ‘n geneuk afgee...

Nou wat maak dié manne in die winter? Die staat bied konsessies aan boere om ‘n deel van die padnetwerk in hul omgewing van sneeu oop te skraap! Jy kan maar sê boerdery daar is eintlik deeltyds, want dit duur net vyf maande en vir die res van die jaar hou jy jou met ander goeters besig.

En as die prys van koring nie vir jou reg klink nie, verbrand die Kanadese dit sommer in die winter vir hitte, dit is steeds aansienlik goedkoper as gas!

Ou Neef, terug ter plaatse met ‘n verskroeide swart aarde om ons. Ek sal nie maklik Afrika vir die Kanadese se yl sonnetjie verruil nie. Maar feit soos ‘n koei – dit sal darem ‘n aangename verskil maak as ons eie goewerment, soos dié van die Kanadese, hul boere koester!

Groete op die Oosgrens.

Kleinneef

Publication: October 2011

Section: E-mails

Search