• Login
  • Search Icon

Die stil opbrengsdief wat soms ‘n ander baadjie dra

November 2017

PIETMAN BOTHA, SA Graan/Grain medewerker

Grondkompaksie is ‘n aspek wat algemeen deur produsente oor die hoof gesien word en sodoende, sonder dat hulle dit besef, heelwat opbrengs prysgee. “Dit is nie by my ‘n probleem nie; die gebruik van profielgate is mos net vir ander mense,” hoor ‘n mens gereeld. 

Grondkompaksie is in die meeste gevalle ‘n mensgemaakte manier om die gronddiepte te beperk. Gronddiepte is een van die hoekstene van produksie en grond wat te vlak is, versuip of verdroog eerste. 

Foto 1 is ‘n klassieke voorbeeld van ‘n ploegblad of ondeurdringbare laag. Die plantwortels kon nie die vog aan die onderkant van die laag bereik nie en is besig om te verdroog. 

Die korrekte metode om grondkompaksie op te hef, is net so belangrik as om te besef dat grondkompaksie aanwesig is. Toets die impak van die implemente deur die grond oop te grawe waar die implement gewerk het en maak seker dat die grondverdigting deeglik en reg opgebreek is (Foto 2). Bewerking van die lande teen die regte vogstatus is krities om die gewenste opbrekingseffek te verkry. 

Grondkompaksie is een van die aspekte waarop ‘n produsent regdeur die seisoen moet fokus. Dit help absoluut niks jy breek die 
grond op en trap dan weer die grond met trekkers vas nie. ‘n Algemene persepsie is dat dit net trekkers is wat die grond vastrap en dít is waar die fout gemaak word. 

Implemente se effek
Die impak van implemente word maklik buite rekening gelaat en veral met die hedendaagse neiging om groter en swaarder implemente te sleep, lewer dit ‘n reuse-bydrae tot grondkompaksie. Die groot, swaer tapkarre is ook sondaars van grondkompaksie. Wees verder bedag op die gebruik van swaar planterkunsmis- en saadkarre. 

Spoorverkeer was en is ‘n stelsel wat spesifiek ontwikkel is om grondkompaksie aan te spreek. Die trekkers het almal in dieselfde spoor geloop. Sodoende is die grondkompaksie beperk en dit het bygedra dat die brandstofverbruik per hektaar verminder het. 

Die groot geeste wat hierdie stelsel ontwikkel en uitgedra het, was manne soos mnre Carel Koch, Martiens du Plessis en talle ander – en dit het mielieverbouing op ‘n nuwe vlak geplaas. Vandag moet herbesin word oor hoe die groot, nuwe implemente spoorverkeer-vriendelik gebruik kan word en wat gedoen kan word om grondkompaksie te verminder.

Oorweeg dít
Daar is verskeie metodes om te oorweeg. Een hiervan is om die gewig van die implemente so laag as moontlik te hou. Deur op die wenakker die stroper leeg te maak of die planter vol te maak, sal verseker tyd verg, maar die kompaksie wat die stroper of planter veroorsaak, gaan drasties verminder word. 

Deur die ritte oor die land tot die minimum te beperk en om ernstig aan die wielgrootte, wielwydtes, soorte bande en banddruk aandag te gee, lewer verseker ‘n bydrae tot verminderde kompaksie. Met die aankoop van implemente moet produsente beslis heelwat aandag aan hierdie aspekte gee. Hoe groter en hoe wyer die wiele, hoe groter die grondkontak en hoe minder die kompaksie. 

In die afgelope jare is daar ook die nuwe geneigdheid om trekkers en implemente op rusperbande te laat loop. Hierdie moontlikheid sal verseker die impak van trekkers en implemente op die grond verminder. Daar is egter ‘n ander implement wat ook beduidende skade aan die gewasse kan berokken. ​​​​​​​

Planters
Die planter word meestal oor die hoof gesien en tog kan die planter met al sy skottels heelwat smering veroorsaak – wat die plante se wortels erg kan benadeel. Grondvog is krities: Pasop om in té nat grond te plant. 

Indien dit verkeerd gestel is, kan die planter en veral die diep­tebeheerwiele tot ‘n groot mate tot onverwagte kompaksie en wortelbeperkings aanleiding gee. Indien die planterkarretjie se druk te min is, word die pitte te vlak geplant en as die druk te hoog is, verhoog dit die druk op die dieptebeheerwiele dramaties – wat weer tot kompaksie teenaan die saad aanleiding kan gee. Hierdie twee aspekte is direk verantwoordelik vir oesverliese. 

Amerikaanse navorsing
Navorsing wat in Amerika gedoen is, het bevind dat produsente hierdie aspek heeltemal onderskat. Proewe wat daar gedoen is, het ook interessante resultate getoon. In Tabel 1 word die resultate van ‘n proef wat by Beck’s Central Illinois Independent Practical Farm Research in 2010 gedoen is, weergegee. In hierdie proef is die gewig of die druk van die planterkarretjie op ‘n bewerkte land gevarieer en die resultate in die opbrengste geoes, gemeet. 

‘n Behandeling is ook ingesluit, naamlik die pneumatiese verander­like drukbeheer (air force variable rate) waar die planter toegerus is met ‘n meganisme wat die plantdiepte en druk op die planterkarretjie altyd konstant hou. 

Uit hierdie resultate is dit duidelik dat die druk op die karretjie reg gestel moet wees. As die druk van die planterkarretjie op die grond te min of te veel is, het dit tot opbrengsverliese aanleiding gegee. Maak seker dat die vere wat die druk op die karretjie beheer, reg gestel is volgens die grondtoestand en doen moeite om dit gereeld by ‘n verandering in grondtoestande aan te pas. 

Druk van planterkarretjies
Verskeie maatskappye bied tegnologie rakende die regulering van die druk van die planterkarretjie op die grond. Cerealis Precision op Lichtenburg is ‘n voorloper wat hierdie tegnologie betref. In samewerking met Monsanto is hulle tans besig met proewe om hidrouliese drukbeheer (delta force) se effek by Bothaville op die proef te stel.

Hidrouliese drukbeheer word gebruik om die planterkarretjie-eenhede se druk op die grond te beheer sodat ‘n egalige plantdiepte verkry word sonder om te veel kompaksie langs die plantervoor te laat. 

Hierdie meganisme gebruik ‘n weegpen om die druk wat die planterkarretjie op die grond uitoefen te meet en dan self die druk aan te pas. Die stelsel neem 200 keer/sekonde ‘n lesing wat ‘n hidrouliese silinder in die parallelarms van die planterkarretjie laat beweeg. 

Die hidrouliese silinder sal ongeveer vyf keer per sekonde reageer om druk by die karretjie te voeg of te verminder. Sodoende word die korrekte plantdiepte gehandhaaf sonder om regtig verdigting deur die drukwiele te kry. Hidrouliese drukbeheer se doel is om ‘n betreklik meer eenvormige opkoms te verseker deur ‘n egalige plantdiepte te handhaaf sonder om die grond te kompakteer. 

‘n Planter se toetrapwiele kan produsente ‘n wavrag vol geld kos. Indien die toetrapwiele van ‘n planter verkeerd gestel is, kan dit ook tot opbrengsverliese aanleiding gee. Verkeerd-gestelde toetrapwieletjies kan die grond onder die pit kompakteer – wat veroorsaak dat die plantjie se wortels sukkel om deur te verdigting te kom, maar die eintlike probleem is dat die saad nie deeglik met die grond kontak maak nie en sodoende is die opkoms van die plante betreklik oneweredig. Hierdie oneweredige opkoms van  die plante gee aanleiding tot oesverliese. 

Toetrapwieletjies
Planters se verstellings verskil van mekaar, maar in wese kom dit daarop neer dat as ‘n denkbeeldige lyn getrek word, wat met die hoek van die toetrapwieletjies volg, die twee lyne mekaar presies op die plantdiepte moet kruis. In Foto 3 moet lyne AB en CD mekaar presies op die pit kruis. 

Hoe dieper geplant word, hoe wyer moet die wieletjies uit mekaar wees. Maak seker dat die wieletjies presies ewe ver van die middelpunt is en dat die pit presies in die middel van die wieletjies geplaas word. Dit is belangrik dat produsente weer die planter se handlei­ding raadpleeg om presies te weet hoe die wieletjies gestel moet word.

Vir meer inligting kan Pietman Botha by 082 759 2991 gekontak word.

Publication: November 2017

Section: On farm level

Search