• Login
  • Search Icon

Die staakseisoen

November 2012

– November 2012

image

Beste Grootneef,

Die Augustus-winde het dwarsdeur September bly waai. Ek hoop tog dat die weste winde hier by ons sal kalmeer, met lekker reën vanaf Oom Paul se verjaarsdag. Ek hoor die manne in die ooste het reeds begin met plant, nadat hulle heerlike vroeë lentereën ontvang het. Op my werf staan die ysters reg in ‘n ry, geolie en gespoor vir die nuwe seisoen. Ons wag net vir daardie lekker bui reën om die bolaag goed nat te kry. Ou Neef, dié jaar plant ons hom hoekpaal tot hoekpaal...

In die stede lyk dit vir my ook na ‘n ander soort plantseisoen! Hulle noem dit bloot staakseisoen. Op die TV sien ‘n mens die geroer en rumoer, met mense met plakkate wat uitbasuin dat die nuwe loon ‘n R12 500 vir ieder en elk op die laagste vlak moet wees. Strate word bemors en bome se takke afgeskeur. Fluitjies blaas en voete trap ritmies die vakbond-vastrap dat die stof so staan. Berigte van donker intimidasie sypel ook deur, naamlik dat dié wat nie wou staak nie, nou in ongevalle lê.

In ons ou dorpie was daar ook anderdag ‘n optog, so in die gees van die staakseisoen. Die storie lyk nogal na harde werk met al die gesing en voetestamp. Ek het maar voor die poskantoor bly staan tot die span verby is. Ek verstaan nie die taal so heeltemal nie, maar dit het geklink of die voorste groep sing van “equal rights”, die middelste groep in die optog oor “electric lights” en die klomp agterosse oor “big corn bites”...Behalwe vir die klompie asblikke wat omgekeer is, was daar darem nie veel skade nie.

Ou Neef, die plaas en die stilte van die aand is gelukkig ver weg van die gedruis. Maar ek wonder tog waar alles sal eindig. Ek meen, ‘n salaris van R12 500 is nie te versmaai nie, maar as ek dit vergelyk met dié van ‘n onderwyser op ‘n plattelandse dorpie, ontvang myners op die laagste vlak nou meer as ‘n onderwyser met ‘n graad!

In onse land is daar tog ‘n magdom mense wat bitter graag ‘n vaste werkie sou wou hê en hul voortande vir die geleentheid sal gee. Dan skud jy maar net jou kop in ongeloof oor die roekelose manier waarmee sommige werkers met hul werksgeleentheid omgaan.

‘n Mens weet ook nie hoe werk die somme nie. As die “geen werk en geen betaling”-beginsel nog toegepas word en die manne bly twee tot drie weke van die werk af weg sonder ‘n loon, moet só ‘n persoon ‘n hele paar maande werk om die “verhoging” wat losgestaak is, weer in te haal. Soos ek egter sê, sommige dinge sal ons seker nooit hier in die platteland verstaan nie. Dankie tog dat ons ons brood hier kan verdien.

Dit lyk ook of die tollenaars hul tande sit en slyp vir die duisende motoriste wat elke dag deur die talle tolhekke beweeg. Tans is hierdie hekke sonder byt, maar hierdie heuningpot van inkomste sal seker nie vir altyd kan toebly nie. Ons sal maar moet sien wat gebeur met die hofsake waar gestoei word vir die deksel van hierdie heuningpot.

Ou Neef, genoeg hiervan. Die stryd om die Kerriekoppie raak nou interessant! Die Leeus slaan die tamboer lekker hard in die plaaslike kompetisie, sedert hul plek vir die Oos-Kaapse Kings moes maak in die Supertoernooi. Ek moet sê, self is ek nou nie ‘n Leeu ondersteuner nie, maar ek hou nogal van hoe die Leeus hulle ding hierdie jaar doen. Ek sien nogal uit na die eindstryd! Dit gaan ‘n grote wees...

Groete op die Oosgrens.

Kleinneef

Publication: November 2012

Section: E-mails

Search